Mense is altyd op soek na ’n resep vir sukses, maar wanneer hulle so ’n resep kry, lyk dit te eenvoudig en gooi hulle dit weg. Dan gooi hulle dop, roep die giggelgatte nader en sit die musiek harder om die wêreld uit te doof.
Voor jy die dag ’n regte, vaste en goeie werk soek waarin jy tuis en vooruitstrewend kan voel, toets eers die volgende bestanddele vir ’n maklike suksesresep:
- Werk eers aan jou drome – droom, dink, doen – met potlood, skerpmaker, uitveër en papier.
- Werk aan jouself deur jou keuse van geselskap, vakansiewerk en rolmodelle.
- Hou ’n laai oop net vir idees en inligting wat jou kan help om aan jou droomlewe te bou.
- Maak kontak met mense wat jy bewonder. Gebruik die internet. Vra raad.
- Klop by leerplekke aan vir leiding.
- Vermy vriende wat hulle leë koppe en verwarde harte met drank, dagga en tik vul. Hulle sal jou drome en sukses altyd ondermyn – omdat hulle self nie tot sukses in staat is nie. Hulle droom dalk die boomdroom, maar dink nooit aan doen nie.
ONTHOU - Swakkelinge haat jou nooit vir wat jy verkeerd doen nie, maar verpes jou vir wat jy goed doen. Bly weg, jongmens, bly weg.










