• Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size
Druk

Suid-Afrika soek politieke wil wat middelmatigheid nie langer sal duld nie!

RSAMiddelmatigheid deug nie! Dis ‘n stukke lewenswaarheid wat ons almal maar swaar aan sluk, maar dit word keer op keer bevestig. Soos ook nou met die 2010 Sokkerspele in ons land. Dít hou vir ons duidelike lesse in dat die pad na sukses nie ‘n kortpad is nie, maar dit behels ‘n langtermynstrategie waarvan bewese kundigheid, omvattende beplanning, sistematiese implementering, absolute toewyding en dissipline, deeglike monitering en openhartige evaluering die hoofbestandele behoort te wees. Sonder dít is enige projek vanuit die staanspoor tot ‘n sukkelbestaan en selfs tot ondergang gedoem.

 Die talle suksesse wat die 2010 Sokkerspele kenmerk is egter ‘n bewys dat Suid-Afrika en Afrika tot uitnemendheid in staat is. Daar is hard gewerk om die nodige infrastruktuur betyds te voltooi en om die miljoene buitelandse en plaaslike sokkergeesdriftiges waarde vir hul geld te bied. Addisonele polisie is aangestel om wet en orde te handhaaf en misdaad tot die minimum te beperk. 

Ek self het een aand besluit om sokker op die Kaapse Parade te gaan kyk en het daarna die laataandtrein huis toe gehaal. En was ek nie beïndruk nie? Orals het die polisie hulle teenwoordigheid laat geld. Kaapstadstasie lyk soos ‘n nuwe sikspens, die toilette netjies en skoon, die personeel beleefd en die trein op tyd. Nooit het ek ook tydens die treinrit onveilig óf bedreigd gevoel nie, selfs toe ek my eindbestemming bereik en huis toe stap. Inderdaad ‘n ervaring wat my altyd sal bybly, wat nog te sê van die derduisende toeriste wat ons land tans besoek.

Hulle persepsies en ervaring is egter vir my ‘n sekondêre saak, want dit gaan vir my om die handhawing van dieselfde uitmuntende standaarde, nie net ter wille van die toeris se veiligheid nie, maar om die veiligheid van elke landsburger in die toekoms ten alle tye te verseker. Te veel Suid-Afrikaners was die afgelope aantal jare slagoffers van misdaad, juis omdat ons toegelaat het dat middelmatigheid op elke terrein die oorhand kry. So kan dit egter nie aangaan nie!

Dis die mense wat hulle daagliks afsloof om die ekonomie van ons land aan die gang te hou. Ook het baie van hulle aan die infrastruktuur gehelp bou en verrig hulle terselftertyd oralsoor bepaalde dienste om die wêreldbeker te laat vlot. Sommige het selfs hul werk in die buiteland opgeoffer om hul skaarse vaardighede plaaslik beskikbaar te kom stel. Dis mos wat ons ware patriotisme noem en daarom is dit net reg dat dieselfde standaarde van uitnemendheid na die wêreldbeker volhou sal word. 

Hierdie standaarde behels onder andere kwaliteit plaaslike en staatsdepartementele dienste, sigbare polisiëring en die volgehoue instandhouding van ons infrastruktuur, soos spoorwegstasies en paaie. Ook beteken dit dat mense tot verantwoording geroep moet word wat in gesagsposisies aangestel is, as hulle nie daarin slaag om die mediokere standaarde in hulle bepaalde organisasies te oorkom nie en dit gevolglik daarin faal om kwaliteitdienste te lewer. 

Hierin lê die uitdaging egter. Suid-Afrikaanse landsburgers het uiteenlopende idees en persepsies oor wat uitnemendheid impliseer. Stephan Covey stel dit soos volg: “Paradigms are powerful because they create the lens through which we see the world”. Verder het ons ‘n uiters diverse samelewing met mense met verskillende waardestelsels en kulturele agtergronde. Dit is ook ‘n uiters gepolitiseerde terrein met uiteenlopende belangegroepe, soos vakbonde en hul werknemers wat voortdurend met mekaar hare kloof. Hulle kan net nie ooreenstemmendheid bereik oor wat die ideale strategieë of instrument behoort te wees om byvoorbeeld uitnemendheid in die staatsdiens te bevorder en te meet nie. En so borduur almal maar in die naam van middelmatigheid voort, sonder dat ‘n wenkbrou gelig word. 

Verskeie afgewaterde ooreenkomste en intrumente het al die lig gesien en miljoene rande is gespandeer om dit geïmplementeer te kry, maar met weinige sukses. In baie gevalle het onderhandelinge oor hierdie kwessie selfs op ‘n dooiepunt uitgeloop. Geen vordering kan gemaak word nie vanweë uiteenlopende sienings oor die aangeleentheid. Moet ook nie die moedswilliges nalaat nie wat die soeke na ‘n oplossing dikwels ondermyn, want enige aksie tot uitnemendheid stel hulle swak prestasie bloot en dit kan tot moontlike tugoptrede deur die werkgewer teen hulle lei. 

Werkgewers wat egter so iets oorweeg, kan hom of haar egter gou water trap. Arbeidswetgewing is ‘n tameletjie, want soms word swak prestasie met wangedrag verwar, wat dit nie is nie. Laasgenoemde het te doen met oortredings soos afwesigheid sonder verlof of diefstal, terwyl swak prestasie te doen het met ‘n reeks faktore wat daartoe aanleiding kan gee, soos gebrek aan kennis en vaardighede of onvoldoende opleiding, swak kommunikasie oor wat die persoon veronderstel is om te doen en selfs tekort aan hulpmiddels. Dus om ‘n persoon vanweë swak prestasie aan te kla, is ‘n  turksvy. Nie net dit vereis dit besondere insig oor wat die aard van die probleem is nie en wat die oplossing behoort te wees nie, maar dit kan tot geweldige spanning tussen werkgewer en werknemer lei as dit nie met die nodige empatie benader word nie. 

En dit volgens sommiges is die Achilleshiel van Suid-Afrika se strewe om uitmuntendheid te alle tye en op alle vlakke van die samelewing te laat geld. Volgens hulle ondermyn ons Arbeidswetgewing die strewe na uitmuntenheid. In die opsig verskil ek egter, want ek vind die aantas van mense se menswaardigheid in ons strewe na uitmuntenheid eerder die sondebok. Daar is die uitsonderings op die reël, soos die moedswilliges wat ek vroeër na verwys het, maar dat die meeste Suid-Afrikaners ‘n innerlike strewe na uitmuntendheid het, het ek geen twyfel nie. Hulle wil hul land sien vooruitgaan, hulle wil hulle land sien kompeteer met die beste in die wêreld en hulle wil Suid-Afrika aan die voorpunt sien van die Afrika Renaissance.

Hierop moet ons die regering kapitaliseer en dus volhou met die sigbare polisiëring, die instandhouding van ons infrastruktuur en al die ander goed wat van die 2010 Sokkerspele ‘n sukses maak. Saam daarmee gaan ook egter die bou van mense se moreel, die aanstel van kundige mense, kundige leidinggwing en regverdige beloning.  

Dit vereis egter ysere politieke wil wat kort mette met middelmatigheid sal maak en ‘n ingesteldheid wat net die beste nastreef. Vir dit is daar nie kortpad nie. Langenhoven het dit soos volg saamgevat: “As die kortpad die beste was sou die hoofpad daar geloop het”. 

Media24 Naspers culturalaffairs DGMT Rupert Stigting Die Burger Het Jan_MArais_Nationale_Fonds dagbree