Marelize Swanepoel: ’n Afrikaans-juffrou wat oorloop van entoesiasme

Aangename kennis

In Graad 6 in Laerskool Elsburg het Marelize Swanepoel se pad gekruis met die van juffrou Isabelle Spies wat by haar ’n onblusbare liefde vir boeke en lees aangevuur het. Nadat Marelize haar matriek voltooi het aan Hoërskool Elsburg, het sy aan die RAU, nou UJ gaan studeer. Met haar BA-graad in Taalpraktyk in die sak, skaars 21 jaar oud, is sy behoorlik aan die diepkant ingegooi toe sy by Florida Park High School aangestel is om Afrikaans Eerste Addisionele Taal te onderrig. Sy het gou onder die indruk gekom van die talle leemtes wat daar in die onderrig van Afrikaans as Eerste Addisionele Taal is en het reeds in haar eerste jaar by die skool ’n Afrikaans-werkswinkel vir haar kollegas aangebied. Sedert die begin van 2017 werk sy as 'n tutor aan die Universiteit van die Witwatersrand se Opvoedkunde-kampus waar sy Afrikaans aan tweedejaar en derdejaar studente onderrig. Sy het ook as gasheerdosent by die Universiteit van Johannesburg opgetree en Afrikaans Taalkunde vir vierdejaar vakdidaktiekstudente gegee.  Marelize is getroud met Adriaan en hulle het ’n dogtertjie, Monja. Marelize werk as spreker saam met die ATKV se Skitter-in-Afrikaans-werkswinkels en was ook medeaanbieder by die UJ/ATKV-Meertaligheidsweek-werkswinkel vir Afrikaans-onderwysers wat in Soweto klas gee. In 2018 begin sy met haar Meestersgraad in Afrikaans met die fokus op Vakdidaktiek. 

Hoe lyk haar Afrikaans?

Al is Marelize se Afrikaans sterk akademies, is dit kleurvol en gelaai met beeldspraak. Haar Afrikaans word geken aan haar kreatiewe en entoesiastiese aanbiedingsmetodes.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Marelize leef haar liefde vir Afrikaans uit as onderwyser en spreker. Sy skryf gedigte wat sy op haar blog, https://omsintemaak.blogspot.co.za/ publiseer en hoop om nog eendag haar droom van ’n eie digbundel, waar te maak.

Haar projek:

Nadat Marelize in die praktyk agtergekom het hoe min hulpbronne daar vir Afrikaans Eerste Addisionele Taalonderwysers en -leerders beskikbaar is, het sy besluit om hier ’n verskil te maak. Sy het ’n webwerf, www.swanies.co.za, ontwerp wat dien as platform om gratis Afrikaanse Huistaal- en Eerste Addisionele Taal-hulpbronne en metodiek aan onderwysers en leerders te verskaf. Die webwerf is binne ’n tydperk van twee maande 14 000 keer besoek. Marelize voel sterk dat Afrikaans soos ’n Wiskundeformule werk en glo ook dat leerders met inhoud gebombardeer word wat hulle moet memoriseer, terwyl dit veel beter sal wees om hulle met metodes te bemagtig ten einde enige inhoud te kan baasraak. By die Afrikaanse Taalraad se Koker-toekenningsfunksie in November 2017 is Marelize met 'n erepenning vereer vir die werk wat sy met haar webblad doen.  

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan juffroumarelize@swanies.co.za of besoek:

https://www.youtube.com/watch?v=OY09CUlQoNw&feature=youtu.be

www.swanies.co.za
https://omsintemaak.blogspot.co.za/
http://1477521.igenapps.com/vokaalhuisies#0
https://www.facebook.com/JuffrouMarelizeSwanepoel/