• Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size
Druk

Hoe kan ek vlieg sonder om later duur te betaal?

brug7Skets eers self jou droomplan oor jou brugjaar op papier.

Waar sou jy vir 'n paar maande die graagste wou woon, speel en leer om te oorleef? Gee jou verbeelding vrye teuels. Toets jou droom aan die werklikheid en neem jou talent, huidige skoolpunte en vermoë om geld te verdien in ag. Het jy al ooit tevore alleen 'n eie groot projek aangepak en deurgevoer?

Het jy al ooit gereeld jou eie bed opgemaak, toebroodjies gepak, wasgoed gewas, klere gestryk, skottelgoed opgeruim en inkopies gedoen –  met selfverdiende geld?

Kan jy motor bestuur en 'n spaarwiel omruil? 
Kan jy 'n ete vir vier voorberei sonder om die kombuis te verwoes of om hulp te roep?
Het jy 'n paspoort?

Moenie te groot skrik as jy uitvind jy is nog meer donskuiken as wat jy wil erken nie, maar as jy nou begin om jou vere reg te skud, kan jy wel leer vlieg sonder om 'n jaar later met skuld en skande te sukkel.

Dis nie altyd 'n skande om as kind deur ouers bederf te word nie, maar om as jongmens sonder rigting of inkomste op ouers te teer, skep geen goeie grondslag vir selfverwesenliking nie. 

Kies een van vele moontlikhede om veilig te leer vlieg – party kos geld en entoesiasme, ander kos entoesiasme en dryfkrag. Jy moet jouself nog op talle gebiede leer ontdek – al is jy reeds selfstandig op ander maniere. 

Jy kan baie probleme omseil deur 'n universitêre brugjaar-kursus wat jou help om vaardighede aan te leer binne 'n struktuur wat jou saam met ander opwindende jongmense help om jul voete te vind. Jy is nie alleen nie.

Kyk ook na internasionale uitruilprogramme, leerderskapprogramme by kolleges, vrywilligersprogramme by kerke en gemeenskapsorganisasies, internskappe by staatsinstansies, asook deeltydse werk by plekke soos wildtuine, groenteplase en vakansieoorde.

 

Media24 Naspers culturalaffairs DGMT Rupert Stigting Die Burger Het Jan_MArais_Nationale_Fonds dagbree