Onkunde is ons grootste vyand en leerderprogramme is saamgestel om jou te help om met vertroue ’n beroep aan te leer – in ’n klaskamer of in die werksplek self.
Die regering bepaal dat 85% van hierdie leerders swart, 54% vroulik en 4% mense met fisieke gebreke moet insluit. Hierdie wetgewing word dikwels as diskriminerend bestempel, maar as jy na ons bevolkings-samestelling sou kyk, is dit gewoon ’n proporsionele voorsiening en staan enigiemand kans om ’n leerderskap te wen – als hang steeds af van jou eie inisiatief, entoesiasme en deursettingsvermoë!
Enigeen kan hulp kry!
Enigeen kan om ’n leerderskap aansoek doen. Die fasiliteit is daar vir jongmense, werkloses, skoolverlaters, afgestudeerdes by kolleges en selfs mense wat reeds werk.
Daar is ook geen ouderdomperk nie. SETA’s vereis ook geen vooraf kennis of opleiding as toelating nie. Glad nie. Trouens, SETA’s bied geleenthede op verskeie, verskillende vlakke van bevoegdheid sodat almal op eie peil betrek kan word.
Kry ’n salaris terwyl jy leer!
En boonop kos dit niks. Trouens – die werknemer moet die leerder ’n basiese salaris betaal. Die bedrag hang af van die tipe werk en vlak daarvan. So – hier is jou kans as jy nog altyd gedink het jou keuses is skraal. Meld jouself net aan – maar weet deeglik vooraf wat jou sterkpunte is (sien WAAR BEGIN EK? in hierdie gids), bou daarop voort, en erken jou foute sodat jy reggehelp kan word. Dis waarvoor leerderprogramme daar is!
Kies jou werkgewer goed!
Die belangrikste element van ’n leerderskap is die werkgewer wat jou die nodige werkgeleerdheid gee. Met ander woorde, die belangrikste peanut in die pakkie is die een wat jou kans gee om by hom of haar te werk sodat jy hand-op-die-wiel kan leer. En jy moet vooraf besluit wie dit kan wees. Stel ’n kortlys op van waar jy graag sal wil leer werk.
Wat van jou verwag word, is om die werk deeglik te doen sodat jy uiteindelik formeel kan kwalifiseer volgens die raamwerk bepaal deur die Nasionale Kwalifikasie-owerheid - geregistreer en goedgekeur deur die Direkteur-Generaal van Arbeid. Jou leerderskap moet natuurlik met ’n erkende beroep verbandhou.
Sodra jy deur ’n voornemende werkgewer vir ’n leerderskap aanvaar is, moet ’n wetsooreenkoms aangegaan en geteken word – dit omskryf jou regte en jou verantwoordelikhede asook dié van die werkgewer. Dit bepaal ook die vlak van jou betaling terwyl jy opleiding kry.
Leer teorie saam met hand-op-die-wiel ervaring
Omdat opleiding altyd ’n teoretiese komponent insluit om as formele kwalifikasie te geld, moet die party wat die teorie verskaf ook die ooreenkoms teken. Sodoende word jy met ’n deeglik omskrewe ooreenkoms gehelp om jou voete te vind in die bedryf wat jy kies.
Die duur van leerderskappe verskil van bedryf tot bedryf, maar die minimum tydvak beloop gewoonlik een jaar.
Sertifikate span die kroon
Met voltooiing verwerf jy ’n kwalifikasie wat amptelik regdeur ons land erken word – en jy kry ’n sertifikaat as bewys. Hierdie sertifikaat omskryf die vaardighede wat jy in die werksplek aangeleer en ontwikkel het sodat voornemende werkgewers jou moontlik daarvolgens kan plaas.
Waarborg van werk
Die verkryging van werk hang weer eens af van jou deeglikheid, entoesiasme, inisiatief en deursettingsvermoë. Niemand kan jou ooit ’n werk waarborg net op grond van ’n sertifikaat nie – selfs nie die instansie wat jou opgelei het nie. Behalwe jou punte en dienskaart, gee jou persoonlike verhoudings, betroubaarheid, gedrag, kleredrag, stiptelikheid, voorsorg, nasorg en vele ander kwessies die deurslag.
Wette wat jou en jou werkgewer beskerm
Net soos die wet jou moet beskerm, moet wette ook die werkgewer beskerm, sodat hy nie uiteindelik pa moet staan vir elke Jan Rap en sy maat wat later slaplê nie. Maar, vir die persoon wat die werk kan en wil doen, is daar – met ’n sertifikaat in die hand – altyd werksmoontlikhede in die bedryf.
Begin jou eie onderneming
Jy kan voorts nóg verdere kwalifikasies bekom – omdat jou sertifikaat jou vlak van vaardigheid uitspel kan dit geld as toelating tot verdere onderrig. Jy kan selfs jou eie besigheid begin! Verder dit hang af van jou deeglikheid, entoesiasme, inisiatief en deursettingsvermoë.
Toets eers die water voor jy inspring
Indien jy onseker is of jy jou vir ’n volle jaar vir ’n leerderskap wil vasteken, oorweeg dan gebruik van die ruim vaardigheidsprogramme. Dit gaan leerderskappe vooraf en is ook sterk op werksplek-opleiding gefokus. Hierdie programme omvat gedeeltes van die leerderprogramme maar is baie korter en meer gerig op praktiese hand-op-die-stuurondervinding, terwyl dit ook Nasionale Sertifikate uitloof.
Hoe om as ’n werksoeker te registreer:
Die departement arbeid beheer die werwing van jong talent asook die uitsoek en verwysing van leerderskapkandidate na moontlike werkgewers. Indien jy werkloos is, kan jy as volg by die departement registreer as werksoeker:
- Besoek jou naaste arbeidsentrum.
- Voltooi die werksoekersregistrasievorm.
- Behou gereelde kontak met die sentrum en laat hulle weet van adres- of foonnommerveranderings.
- Hou jou CV op datum.










