Voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal

Die vernaamste standpunte in die huidige aktuele debat oor Afrikaans as onderrigtaal het 'n konteks en 'n agtergrond. Die gebeure by die Universiteit van Stellenbosch het die debat oor die plek van Afrikaans in Suid-Afrika op die spits gedryf - nie net as onderrigtaal nie, maar ook of die taal gaan oorleef. Die debat kan soos volg opgesom word:

Standpunte teen onderrig in Afrikaans:

  • Afrikaans as voer- en onderrigtaal sou studente en dosente uitsluit wat nie Afrikaans magtig is nie.
  • Engels sou die lingua franca van Suid-Afrika wees, en daarom maak dit sin om hoëronderwysinstellings in daardie taal te bedryf.
  • Onderrig in Engels berei studente beter voor vir hulle beroepslewe in Suid-Afrika en die wêreld.
  • Afrikaans moet “bevry” word; presies waarvan is nie duidelik nie, maar vermoedelik behels dit dat die taal as sodanig gelykgestel word aan die beleide van vorige koloniale en apartheidsregerings.
  • Afrikaans is die taal van die onderdrukker en verdien derhalwe nie om bewaar te word nie.

Standpunte ten gunste van onderrig in Afrikaans:

  • Afrikaans is ’n volwaardige standaardtaal en is ’n bate vir Suid-Afrika.
  • Die Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika maak ’n beduidende deel van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en het ’n grondwetlike reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.
  • Aangesien Afrikaans ’n standaardvariant het wat ’n draer van kultuur is, het Afrikaanssprekendes ’n grondwetlike reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, mits dit nie met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
  • Moedertaalonderrig is die bewese beste medium van onderrig en leer, en daar is geen rede waarom Afrikaans nie daardie rol kan vervul nie.
  • As die hoëvlakgebruik van Afrikaans nog verder afgeskaal word, is daar weinig hoop dat die ander inheemse tale beduidende vordering sal maak.

Wat is die konteks waarin dié debat gevoer word?

Die kern van die debat gaan oor die gebruik van Standaardafrikaans. Dit is belangrik om te weet dat Afrikaans uit verskeie vorme (variante) bestaan. Naas Standaardafrikaans wat die hoër funksies vervul - soos in die beroepswêreld of as onderrigtaal - is daar talle ander vorme wat byvoorbeeld in verskillende streke of gebruikersgroepe gepraat word.

Afrikaanse Taalraad

Studente van die Universiteit van Stellenbosch en omliggende universiteite, asook leerders uit Worcester, het onder leiding van Marius Swart, taalbeplanningskundige van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch, tydens vanjaar se Woordfees hul opinies oor die taaldebat gelug.

“Koester Afrikaans as akademiese taal en skep bewustheid van die waarde van die moedertaal by die sprekers van die ander inheemse tale.” Dit was die standpunt wat studente en leerders tydens die Afrikaanse Taalraad se jeuggesprek by die Woordfees onomwonde gestel het.

“Alle inheemse tale moet mettertyd tot akademiese tale ontwikkel word sodat al Suid-Afrika se kinders die beste geleentheid kan kry om hul volle potensiaal te ontsluit.”

Die studente stem saam dat Afrikaans as moderne akademiese taal behou moet word - om opvoedkundige redes maar ook omdat die taal se infrastruktuur ʼn waardevolle bate is.

Op die vraag of die Afrikaanse standaardtaal behou moet word, was die antwoord ook ’n duidelike “ja”, maar met die voorbehoud dat dit verruim moet word om die variëteite van Afrikaans te weerspieël; en met dié versoek: “Moet asseblief nie skaam wees vir jou dialek nie”.

Of daar ’n stigma aan Afrikaans kleef en hoe dit afgebreek kan word? Die taak om die negatiewe persepsies oor ons taal af te breek, lê veral in die hande van jong Afrikaanssprekers wat hulle in die hier en nou bevind, en wat saam met die sprekers van die ander moedertale ’n toekoms moet bou.

 

Moedertaal op Universiteit – ‘Die ander kant’

Mercy Kannemeyer (Foto: Izak de Vries)


Mercy Kannemeyer, ’n honneurs-dramastudent by Stellenbosch Universiteit, het ’n 12-minuut dokumentêr (Die ander kant) oor wat daar is om te verloor indien Afrikaans finaal afgeskaf word as tersiêre onderrigtaal, gemaak. Daar word met kenners en studente gesels; insluitend Helen Zille, Willa Boezak, Rhoda Kadalie, Wim de Villiers en Abraham Phillips. 

Naomi Bruwer van LitNet het vir Mercy Kannemeyer oor haar dokumentêr uitgevra. Lees hier.

 

Hieronder is skakels na 'n verskeidenheid debatte en menings oor die voortbestaan van Afrikaans:

 

* Standpunte met dank aan Tom McLachlan - Hy is ’n beroepstaalpraktisyn met 40 jaar ondervinding in verskillende ruimtes in dié beroep en was 18 jaar lank lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, waarvan hy by sy uittrede die voorsitter was.

 

 

0 Kommentaar

Afrikaans.com wil aan jou, die leser, die geleentheid gee om in gesprek te tree en deel te neem. Ons sal egter geen vorm van haatspraak, kru, kras of vuil taal duld nie. Geen rassisme, seksisme, homofobie, persoonlike aanvalle of ander vorms van haatspraak word hier toegelaat nie. Afrikaans.com behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat nie aan ons bepalings en voorwaardes vir deelname voldoen nie. Redes vir die verwydering hoef nie deur Afrikaans.com verskaf te word nie. Hou in gedagte dat Afrikaans.com en jy as deelnemer aanspreeklik gehou word as jy iemand se regte skend.

Tik die syfers hier (Vervang syfers)
se bepalings en voorwaardes

Lewer eerste kommentaar.