Heleen Meyer: Kosmaak in Afrikaans is soveel lekkerder!


Aangename kennis 

Heleen Meyer is ’n onafhanklike koskonsultant wat weet hoe om geure bymekaar te sit en te eksperimenteer met smake en bestanddele. Nadat sy gematrikuleer het aan Hoër Meisieskool Paarl het sy ’n graad in huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Haar loopbaan het afgeskop as assistent vir die kosredakteur by die tydskrif Sarie waar sy besonder baie geleer het. Heleen het vroeg reeds besluit om haar belangstelling in die bemarkings- en kommunikasiewêreld te kombineer met haar liefde vir kosmaak en sy het in die verlede dikwels haar kosgeheime op RSG en ander radiostasies gedeel. Sy fokus graag op gesonde eetgewoontes in meeste van haar werk, of sy nou die spreker by ’n praatjie is, ’n kosdemonstrasie doen, resepte vir ’n kliënt ontwikkel, of op radio of televisie gesels. Sy is getroud met Herman en hulle het twee kinders, Inge en Armand. Die gesin woon in Kaapstad en sy geniet dit om in die natuur saam met haar gesin te wees. Sedert Mei 2016, is sy ook ’n gereelde gesig op kykNET se Groot Ontbytprogram op ’n Maandagoggend. ’n Goeie bord kos, ’n lekker glas wyn of vonkelwyn en ’n ordentlike koppie koffie is van die groot kosvreugdes in haar lewe.  

Hoe lyk haar Afrikaans?

Kleurvol, kreatief en smullekker! Sy is dol oor die mooi Afrikaanse woorde vir sommige bestanddele en geregte.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sy leef Afrikaans in alles wat sy doen: sy dink, droom (bedags en saans), hê lief, bid en word kwaad in Afrikaans. Wanneer sy regtig ’n geur of kombinasie wil beskryf, kan sy dit die heel beste in Afrikaans doen.

Haar projek:

Heleen is die outeur van twee internasionaal bekroonde resepteboeke, Onthoukos/Food from the heart en Kos is op die tafel, beide deur Lapa Uitgewers uitgegee, en in haar nuutste kosboek, Maak vyf/make five (Human&Rousseau) deel sy interessante variasies wat met dieselfde bestanddele gemaak kan word. Dis vir haar heerlik om mense te leer wat die korrekte Afrikaanse kosterminologie en benaming vir bestanddele is. Met haar weeklikse kos-insetsel op die Groot Ontbyt op kykNET, deel sy gesonde kosblik-idees en resepte vir die hele gesin.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Heleen by heleen.m@iafrica.com of skakel haar by 021 531 0077.
Besoek www.heleenmeyer.co.za
Twitter: @heleenmeyer