Armand Aucamp: Hy vermaak en droom in Afrikaans


Aangename kennis

Armand Aucamp is ‘n Suid-Afrikaanse akteur wat tans vanaf Kaapstad, Johannesburg en Los Angeles werk. Hy het in 2009 sy graad in Media en Kreatiewe Kuns aan City Varsity School of Media voltooi en was eerste in sy klas.

Sedertdien het hy in televisie, film, teater en radio gewerk. Die afgelope ses jaar het Armand verskeie projekte in Suid-Afrika asook in die buiteland aangepak. Dit sluit in die teaterproduksie, Mary and the Conqueror, waarin hy die rol van Alexander die Grote vertolk het.

Sy verskyning op die verhoog sluit in sy rol as Iago in Othello, deur regisseur Mary Dreyer, sy verskyning in Bladsy 3 deur regisseur Vicky Davis en sy rol in Huis toe, ‘n Afrikaanse weergawe van Harold Pinter se bekende The Homecoming, deur regisseur Henry Milne. Hy het ook die rol van Cardenio in die Maynardville-produksie van Shakespeare’s Lost Play, vertolk.

Meer onlangs het Armand in die TV-reeks Sterlopers gespeel en ook sy verskyning op die kassie gemaak in rolle in Pandjiewinkelstories, HBO se Homeland Season 4 asook die CBC-televisiereeks The Book of Negros, met Cuba Gooding Jr en Aunjanue Ellis, wat in Kaapstad en Kanada geskiet is.

Hy het ook in verskeie internasionale films, insluitend Mandela: Long Walk to Freedom, 21st Century Fox se Chronicle, BBC se Mankind en Gavin Hood se Eye in the Sky verskyn. Plaaslik het hy aan die films Knysna en Die Ontwaking gewerk, en ook sy verskyning as medester saam met Nataniël in die welbekroonde kortfilm, Almon, Henry gemaak.

Armand se grootste plaaslike sukses was sy manlike hoofrol as Jacques Rynhard in Leon van Nierop se Ballade vir ‘n Enkeling, ‘n fliek gegrond op die treffer-TV-reeks van die jare tagtig. Sy grootste uitdaging tot dusver was sy rol as Jan van Riebeeck in die nuwe fliek, Krotoa wat in 2017 internasionaal uitgereik word.

Hy is tydens die 2016 Huisgenoot Tempo-toekennings aangewys as “Akteur van die Jaar” vir sy rol as Tom in die suksesvolle KykNET-reeks, Die Boekklub.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Armand leef in Afrikaans deur sy werk; deur stories te vertel en karakters aan die wêreld voor te stel. Om mense weer die geleentheid te bied om in Afrikaans vermaak te word en weer in Afrikaans te begin droom.

Sy projek:

“Ek sal graag Afrikaans op 'n internasionale platform verteenwoordig, maar ook plaaslik die taal en kultuur op 'n kontemporêre manier bevorder.” Dit kry hy uitstekend reg met al sy uitstaande televisie-, film- en verhoogrolle.

Volg Armand op:

Facebook: www.facebook.com/armand.aucamp1
Instagram: www.instagram.com/armandaucamp/
Twitter: @armandaucamp