Wat is ’n lening?
’n Lening is die bedrag geld wat jy teen terugbetaling kan leen om jou studie-onkostes aan ’n hoër onderwys instansie te dek. Dit beloop rente en indien jy die volle bedrag nie deur gereelde terugbetaling haal nie, kan jy vervolg en op die swartlys geplaas word sodat jy nooit weer ’n lening kan bekom of selfs ’n rekening êrens kan oopmaak nie.
NSFAS (National Student Financial Aid Scheme).bied uitstekende hulp aan studente wat akademies sterk is, maar studiegeld nodig het.
Studente kan selfs lenings tot gedeeltelike beurse aanpas na gelang van prestasie, maw, as jy goed presteer hoef jy nie noodwendig die volle lening terug te betaal nie. NSFAS bedryf ook lenings en beurse namens ander organisasies soos die departement van arbeid. Voordele hiervan sluit in:
- Lenings sonder dat waarborge vereis word.
- Lenings teen lae rentekoerse.
- Gedeeltelike aanpassing van lenings tot beurse, gegrond op akademiese prestasie.
- Redelike teugbetalingsskemas.
NSFAS is daargestel om verdienstelike leerders te help om finansies te bekom en aan hoër onderwys instansies te kan studeer.
Wat is ’n finansiële hulpkantoor? Hoe kan dit my help?
Alle hoër onderwys instansies het kantore wat studente en voornemende studente help met vrae oor lenings. Dit verskaf raad oor die aard en verkryging van lenings, verduidelik hoe jy toegang tot die geld kan kry en hoe jy dit sal moet terug betaal. Hulle evalueer jou potensiaal om sukses te bereik in die rigting wat jy wil studeer. Jy word ook deeglik getoets of jy werklik behoeftig genoeg is om geldelike te steun aan te vra.
ONTHOU - Spertye vir aansoeke om studiehulp is dikwels so vroeg as einde Augustus van die jaar vóór aanvang van die voorgenome studies!
Ek kan kwalifiseer vir ’n lening indien ek…
’n Suid-Afrikaanse burger is;
aan ’n publieke hoër onderwys instansie in Suid-Afrika studeer vir ’n eerste hoër kwalifikasie;
bewyse toon van moontlike akademiese sukses;
behoeftig is aan geldelike steun soos bepaal deur die NasionaleBehoeftebepalingstoets.
Hoe kan ’n lening tot ’n beurs aangepas word?
Tot 40% van die lening kan tot ’n beurs omskep word en hoef dus nie terug betaal te word nie – as jou eerstejaarsresultate – asook elke jaareindpunt daarna – dit regverdig.
Deeglikheid, bekwaamheid, gereelde klasbywoning en goeie werk wat betyds ingehandig word, tel alles om die lening in jou guns aan te pas.
Hoe en wanneer moet ek my lening ten volle terugbetaal?
Eers wanneer jy begin om ’n salaris te verdien, begin jy terugbetaal. NSFAS stuur kwartaalstate waarin jou afbetalings aangeteken word. Dit bly altyd jou verantwoordelikheid om met NSFAS kontak te behou en, al verander jy van werk of adres, moet jy jou lening gereeld maandeliks terugbetaal. Die manier van betaling kan geskied deur aftrek-orders, salaris-aftrekkings deur die werkgewer asook debiet-orders of deposito’s wat direk deur jouself in die NSFAS-rekening betaal word dmv tjeks of pos-orders.
BELANGRIK: Moenie dat die terugbetaling jou afskrik nie. Jy koop vir jouself ’n nuwe en beter lewe teen die laagste moontlike prys. Jy kan nie ’n beter belegging maak nie. Duisende het al hul lewens so verbeter en elke sent gemaklik terugbetaal.
Teen watter maandelikse bedrag moet my lening terugbetaal word?
Terugbetalings word bepaal deur jou maandelikse salaris en word proporsioneel uitgewerk sodra jy meer as R30 000 per jaar verdien. Die bedrag word teen 3% van jou inkomste bereken en verhoog tot ’n maksimum van 8% sodra jy meer as R63 000 per jaar verdien.
Hoeveel rente word deur NSFAS bygereken?
Rente is die enigste prys wat jy uiteindelik uit jou eie sak vir jou studies betaal. Dit word deur die regering geborg om ’n lae koers te handhaaf en word jaarliks aangepas deur inflasiekoerse wat ongeveer 2% beloop.
Vir verdere inligting aangaande NSFAS kontak die Beurskantore naby jou of besoek www.nsfas.org.za










