“Education is the most powerful weapon, which you can use to change the world.” Dis die gesegde van niemand anders as oud-president Nelson Mandela wat ook hierdie maand sy een-en-negenste verjaarsdag gevier het. Inderdaad profetiese woorde wat elke Suid-Afrikaanse burger tot verantwoording roep om rekenskap te gee oor hoe ons onderwys inspan om die Suid-Afrikaanse nasiebouprojek te laat slaag.
Onderwys lê die grondslag vir hierdie projek, want dit behels die oordrag van kennis, vaardighede en waardes. Faal onderwys is dit neusie verby met dit en alreeds word ‘n uiters ontstellende prentjie daagliks deur navorsers geskilder van ‘n onderwyssisteem wat nie daarin slaag om kundige en vaardige landsburgers te lewer nie.
Van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se kant is ons ook erg besorg oor die stand van sake in die onderwys. Daarom het ons onlangs ‘n driedaagse onderwysleierskap en –bestuurskursus vir sowat vyftig onderwysers namens die Enkwenkwezi trust, ‘n Media24-inisiatief, gefasiliteer. Wat my tydens die opleiding opgeval het, was die toewyding en entoesiasme van hierdie onderwysers wat hul wintervakansie vanaf 9h00 soggens tot 16h00 smiddae opgeoffer het om deur die modules te werk. Hierdie mense was behoorlik uitgehonger vir die kennis wat ons met hulle gedeel het.
So ‘n ervaring dwing ‘n mens egter om kritiese vrae oor die aard en omvang van die ondersteuning wat aan onderwysers gebied word en die rol wat senior onderwysamptenare behoort te speel wat spesifiek vir die doel aangestel is. Want as die meerderheid van onderwysers op grondvlak bereid is om hul daaglikse taak met soveel toewyding en entoesiasme aan te pak, hoe is dit moontlik dat die meeste van ons skole klei trap met die lewering van gehalte-onderrig?
My waarneming tydens al ons werksessies met onderwysers is dat baie van hulle nie die nuwe kurrikulum behoorlik onder die knie het nie. Daar is van ‘n generasie van onderwysers vanuit die ‘ou’ skool verwag om oornag ‘n kopskuif te maak vanaf die ‘oue’ na die ‘nuwe’. Hierdie kopskuif moes binne die bestek van ‘n paar weke van opleiding teweeggebring word. Vir die ouer geslag bly dit ‘n opdraande stryd, omdat ‘n paar weke van opleiding in die nuwe kurrikulum heeltemal onvoldoende is en hul heel dikwels meer verward en ontmoedig laat. Hierteenoor is die generasie wat huidiglik opgelei word, vir menige prinsipaal en hul senior bestuur ‘n ligpunt omdat hulle na vier jaar van studie ‘n beter begrip het van die nuwe kurrikulum.
Om die kopskuif vanaf die ‘oue’ na die ‘nuwe’ te maak is egter nie onoorkombaar nie en met die regte leiding en oordeelkundige bestuur van die veranderinge wat daarmee gepaardgaan kan onderwysers wel die knoop deurhaak. Ongelukkig sit ons met ‘n kroniese tekort aan ervare onderwyskundiges op senior vlak om stap-vir-stap leiding aan onderwysers te gee en topgehalte ondersteuningsdienste te bied. In sekere provinsies en in veral stedelike gebiede is hierdie kundigheid byderhand. Hierdie skole het ook toegang tot die Internet en bronnesentrums waar onderwysers kan gaan aanklop vir hulp.
Daar is egter onderwysdistrikskantore wat in die voormalige tuislande, in landelike en selfs stedelike gebiede geleë is, wat nie oor die kundigheid op senior vlak beskik om leiding te gee nie, nog minder het die skole waarvoor hulle verantwoordelik is, toegang tot die Internet en goedtoegeruste bronnesentrums.
Vanweë die gebrek aan goeie ondersteuningstelsels, voer die meeste van ons land se skole ‘n opdraande stryd om gehalte onderwys aan ons kinders te bied. Hierdie stelling motiveer ek met die volgende illustrasie:
Aan die insetkant speel die beheerliggaam, prinsipaal en onderwysers ‘n uiters belangrike rol in die implementering van die kurrikulum en in die keuse van onderrigtaal. Dit is vervat in die Suid-Afrikaanse Skolewet en plaas ‘n geweldige verantwoordelikheid op hulle om toe te sien dat gehalteonderrig wel plaasvind. En indien dit nie gebeur nie, gaan die Skolewet sover as om sulke skole onder kuratorskap te plaas.
Dis alles goed en wel, maar in die praktyk is daar ander uitdagings wat die rol van die beheerliggaam, prinsipaal en onderwysers ondermyn. Hierdie uitdagings sluit onder meer in ouers wat op beheerliggame dien met gebrekkige skoolopleiding en wat geen kennis het van skoolbeheer en kurrikulumlewering nie, gebrekkige kurrikulumleiding deur die prinsipaal wat heeltyds besig is met allerlei adminstratiewe en sosio-maatskaplike aangeleenthede en swak onderrig deur onderwysers vanweë ‘n gebrek aan moedertaalonderrig, vakkennis, deeglike lesbeplanning, leerderdissipline, ouersamewerking, geskikte hulpbronne en effektiewe skooladministrasie.
Hierdie uitdagings is die Achilleshiel van Suid-Afrikaanse onderwys en vir dit móét ons spoedig oplossings vind. Myns insiens lê die oplossing deels in die omvattende herbesinning van die verantwoordelikhede wat aan elke rolspeler deur die Skolewet opgedra word en die verlening van professionele bystand aan die rolspelers om hulle te help om hul verantwoordelikhede behoorlik uit te voer.
So ‘n omvattende herbesinning is ‘n voorvereiste vir die effektiewe funksionering van ons skole en die suksesvolle implementering van die kurrikulum. Soos in die eerste been van die illustrasie uiteengesit, begin dit by die vestiging van ‘n kurrikulumkomitee. Dis ‘n komitee wat uit die prinsipaal, van die senior personeel, vakhoofde en ander kundige en ervare personeel bestaan. Hul taak is om leiding te gee en om te sorg dat elke proses van die kurrikulum in ooreenstemming met departementele riglyne nougeset en korrek geïmplementeer word.
Hierdie prosesse behels onder meer die ontwikkeling van leerprogramme, werkskedules en lesplanne. Verder behels dit ook soos uiteengesit in die tweede been van die illustrasie die aankope en beskikbaarstelling van hulpbronne vir onderrig, die monitering van onderrig in die klaskamer self, die waarneming van leerders in die klaskamersituasie en die samestelling van portefeuljes van leerlinge se beste projekte en die opdatering van die leerlinge se persoonlike profiele.
Die derde been van die illustrasie behels verdere prosesse soos die insameling van bewysstukke van wat leerlinge in die klaskamer self vermag, die verlening van ondersteuning aan leerders wie akademies onderpresteer, die monitering van leerders se vordering, die bestuur van die appèlproses ingeval ouers nie tevrede is met die terughou van hul kinders en die plasing van leerlinge in ‘n nuwe graad of vakrigting.
Hierdie drie bene in die illustrasie moet egter deurlopend onderwerp word aan die moderering van die kurrikuluminhoud wat in die klaskamer aangebied word en die moderering van die assessering van projekte, toetse, eksamens en alle ander vorme van toetsing wat uit hierdie inhoud voortvloei. Indien dit nié plaasvind nie, is daar geen manier hoe die kurrikulumkomitee die kwaliteit van werksaamhede in die klaskamer kan bepaal óf kan vergelyk nie. En in dié verband het die onderwysdepartement en senior onderwyskundiges ’n uiters belangrike rol te vervul. Hul kundige insette saam met die ontvanklikheid van die onderwysers en die samewerking van die breë skoolgemeenskap kan beslis die onderbou van die hele kurrikulumleweringsproses verder verstewig.
Vanuit owerheidskant moet daar dus aandag gegee word aan die gebrek aan kundige en toegewyde senior bestuurslui, hul vermoë om die onderwyskorps te mobiliseer en ontvanklikheid te bewerkstellig en hul rol in die skep van vennootskappe tussen die skool en die gemeenskap. Daar moet egter eers aandag gegee word aan bestaande senior amptenary wat nie hul kant in die verband bring nie, want tydens ons kursus het onderwysers grappenderwys vertel hoe hulle by sommige senior onderwyskundiges se kantore opdaag net om ‘n baadjie wat oor die stoel se ruglening hang, te vind. Die amptenaar was egter skoonveld.
Nie net saboteer sulke gedrag die visie van Nelson Mandela om onderwys as ‘n magtige wapen te ontplooi om Suid-Afrika ten goede te verander nie, maar dit doen sy nalatenskap oneer aan. Elkeen van ons, maak nie saak wie en wat ons is nie, het dus ‘n gedeelde verantwoordelikheid om toe te sien dat onderwys in Suid-Afrika slaag. Dit is in belang van onsself en die groter nasiebouprojek.
Die rol van die kurrikulumkomitee
Implementering van die kurrikulum
Ontwikkeling van leerprogramme
Ontwikkeling van werkskedules
Samestelling van portfolio’s
Gebruik van die regte hulpbronne
Onderrig in die klaskamer
Waarneming van die leerders
Insameling van bewysstukke
Verlening van ondersteuning
Moniteer leerlinge se vordering
Ontwikkeling van lesplanne
Opdatering van profiele
Bestuur van die appèlproses
Plasing van leerlinge
Moderering van Inhoud
Moderering van Assessering
Verslagdoening aan Rolspelers
Die rol van die beheerliggaam, prinsipaal en onderwysers in die kurrikulum en die keuse van onderrigtaal
Die lewering van kundige en vaardige landsburgers
Ondersteuning van die onderwysdepartement en senior onderwyskundiges




