1. Die Wetsontwerp is 'n poging om te voldoen aan die vereistes gestel in art. 6 (4) van die Grondwet, naamlik dat die nastionale regering die gebruik van amptelike tale moet reguleer en monitor deur middel van wetgewende en ander maatreëls. Dit is egter 'n baie vae wetsontwerp wat eintlik niks doen vir die bevordering van veeltaligheid en die gelykwaardige behandeling van al die amptelike tale nie.
2. Indien daar erns gemaak word met veeltaligheid en die vereistes in art. 6 (4) van die Grondwet dat al die amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel moet word, moet die Wetsontwerp baie meer prakties ingestel wees en doelgerigte bepalings bevat wat hieraan uitvoering gee.
3. Die huidige Wetsontwerp skep taaleenhede in nasionale departemente en nasionale openbare ondernemings en poog verder om 'n raamwerk vir die monitering van taalbeleide te skep, maar dit beteken nie veel nie. Om te bepaal dat 'n taalbeleid aan die bepalings van art. 6(3) van die Grondwet moet voldoen bevestig net wat reeds grondwetlik bepaal is en gee nog nie uitvoering aan die Grondwet nie. Daar staan duidelik:
'die nasionale regering en provinsiale regerings kan enige tale vir regeringsdoeleindes aanwend, met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie, maar die nasionele regering en elke provinsiale regering moet minstens twee amptelike tale gebruik.'
4. Die Grondwet skep die raamwerk vir die hantering van amptelike tale en die nasionale regering en provinsies moet verder inhoud hieraan gee deur middel van wetgewing en ander maatreëls, wat klaarblyklik beleidsdokumente insluit. Die eerste nasionale wetsontwerp wat gepoog het om aan art. 6 (4) van die Grondwet uitvoering te gee, naamlik die SA Languages Bill, 2003, was beslis 'n meer deurdagte poging en dit behoort eerder as 'n basis vir 'n nuwe SA Talewet oorweeg te word.
5. In die 2003-Wetsontwerp word onder meer die volgende doelwitte gestel wat duidelik in pas met die letter en gees van art. 6 van die Grondwet is:
'to enable all South Africans to use the official languages of their choice as a matter of right within the range of contexts contemplated in this Act, with a view to ensuring equal access to government services and programmes, to education, and to knowledge and information;
To provide for a regulatory framework to facilitate the effective implementation of the constitutional obligations concerning multilingualism.'
6. Ander positiewe elemente in die 2003-Wetsontwerp is die duidelike klem op die bevordering van veeltaligheid, erkenning van taaldiversiteit en streeksverskille in Suid-Afrika en bepalings oor remedies vir mense (individue of groepe) wie se taalregte geskend is.
7. Die huidige situasie waar Engels aktief bevorder word deur die nasionale regering ten koste van die ander amptelike tale in Suid-Afrika is nie in pas met die bepalings van art. 6 (4) van die Grondwet nie. Natuurlik is Engels 'n belangrike kommunikasietaal in Suid-Afrika, maar die ander amptelike tale trek aan die kortste ent wat die amptelike gebruik en status daarvan betref. Dit moet eerder oorweeg word om op nasionale vlak meer as twee amptelike tale te gebruik met deeglik inagneming van die oorwegings wat in art. 6 (4) van die Grondwet genoem word. Die 2003-Wetsontwerp het byvoorbeeld 'n voorstel bevat vir die gebruik van 6 amptelike tale om amptelike dokumente van die regering te publiseer. So behoort Afrikaans en die ander inheemse tale ook meer amptelike erkenning te kry as wat tans die geval is.
8. Om behoorlik uitvoering te gee aan die bepalings van art. 6 (4) van die Grondwet vra 'n pragmatiese benadering tot die hantering van die 11 amptelike tale. Die bevordering van veeltaligheid met erkenning aan die beginsel van gelykheid van aansien en billike behandeling impliseer onder meer dat op 'n praktiese vlak moedertaal onderrig sowel as die aanleer van een of meer ander amptelike tale op skoolvlak aktief bevorder moet word.
9. Op provinsiale regeringsvlak kan kennis geneem word van die Wes-Kaapse Talewet, 1998 (Wet 13 van 1998), wat 'n pragmatiese benadering gevolg het deur die drie amptelike tale wat meestal deur die inwoners van die provinsie gebruik word, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, as amptelike tale van die Wes-Kaap te beskryf en die amptelike gebruik daarvan te reguleer. Dit fokus op die praktyk, met ander woorde daar waar die publiek en die provinsiale regering met mekaar moet kan kommunikeer.
10. By die skryf van 'n SA Talewet moet daar ook kennis geneem word van hoe lande in 'n meertalige konteks die hantering van verskillende amptelike tale by wyse van wetgewing gereël het. Kanada (Quebec) waar Frans en Engels die amptelike tale is, België waar Frans en Nederlands die amptelike tale is en Italië (Süd-Tirol-streek) waar Duits en Italiaans die amptelike tale is is enkele voorbeelde waar taalwetgewing die erkenning en bevordering van verskillende amptelike tale op praktiese wyse gestalte gegee het.
11. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se fokus is uiteraard op Afrikaans, maar dit poog ook om brue te bou tussen taalgemeenskappe en het onder andere in 2011 die XhosAfrika-netwerk help vestig, om samewerking tussen Afrikaanse en isiXhosa taalpraktisyns en organisasies te bewerkstellig. Terwyl die Grondwet erkenning gee aan veeltaligheid in Suid-Afrika is dit belangrik dat die nasionale sowel as die provinsiale regerings verder hierdie ruimte ontwikkel. Die voorgestelde SA Talewet bied die geleentheid om veeltaligheid op praktiese vlak te bevorder.
Spesifieke voorstelle vir bepalings in die Wetsontwerp:
i) Voeg 'n spesifieke doelwit in ter ondersteuning van veeltaligheid, naamlik:
'to enable all South Africans to use the official languages of their choice as a matter of right within the range of contexts contemplated in this Act, with a view to ensuring equal access to government services and programmes, to education, and to knowledge and information;
To provide a regulatory framework to facilitate the effective implementation of the constitutional obligations concerning multilingualism.'
ii) Voeg spesifieke bepalings oor die bevordering van veeltaligheid in, bv. oor die amptelike kommunikasie van die nasionale regering met die publiek, en die gebruik van twee of meer tale binne die nasionale regeringsfeer.
Dr D J Brand
Voorsitter: Raad van Trustees
Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
Kaapstad
13 Januarie 2012




