Simon Witbooi: Hemelbesem se wortels lê in Namakwaland


Aangename kennis

Simon Witbooi dra vele hoede, letterlik en figuurlik. Simon, oftewel Hemelbesem, is ’n kletsrymer, skrywer, akteur, TV-aanbieder, motiveringspreker en maatskaplike aktivis. Hy is ’n afstammeling van Hendrik Witbooi, die Nama-leier. Simon, wat in baie moeilike omstandighede grootgeword het, het hip-hop as ’n uitlaatklep gesien om van die opgekropte woede oor maatskaplike ongelykhede ontslae te raak, want met hierdie genre kry jy veel meer woorde ingepas as in die beperkte formaat van gewone liedjies. Alhoewel hy in Engels begin kletsrym het, het hy gou die moontlikheid van Afrikaanse kletsrym raakgesien en hom daarop toegespits. Simon verwys na homself as ’n edutainer wat met ’n optrede of luistersessie mense se gedagtes in ’n opvoedkundige rigting stuur. Sy musikale teaterproduksie, Die Afrikaansvatter, is tydens 2016 se KKNK met ’n Kanna-toekenning bekroon. In 2017 verskyn daar twee boeke uit sy pen: een ’n bundel lirieke en die ander ’n boek oor Afrikaanse straattaal en gesegdes. Simon is in Mei 2016 met ’n mede hip-hopkunstenaar, YOMA, getroud. Hy is ook die trotse pa van twee dogters, Simile en Halo.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Simon sê sy Afrikaans is ’n interessante mengsel van dit wat jy wel in die WAT kry en straattaal. Hy probeer juis om met sy Afrikaans brûe te bou. Alhoewel hy sy Namakwalandse tong met die jare verloor het, geniet hy die Namakwalands wat sy pa en sy anties praat en weet hy dit is waar sy wortels lê.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Simon leef Afrikaans deur sy musiek. Vermaaklik en opvoedkundig, dit is sy musiek. Van sy rubrieke verskyn in Afrikaanse publikasies en hy is een van Pasella se aanbieders.

Sy projek:

Simon het as Hemelbesem ses hip-hopalbums vrygestel: Dink ’n Bietjie, Auto-Bio-Grafie, Die Worcester Standard (2009), Evil is Maklik (2010),UWIL ISI MAKLIKI (2011) en HEMELBESEM (2014). Hy is betrokke by die ATKV se projek, Woorde open Wêrelde, wat skoolkinders aan digkuns blootstel. Hy is ook betrokke by die ATKV se Liedjieslypskool wat mense reg oor die land aanmoedig om in Afrikaans te skep.

Simon oor Afrikaanse kletsrym:

In 'n artikel op Litnet gesels Simon oor sy nuwe boek God Praat Afrikaans, en spreek hy ook die mening uit dat kletsrym as 'n platform gebruik kan word om Afrikaans te verruim en te laat groei. 

Maak gerus kontak:

Volg Simon op Facebook www.facebook.com/hemelbesem of stuur ’n e-pos aan info@blmmusic.co.za