Beurse is glad nie gratis geld nie
Beurse word toegeken aan kandidate met besondere akademiese prestasies, maar dikwels speel die aansoeker se geldelike omstandighede ’n groot rol. Om hiervoor aansoek te doen, moet jy beëdigde dokumente verskaf wat jou geldsituasie presies uiteensit.
Werk vir jou beursgeld
Beurse behels die verskaffing van studiegeld vir die volle duur van opleiding met dien verstande dat die kandidaat vir die spesifieke verskaffer sal werk vir ’n tydsduur gelyk aan die voltooide kursus. Met ander woorde, as die werkgewer betaal vir drie jaar van jou studie, moet jy vir drie jaar vir hom werk.
Faal en jy betaal
Kandidate wat nie slaag nie, of van kursus verander, verloor die beurs en moet dit als terugbetaal.
Maak daarom baie seker dat jy weet waarvoor jou jouself inlaat voor jy ’n beurs aanvaar.
Doen vroegtydig aansoek
Omdat beurse duur, wetlik ingewikkeld en skaars is, moet jy lank vooraf daarvoor aansoek doen – al is jou matriek-uitslae nog vér van klaar. Die meeste fondsskemas eis aansoeke lánk voor die begin van die akademiese jaar. Stuur ’n gesertifiseerde kopie van jou mees onlangse uitslae betyds aan die instansie toepaslik op jou studierigting. Daar is geen noodbeurse nie!
Wie bied die meeste beurse?
In Suid-Afrika is ’n skaarste aan gegradueerdes in Handel, Ingenieurswese en Wetenskappe - daarom is daar meer beurse in daardie velde beskikbaar as in Onderwys, Tegniese Onderrig en veral kort, non-formele- of korrespondensie kursusse. Jy moet self uitvind of daar beurse in jou talentrigting is.
Hoeveel geld kan ek leen?
Die bedrae van beurse verskil. Sommiges voorsien slegs vir boeke en klasgeld terwyl ander ook akkommodasie en selfs sakgeld verskaf. Hoe meer die geld, hoe meer word jou skool- en ander prestasies gefynkam vir tekens van werks-etiek, vernuf, gesindheid en weer eens: entoesiasme, inisiatief en deursettingsvermoë. Dis nou bo-en behalwe goeie punte.
Waar begin ek geldhulp soek?
Klop aan by die beurskantoor of finansiële hulpburo by die universiteit of kollege waar jy graag wil studeer. Hier sal jy die beste inligting asook gidse en ander dokumente kry waarin vereistes en verpligtinge in detail uitgespel word. Kyk op by WAAR LEER EK? in hierdie gids vir die epos-adres van die plek waar jy wil studeer.
Jy werk nou aan jou lewe. Elke tree tel. Elke oproep. Elke navraag. Fynkam koerante, tydskrifte, bedryfsjoernale en alle loopbaangidse waarop jy jou hande kan lê. Besoek loopbaansentra, uitstallings en Oop Dae wat by opleidingsfasiliteite gehou word.
Deursnuffel die internet. Besoek die departement van onderwys by www.education.gpg.gov.za
Bestel ’n kopie van die Beursregister by Tel (011) 672 6559; Faks (011) 472 3507; e-pos adres vir Riva Levin
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Kontak ook groot korporasies, bekende instansies en organisasies met belange in onderwys en opleiding. Nader ook finansiële hulpskemas wat spesifiek aan studente steun verleen, soos NSFAS (National Student Financial Aid Scheme)










