’n Opwindende nuwe manier van opleiding is die sogenaamde SETA’s, Engelse afkorting vir Sector Education and Training Authorities. SETA’s bemagtig veral voorheen agtergeblewejongmense om hul plek in die samelewing in te neem en met selfvertroue vol te staan.
SETA’s is deur die regering beding om ons hoë voorkoms van ongeletterdheid hok te slaan terwyl dit algemene nywerheidsvaardighede ontwikkel, gemeenskapsgees bou en die vlak van opleiding onder alle vakgeleerdes wil verhoog.
Jou vyand is onkunde, wat saam met skaamte woede word
Jou vyand is woede, wat deur kwaai vriende dwelms word
Jou vyand is dwelms, wat saam met lamlendigheid ellende word
Jou vyand is ellende, wat deur sleurvoetigheid armoede word
Jou vyand is armoede, wat saam met diefstal tronkstraf word
Jou vyand loop so die ronde nul, die sirkel van onkunde tot ondergang
Jou vyand is onkunde – kunsmis van leuens. Onkunde is jou ondergang.
Staan op en kry kennis, kennis, wat saam met jou drome ’n lewe word.
Raak van onkunde ontslae
SETA’s staan reg om jou te help om jou voete te vind!
SETA’s is nie-winsgewende bedrywe wat befonds word deur die 1% Vaardigheid-ontwikkelingsheffing wat die regering van alle sake-ondernemings invorder. Só word spesifieke nywerhede gerugsteun deur die geld daarin terug te ploeg en mense op te lei om teikenberoepe in daardie spesialisvelde te volg.
As jy wil leer word gewys hoe om gou geld te verdien
Talle loopbaansentra is spesifiek gerig om maatskappye wat heffings getrou betaal, te help deur hul personeel aan te vul met nuwe kandidate wat kwalifiseer om in daardie sektor te werk. Met ander woorde, jong mense word gesoek om hul spesifieke talente by toepaslike nywerhede te ontwikkel dmv leerderskappe en vaardigheidsprogramme wat ontwikkel is om aan gespesifiseerde behoeftes te voorsien. Maar dis nie al nie…
Jou eerste goeie werk
Hierdie SETA’s kan jou boonop help om ná jou leerderskap ’n vaste werk te kry!
Niemand kan uiteraard vaste indiensneming waarborg nie, maar werkgewers neem gereeld vakleerlinge in diens met die oog daarop om die beste kandidate permanent aan te stel. Om dit te bereik moet leerders deur tersaaklike SETA’s getoets en goedgekeur word alvorens die lid deur die departement van arbeid geregistreer word. Bevoegdheid en indiensneembaarheid van kandidate word streng gemonitor en geëvalueer.
Waar en hoe kan ek by SETA aansluit?
► Begin allereers om jou loopbaan te beplan soos uiteengesit in Hoe om ’n Loopbaan te Kies en doen dan die volgende:
Fynkam koerante en tydskrifte vir advertensies deur SETA’s op soek na vakleerders.
Versamel so veel as moontlik inligting oor die leerderskap en maak jouself vertroud daarmee.
Vra alle moontlike vrae oor die vereistes wat aan jou gestel kan word voor jy aanklop.
Moenie opdaag en niks weet van die spesifieke bedryf nie. Jy mors dan tyd.
Sorg dat jy praktiese opleiding en ’n potensiële werkgewer vind in ’n omgewing wat vir jou interessant en uitdagend is. Moenie iets kies onder dwang, uit angs of uit onkunde nie.
SETA’s wat jou mag akkommodeer is onder andere:
MAPPP – Media, Advertising, Publishing, Printing and Packaging.
THETA – Tourism, Hospitality, Sport Education and Training Authority.










