Selfontdekking is jou voorland, en hoe gouer jy dit kan leer doen sonder om op ander mense se rug te ry, hoe beter – maar jy kan dit ook doen deur ander 'n ogie te laat hou terwyl hulle weet jy't 'n plan wat kan werk in jou sak naby jou hart.
Neem jou potlood en papier en skryf byvoorbeeld neer:
- Ek wil by vriende of familie gaan woon en op 'n plaas of oord of fabriek werk waar ek iets kan leer wat my interesseer.
- Ek wil vir kos en verblyf gaan werk op 'n kibbutz in Israel.
- Ek wil gaan klasgee in Engels in 'n land soos Sjina of Brasilië.
- Ek wil au pair wees en kinders oppas in Europa, VSA of Kanada.
- Ek wil leer om vir oumense te sorg en hulle op verre reise te vergesel.
- Ek wil oorsee in 'n herberg, kroeg of kantoor gaan leer funksies organiseer.
- Ek wil 'n kok of handige hansie op 'n seiljag leer wees.
- Ek wil in 'n visfabriek in Ysland werk.
- Ek wil oorsese toeriste by 'n luukse oord met sport en –speletjies vermaak.
- Ek wil as kelner op 'n luukse passasierskip werk.
- Ek wil gaan vrugte pluk op 'n plaas in die Koue Bokkeveld.
- Ek wil 'n jaar lank beplan en werk aan my padstal-met-'n-verskil waar ek wil somerprodukte verkoop waarvoor almal sal terugkom.
- Ek wil in 'n rondawel op my oom se plaas gaan woon en help oes terwyl ek aan my TV-jeugverhaal skryf.
- Ek wil op 'n wildsplaas leer hoe om renosters teen diewe te beskerm.
- Ek wil aansluit by 'n gemeenskapsgroep en help om armes se lot te verbeter.
- Ek wil Italiaans aanleer deur op 'n olyfplaas aan die Meditireense kus te werk.
- Ek wil tuisbly en naby die huis los werkies doen en met my ouers se finansiële steun 'n oriënteringskursus in my droomwerk doen.
- Ek wil tuisbly en by 'n universiteit 'n brugkursus doen om my op my eie lewe voor te berei terwyl ek self vir die kursus betaal met kelnerwerk of so iets.
Wat jy ook al hier met potlood en papier besluit, kan 'n baie, baie positiewe invloed op jou brugjaar, loopbaan en lewenskeuses hê!










