Schalk Bezuidenhout: Hy sit n glimlag op jou bakkies


Trek jou been, 3-in-1!

Drie Afrikaanse komediante uit drie generasies op een verhoog in ʼn unieke kombinasie van skerpskerts en improvisasie. Klink dit nou nie na pret nie? Die baie gewilde 3-in-1 vertoning met Hannes Brümmer, Casper de Vries en Schalk Bezuidenhout het gehore by die KKNK en die pas afgelope Vrystaat Kunstefees behoorlik die lagtrane laat afvee. Al drie komediante is saam op die verhoog vir 90 minute. Elke vertoning is uniek, want die gehoor kan temas en onderwerpe gee vir improvisasie. Kom verkneukel jou in vlymskerp en skreeusnaakse interaksies en kommentaar oor Afrikaanse feeste, rolprente, musiek, advertensies, middernagtelike skommelinge in die kabinet, ouerskap, die diereryk en sommer die lewe self. Klik hier vir kaartjies na Vrydagaand, 28 Julie se vertoning by Silverstar Casino en hou hul FB-blad dop vir datums vir volgende optredes.

Aangename kennis

Skerpsketskomediante in Afrikaans is redelik dun gesaai maar ’n komediant wat gehore gereeld laat skaterlag, in Engels of Afrikaans, is Schalk Bezuidenhout. Hy het al die voorreg gehad om vir Trevor Noah sy voorvertonings te doen. Schalk het grootgeword en skoolgegaan in Kempton Park, maar het aan die Universiteit van Kaapstad studeer waar hy ’n honneursgraad in drama voltooi het. Hierdie komediant hou soms sy lyf akteur en was ook al in verskeie televisieadvertensies te sien. Tydens die 2015 Klein Karoo Nasionale Kunstefees is Schalk met die Slurpie-prys vir die beste opkomende kunstenaar benoem. Schalk kan altyd uitgeken word aan sy interessante retro-klere waarvan die meeste tweedehandse uitrustings is. Naas komedie, sy meisie, sy truie en sy ouers, lê sy snor hom na aan die hart. ’n Mens wonder net of jy hom regtig ooit ernstig kan opneem. 

Hoe lyk sy Afrikaans?

“Soos ’n skoenlapper wat khaki’s dra,” skerts hy. Afrikaans is vir hom ’n wonderlike taal en humor in Afrikaans is iets besonders. Dikwels maak hy ’n grap in Afrikaans, wat net nie in Engels sou werk nie.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Vir Schalk is dit besonder lekker wanneer daar die geleentheid is om Afrikaanse skerpsketskomedie te doen, want daar is maar min geleentheid daarvoor. Tog gebruik hy Afrikaans op ’n baie effektiewe manier in sy vertonings. Schalk hou daarvan om met sy komiese sketse stereotipes te besweer. Saam met die res van sy familie haal hy altyd vir Ouboet (Frank Opperman) van Orkney Snork nie aan, wat sê: “Mense wat dink hulle is donners smart, is nie altyd so donners smart nie.”

Schalk se projek:

Schalk hoop om toenemend Afrikaanse gehore by sy komedievertonings te sien, want dis die enigste manier om te verseker dat hierdie genre kan groei. Party dinge is mos nou maar net lekkerder in Afrikaans.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Schalk by schalkbezuidenhout1@gmail.com

Lees meer op Netwerk24 hier