Ek volg met belangstelling Pierre de Vos en Marie Heese se bekgeveg oor Afrikaans en die US. Albei spoeg vuur vir die vale en skroom nie om mekaar sleg te sê nie. Terwyl ek begrip het vir albei se perspektiewe, dus nou de Vos se aandrang op regstelling van die ongeregtighede van die verlede versus Heese se aandrang op moedertaalonderrig, kan ek nie anders as om ‘n paar rooi kaarte uit te deel aan albei van hulle. En die redes is soos volg:
Aan Pierre, dis onsin dat Afrikaans as onderrigtaal swart studente uitsluit. Engels sluit ook uit, erger nog dis ‘n verleidelike taal wat sy tweedetaalspekers dikwels in ‘n web van plagiarisme en cliches vasvang, maar meer hieroor later in my skrywe. Duisende swart en bruin studente sit in Afrikaanse skole en sal die geleentheid in albei hande aangryp om by ‘n Afrikaanse universiteit te studeer, mits die onderrig van ‘n hoë akademiese standaard is, die navorsingsgeleenthede van wêreldstandaard is en hulle beurse kry. Hierdie studente is egter nie ons residensiële universiteite se ‘voorkeurstudente’ nie, want hulle kom nie uit die middelklas nie, studeer ook nie aan voormalige Model C-skole nie en hulle ouers het ook nie die geld om hulle verder te laat studeer nie.
Pierre, dit is dus nie taal wat uitsluit nie, maar die ekonomiese klasse-skeiding van die nuwe Suid-Afrika wat duisende jong mense op grond van hul ekonomiese status die geleentheid ontsê om verder te studeer. ‘n Ander kommerwekkende ding is die toekenning van staatsbeurse bloot op grond van ras.
In ‘n ministeriële verslag wat onlangs vrygestel is, word hierdie tendens soos volg bevestig en word daar voorgestel dat sosio-ekonomiese status, eerder as ras inaggeneem te word in die toekenning van beurse. “The Review Committee found that the allocation formula to universities, which is based on the Full Cost of Study (FCS) and the demographic profile of the student population at an HEI, is inappropriate. The formula recognises race as a proxy for socio-economic need. The result is that a historically advantaged institution (HAI) with affluent black students who do not need financial aid gets the same NSFAS allocation as a historically disadvantaged institution (HDI) with poor black students who all qualify for financial aid. The Committee agrees with Higher Education South Africa (HESA) that socio-economic status should serve as the criteria for access to NSFAS support” In hoe ’n mate daar gehoor gegee is aan dié aanbeveling, bly ‘n onbeantwoorde vraag.
Aan Marie, Afrika se bevryding van armoede, agterlikheid en bakhandmentaliteit sal spoedig wyk sodra ons die inheemse Afrikatale en inheemse kennispraktyke op ‘n wetenskaplike wyse begin benut en ontsluit vir menseontwikkeling. Dit geld ook vir Suid-Afrika, waar ons juis Afrikaans moet behou as volwaardige onderrigtaal op minstens drie universiteite, dis nou Stellenbosch, Vrystaat en Potchefstroom. En dis kritiesbelangrik, want sonder dit staan Zoeloe, Xhosa en Sotho nie ‘n kat se kans om as volwaardige wetenskapstale en onderrigtale op universiteitsvlak te ontwikkel nie.
Dus Marie maak dit nie liefs sin om kragte saam te snoer met ons inheemse taalgenote nie en die stryd vir die behoud van Afrikaans as universiteitstaal oor die boeg van ‘n ontwikkelingsstrategie vir Afrika-tale te gooi nie? Die XhosAfrika-netwerk wat verlede jaar in die Wes-Kaap begin is, bied juis so ‘n platform vir Afrikaans- en Xhosasprekendes om saam te werk, maar moet raap en skraap om aan die gang te bly. Dít terwyl Afrikaans-uitsluitlike organisasies mildelik deur Afrikaanse trusts en sakemanne ondersteun word.
Aan Pierre, die idee dat alle Suid-Afrikaanse universiteite moet verengels, is nie net ongrondwetlik nie, maar ook dom. Dom in die opsig dat ons nie-moedertaalsprekers van Engels (dis ongeveer 80% van ons bevolking), verdoem tot akademiese middelmatigheid en dus die volle ontsluiting van hul kreatiwiteit en kritiese denke aan bande lê. Wat dít aanbetref skryf dr Neville Alexander die volgende: “An English-only, or even an English-mainly policy necessarily condemns most people, and thus the country as a whole, to a permanent state of mediocrity, since people are unable to be spontaneous, creative and self-confident if they cannot use their first language.”
Dus Pierre, met dr Alexander stem ek heelhartig saam. Om ‘n paar redes, maar ek volstaan by die volgende ervaring wat ek eerstehands in skole beleef het. Duisende jong mense wat in Engels onderrig word, word deur onderwysers wat self nie Engels magtig is nie onderrig. Hulle lot word verder vererger deur ‘n gebrek aan Engelse taalverwerwingsprogramme in die klas sowel as steun tuis, die afwesigheid van woordeboeke en addisionele leesmateriaal. Ja, daar is ‘n handjievol wat akademies presteer, maar die oorgrote meerderheid sukkel. Ek is dus van mening dat een van die foute wat ons in 1994 tydens die demokratisering van die politieke landskap gemaak het, was om die demokratisering van die tale-landskap te vernalatig. Dink net in hoeverre ons elke Suid-Afrikaner kon bemagtig het indien ons, ons inheemse tale omvattend begin benut het as instrumente vir opvoedkundige, sosio-kulturele en ekonomiese ontwikkeling. Maar néé, die taal van die nuwe politieke elite moes voorrang geniet. Gee wonder die massas kom vandag in opstand nie.
Aan Marie, my laaste rooikaart. Ek begin nogal geïrriteerd raak in die laaste tyd as ons die arm ‘bruin’ mense van die Wes- en Noord-Kaap voortdurend voorhou as Stellenbosch se sosio-maatskaplike verantwoordelikheid. Stellenbosch se primêre verantwoordelikheid is om akademiese uitnemendheid deur middel van Afrikaans na te streef en sorg te dra dat sy studente ewe goed ook in Engels kan skryf en navorsing kan doen. Ons bevind ons immers in die kennis-era en is deel van ‘n globale kennisekonomie. Om volwaardig mee te ding in die kennisekonomie, vereis egter bepaalde vaardighede waarvan die grondslag op voorskoolse, primêre en hoërskoolvlak gelê word.
Dus, as ons opreg omgee vir die lot van arm Afrikaanssprekende ‘bruin’ en ‘swart’ mense, kan ons nie anders om ‘n holistiese benadering te volg en ‘n omvattende instaatstellende program in elke gemeenskap reeds vanaf voorskoolse vlak van stapel te stuur met die doel om akademies uitmuntende studente vir die US te kweek nie. Ja, daar is enkele voorbereidingsprogramme wat deur die US self en andere van stapel gestuur word, maar dis onvoldoende. In dié verband het jy en baie ander vermoëndes vir wie die saak van Afrikaans na aan die hart lê, ‘n groot rol te speel om prof Russel Botman se Hoop-projek en die werksaamhede van veral Afrikaanse organisasies wat fokus op bemagtiging en die onderwys te steun.
Deur egter steun te weerhou, mekaar oor-en-weer te beskuldig en sleg te sê bring net verder vervreemding en konflik mee. Afrikaans se toekoms as onderrigtaal op tersiêre vlak kan op ‘n rasionele manier besleg en ook so verseker word.
Christo van der Rheede
Uitvoerende Hoof
Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
Dinsdag, 22 November 2011




