Volgens die Internet-bron Wikipedia, het die bekende Afrika-gesegde dit vat ’n hele gemeenskap om ’n kind groot te maak (It takes a whole villageto raise a child), uit die Nigeriese Igbo-kultuur en –gesegde Oran a azu nwa ontstaan. Die Igbos noem ook hul kinders Nwa ora, wat kind van die gemeenskap beteken.
Dieselfde sentiment word weerspieël in uitdrukkings van verskillende ander Afrika-kulture, soos die Swahili-gesegde Een hand versorg nie ’n kind nie, die Soedanese gesegde ’n Kind is almal se kind en die Tanzaniese gesegde Een knie maak nie ’n kind groot nie.
Die gesegde van die bekende digter Langenhoven, nl. Jou kind sal sy geleerdheid nog by die skool agterlaat; sy opvoeding sal hom vergesel tot in die graf reflekteer nie presies dieselfde sentiment nie, maar bevestig ook die blywende invloed van ’n goeie opvoeding en die rol van die familie en gemeenskap in die grootmaak van ’n kind. Dit is egter die Xhosa-uitdrukking Umntu ngumtu ngabantu wat beteken ’n persoon is ’n persoon deur ander mense wat die gees van gemeenskaplikheid beliggaam wat so raak gevisualiseer word in die uitdrukking It takes a village to raise a child.
Hierdie diepsinnige wysheid, toewyding, meelewendheid, bedagsaamheid en omgee vir mekaar se kinders het oor eeue heen in baie Afrika-gemeenskappe voorgekom. Deur ongesofistikeerde en eenvoudige tradisies en onderwysings is geslag na geslag grootgemaak met waardes, vaardighede, kennis en wysheid om te oorleef en voorspoed te beleef, maar belangriker nog, om in harmonie met die natuur te leef en daaruit te put. Inheemse kennis wat oor baie jare verwerf is, het ’n wesenlike rol gespeel om te kon onderskei tussen skadelike en beste praktyke en om in dikwels strawwe omstandighede soos droogtes of oorstromings, te oorleef.
Dit sou egter nie moontlik gewees het sonder ’n gees van Ubuntu - interafhanklikheid, ruimhartigheid, samehorigheid en wedersydse ondersteuning vir mekaar en vir die gemeenskap waarin hulle geleef het nie. En in baie nedersettings in Afrika was hierdie gees van Ubuntu ’n werklikheid. Optekenings deur Europese reisigers wat dit in die binneland van Suid-Afrika gewaag het, bevestig dit.
Nadat hy op sy reise tussen 1772 en 1776 ’n gemengde Khoi- en Xhosa-gemeenskap teëgekom het wat by die Klein Sondagsrivier gewoon het, het die jong Sweed, Anders Sparrman, geskryf: “We announced ourselves…and were received by them with a friendly simplicity and homely freedom, which, however, by no means lessened them in our thoughts as men. They presented us with milk and danced at our request; at the same time giving us to understand that our fame, as being a singular people with plaited hair, as well as flower-collectors and viper-catchers, had reached them long before our arrival”.
Augusta de Mist, tienerdogter van Kommissaris-Generaal J.A. de Mist van die Republiek Batavia, het tydens ’n reis in 1803 geskryf: “Love and friendship, those soft bands woven by nature for the happiness of mankind, link all members of the same family amongst the IsiXhosa. The mutual attachment of blood relations amongst them deserves no small praise and can be held as an example to more than one European nation”.
’n Amerikaanse handelaar Gerald McKiernan, wat in die jare 1847 tot 1870 in Namibia handel gedryf het, het die volgende oor die San-mense geskryf: “I have found true native politeness amongst Bushmen. They were very fond of squatting about the tent and looking at the objects that were strange to them, but when food was brought, they almost invariably retired to a distance; very often when they were half starved too”.
In die geskrifte van Olfert Dapper [1688] en andere word ons ook bekend gestel aan die ordelike en voorspoedige leefwyse van die Kochoquas. Hulle het soos volg hieroor geskryf: “The Kochoquas are called Saldanhars by our countrymen, because, they have always dwelt mostly near and in the valleys of Saldanha Bay. They settled in fifteen or sixteen different villages, about a quarter of an hour’s distance from one another. Each village consisted of thirty, thirty-six, forty or fifty huts, all placed in a circle a little distance apart. The Saldanhars for safety kept their cattle in the centre of the village at night. They also owned a large collection of cattle, well over a hundred thousand in number and about two hundred thousand sheep, which instead of wool have longish coloured hair on the body”.
Hierdie indrukke dien as bevestiging van die ingebore goedheid en onselfsugtigheid van die Afrika-mense in die algemeen, hulle respek teenoor vreemdelinge en hul ordelike en voorspoedige leefwyse.
Dit is ook binne hierdie konteks of gemeenskap dat kinders grootgemaak is en waardes soos respek, goeie maniere, goeie gedrag, vriendelikheid, ruimhartigheid, nederheid, omgee en liefde vir mekaar gekweek is. ’n Gees van gemeenskaplikheid en ’n langtermynvisie was aan die orde van die dag.
In moderne Afrika word die gees van gemeenskaplikheid egter deur ’n kultuur van individualisme, selfsug, ’n gebrek aan omgee en vinnige bevrediging ondermyn. Waardes soos respek, vriendelikheid, ruimhartigheid en nederigheid, wat deur verskeie buitelanders waargeneem en opgeteken is, het geleidelik plek gemaak vir disrespek, vyandigheid, hebsug en arrogansie.
In baie gevalle is uitbuiting, swendelary, alkohol- en dwelmsmokkelary, handeldrywe met kinders en vroue, uitputting van natuurlike hulpbronne, die uitroei van bedreigde spesies en belaglike politieke magspel aan die orde van die dag. Dit het daartoe gelei dat die Afrika-‘gemeenskap’ ’n baie onsekere en gevaarlike plek geword om ’n kind groot te maak. Gruwelverhale doen die ronde van onskuldige kinders wat slagoffers word van en blootgestel word aan die gemelde aktiwiteite. Hulle groei uiteindelik op met die idee dat dít die enigste aanvaarde lewenswyse is.
Hierdie situasie durf egter nie onbetwis gelaat te word nie. Dus, alhoewel dit ’n groot uitdaging bied vir die enkele veilige hawes in die gemeenskap, waaronder skole, plekke van aanbidding, regeringsdepartemente en nieregeringsorganisasies, moet die fokus wees op die alternatief, nl. om ons kinders met gesonde waardes, vaardighede en kennis toe te rus.
’n Guineaanse gesegde leer ons egter dat “Kennis sonder wysheid is soos water in die sand”. Wysheid lê in die wyse toepassing van kennis tot almal se voordeel. Ons kinders moet dus voortdurend herinner word dat die gebruik van kennis om jouself te bevorder ten koste of tot nadeel van ’n ander onvermydelik tot konflik en anargie lei.
Dit is in hierdie opsig belangrik om die gees van gemeenskaplikheid en goedhartigheid wat in die Afrika-gemeenskap van gister geheers het, te herstel. Dit vra egter van skole, plekke van aanbidding, regeringsdepartemente, nieregeringsorganisasies, ouers, onderwysers en leerders om saam te werk en ’n netwerk te skep om die oënskynlik onoorbrugbare te oorkom.
Daar is ’n Nigeriese uitdrukking wat lui: In die oomblik van krisis bou die wyses brûe, die dommes bou dame. Met ander woorde, dit is deur interaksie met mekaar en nie deur onsself te isoleer nie, deur ons hulpbronne en vaardighede met mekaar te deel en nie vir onsself te hou nie, deur van mekaar te leer en mekaar nie te minag nie, deur alles so goed as moontlik te doen en nie verskonings te soek om ons verantwoordelikhede te ontduik nie, dat ons enige krisis kan oorkom.
Dít kan ons doen sonder om ons unieke kulturele erfenisse, insluitend ons inheemse tale en kulturele praktyke, prys te gee. Al wat dit verg is om skeppend om te gaan met hierdie bates en die opvoedkundige, kulturele, sosiale en ekonomiese potensiaal wat dit vervat vir almal te ontsluit. Verder moet ons getrou bly aan die waardes van ons Grondwet en die ideale van nuutgeskepte demokrasie deur terselftertyd interaksie tussen verskillende gemeenskappe aan te moedig. Dis die regte ding om te doen!
Die digter Langenhoven onderstreep dit met die volgende stelling: “Ek het baie paaie geloop op dié ou wêreld en ek weet van meer wat ander mense probeer het; maar op die ou end weet ek nié van 'n ligter pad as die regte een nie”. Laat ons dus die regte pad te volg, want dít sal ons help om ’n ware Afrika-gemeenskap van hoop, gelykheid en mensskap te herskep - ’n gemeenskap waar vrede en harmonie, vriendelikheid en gasvryheid, maar die heel belangrikste, wedersydse respek en menswaardigheid seëvier.
Inderdaad dit vat ’n hele gemeenskap om ’n kind om ’n kind groot te maak!
Bronnelys:
Wikipedia at http://en.wikipedia.org/wiki/It_Takes_a_Village" http://en.wikipedia.org/wiki/It_Takes_a_Village
African Proverb of the Month. November, 1998 at http://www.afriprov.org/index.php/african-proverb-of-the-month/23-1998proverbs/137-november-1998-proverb.html
Anders Sparrman. Travels in the Cape 1772–1776 at http://www.vanriebeecksociety.co.za/docs/sparrman.htm
Tanya Barben. 2004. A person is a person because of other persons at http://www.lib.uct.ac.za/rarebks/umntu.htm
The Narrative and Journal of Gerald McKiernan in South-West Africa during the years 1847-70 at http://www.vanriebeecksociety.co.za/docs/mckiernan.htm
The early Cape Hottentots. Described in the writings of Olfert Dapper [1688] et al at http://www.vanriebeecksociety.co.za/docs/ech.htm




