Alta Cloete: ’n Kop vol stories


Aangename kennis 

 Al word daar na Alta Cloete as ’n Bolandse skrywer verwys, is sy in hart en wese ’n Karookind wat op ’n plaas naby Sutherland grootgeword het. Haar pad het met boeke gekruis op die Karooplaas waar sy juwele soos Oupa Landman se viool tussen haar vyf ouer susters se voorgeskrewe boeke ontdek het. Na haar studies was sy ’n tyd lank bibliotekaresse en ’n graad R-juffrou voordat sy begin skryf het. Uit haar pen het meer as vyftig tydskrifverhale, 12 romanses en nege romans in Afrikaans verskyn en haar bydrae tot Afrikaanse ontspanningslektuur is groot. Alta en haar man Schalk, woon al byna 40 jaar in die Paarl. Hulle het twee volwasse seuns wat albei in die buiteland woon en werk. Tussen haar skryfwerk ruim sy tyd in vir ander liefdes, soos lees, haar troeteldiere, en goeie musiek, onder andere dié van Bruce Springsteen. 

Hoe lyk haar Afrikaans?

In Alta se woorde is haar Afrikaans kraakvars, modern, veelkantig en propvol woema. Tog lê haar liefde vir die taal diep in die klipperige aarde van die Roggeveld geanker waar sy kleurryke Afrikaans saam met haar moedersmelk ingekry het.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Alta sê haar gedagtewêreld, haar gevoelswêreld, haar kreatiwiteit en haar diepste kern is in Afrikaans gegrond.

Haar projek:

In 2009 het Alta besef dat baie mense eerder Engelse fiksie lees omdat hulle nie bewus is van die goeie gehalte Afrikaanse fiksie wat wel beskikbaar is nie. Sy het ’n groep op Facebook begin – Kom ons lees weer Afrikaans – en die groep het tans meer as 5 000 lede. ’n Ander Facebookgroep wat sy begin het, is Afrikaanse boeke vir die jongklomp waarmee sy ’n bewustheid van nuwe kinder- en jeugboeke skep. Alta blog gereeld oor Afrikaanse boeke op haar persoonlike blog by www.altacloete.wordpress.com. Alta lewer heelwat boekpraatjies by leeskringe en biblioteke, dikwels in voorheen agtergeblewe gebiede waar daar steeds ’n groot behoefte aan Afrikaanse leesstof is. Sy is ook betrokke by verskeie projekte waar boeke en stories aan kleuters gebring word. Haar nuutste boek is Net ’n mens, wat in 2016 by LAPA verskyn het.

Sluit aan by haar Facebookgroepe:
www.facebook.com/groups/46583772414 en www.facebook.com/groups/1435466360108982
of stuur ’n e-pos aan alta1@telkomsa.net