• Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size
Druk

HOE VER LOOP MY PAD?

B16So ver soos jou droom, en selfs verder. Baie verder. So ver as waar  jou taal vandaan kom – Nederland, Vlaandere, België.

Jou pad hier is jou taal – ’n droomtaal, speserytaal, vlerktaal, bevryde taal – vir buitelanders eksoties… en selfs eroties…

Afrikaans was nog altyd ná aan Nederlands en Vlaams, maar sedert die koms van die nuwe Suid-Afrika is ons nader aan mekaar as ooit tevore  – ook wat moontlikhede vir jongmense betref! 

 

B17Droomtaal

As jy opleiding of deeglike ondervinding het in toerisme of die kosbedryf, is moontlikhede om in Europa verder te leer en te werk nie net droomtaal nie.

Nuwe wisselwerking tussen hierdie lande maak dit vir Afrikaanse jongmense moontlik om ons Europese stamwêreld as wérksmense te herontdek – en dit nogal in Afrikaans!

 


Speserytaal

Die feit dat Afrikaans van Nederlands afstam is niks nuuts nie, maar dit is glad nie  dieselfde taal soos wat sommige buitelanders dikwels dink nie. Inteendeel, die sout en peper, kruie en speserye van ander tale soos Maleis, Khoi-San, Portugees, Frans, Engels en Duits het die tong van Afrikaans sterk gegeur – ’n unieke Germaanse taal uit die bodem van Afrika.

 

Vlerktaal

Nuwe bande tussen Afrikaanssprekendes híér en mense in Europese lande, asook die feit dat baie Afrikaanssprekendes vandag in ander lande werk en leef, het Afrikaans laat vlerke sprei om internasionaal nuwe karakter te kry.

 

Bevryde taal

Alhoewel Afrikaans ná 1994 in ons eie land al minder in die owerheidsektor gebruik word,  het die taal nuwe polities-bevryde status verkry. Nuwe denke en nuwe inisiatiewe bevorder en benut Afrikaans op maniere wat tot onlangs byna ondenkbaar was. 

Ons kyk vandag met nuwe oë na die verwantskap tussen Afrikaans, Nederlands en Vlaams. Met besoeke aan België of Nederland is dit opvallend hoe maklik Afrikaanssprekendes gesproke of geskrewe Nederlands kan verstaan.. 

 

Streekstaal

Nederlanders en Belge is soms verbaas om ’n taal te hoor wat so na aan hul eie klink, maar tog nie dieselfde is nie. Hoe goed die sprekers van die onderskeie tale mekaar kan verstaan, hang duidelik ook af van waar hulle vandaan kom. Só is die sagter Vlaamse uitspraak vir ons Afrikaanssprekendes dalk net makliker op die oor as die harder Amsterdamse aksent. Net so word ons verskillende Afrikaanse streeksuitsprake ook in wisselende mate deur Nederlanders verstaan.

 

Handelstaal

Die wisselwerking tussen Afrikaans, Nederlands en Vlaams word al meer aangevuur om die ekonomiese potensiaal tussen die lande te ontgin. Nederland, België en Luxembourg (waar oral Nederlands gepraat word) is ekonomies welvarende lidlande van die Europese Unie en het stewige handelsbande met Suid-Afrika. Bilaterale handel, investering en toerisme het oor die laaste tien jaar heelwat gegroei en toon steeds heelwat  groeipotensiaal.  

 

Eksotiese taal

Afrikaanse jongmense moet bewus gemaak word van die ekonomiese geleenthede wat daar toenemend tussen hierdie lande bestaan. Natuurlik is dit maklik om met Engels as internasionale handelstaal in baie dele van die wêreld oor die weg te kom, maar vir baie mense is dit nie hul moedertaal nie en kan daar ewe maklik (of makliker) in Afrikaans en Nederlands/Vlaams gekommunikeer word. En buitendien is Afrikaans en Afrikaanssprekendes vir buitelanders baie meer eksoties en interessant as Engels.

 

Beroepsmoontlikhede veral vir jongmense

  • Pas gegradueerde studente uit Nederland of Vlaandere wat praktiese kursuswerk hier wil doen, kan in baie velde in Suid-Afrika kom help – soos met  bystand van onderwysers in skaars vakke by skole waar daar ernstige tekorte is, óf om gemeenskapswerk in arm woongebiede te doen.
  • Afrikaanssprekende jongmense kan moontlik as au pairs in Nederland of België werk.
  • Nederlandse inbelsentrums wat hier wil vestig, kan van Afrikaanssprekendes gebruik maak (wat redelik maklik ’n Nederlandse kursus sou kon doen) en so in die plaaslike ekonomie belê.
  • Toerisme bied geleenthede vir toergidse en kultuurtoerisme, maar ook in restaurante, hotelle en gastehuise, om enkeles te noem.
  • Die moontlikheid van wedersydse studenteskakeling, navorsing en nagraadse studie in ander lande raak toenemend belangrik en skep ook nuwe beroepsmoontlikhede.


Baie meer werksmoontlikhede ontluik soos wat daar nuwe velde in die ekonomie ontwikkel, en só ontstaan daar ook nuwe geleenthede waar Afrikaans, Vlaams en Nederlands kreatief tot voordeel van hul onderskeie sprekers ontgin kan word.

Hierdie nuwe “taalvennootskap” moet goed gebotter en gebak word om meer ekonomiese voordele vir al die betrokke gemeenskappe te skep.

B18 

Vir verdere inligting oor Afrikaans in die buiteland klik op die volgende skakels:

www.komhuistoe.co.za/?page_id=31

www.landbou.com/mening/forum/sal-jy-jou-kind-oorsee-laat-werk

www.zuidafrikahuis.nl/

www.roepstem.net/

 

Media24 Naspers culturalaffairs DGMT Rupert Stigting Die Burger Het Jan_MArais_Nationale_Fonds dagbree