Ag baby, I love it when you talk... Afrikaans!

08 November 2017

Laat sak jy jou kop in skaamte wanneer jy hoor hoe jou oupa, ma of tannie van Benoni Engels praat? Wel, ek het goeie nuus vir jou!

Afrikaans is onlangs aangewys as die wêreld se ‘sexyste’ aksent. Volgens die Ierse reis-webblad, Lovin, is “Affrikaans (ja, dit is hoe hulle dit spel) die sleutel tot hul harte”. Die opname het 50 van die wêreld se aksente van minste na mees sexyste gelys en selfs al kan die Springbokke nie die Aussies en die Kiwi’s op die rugbyveld wen nie, kan Suid-Afrikaners hulself daarin berus dat ons hulle op die kantlyn een voor is met ons sexy opmerkings en uitroepe (lees vloekwoorde).

Hoewel die opname nie amptelik is nie, Lovin het hul eie “betroubare ore” as maatstaf gebruik, kan ons nie anders as om trots op dié prestasie te wees nie. Die meeste Afrikaanssprekendes word immers al hul hele lewe lank oor hul ‘Boere-Engels’ geterg. Die kitskos kettinggroep, Wimpy, het ’n hele reeks “I love it when you talk foreign”-advertensies op Afrikaners se unieke Engels gebaseer. Selfs Klipdrift het ‘n eiertjie te lê oor ‘Afrikaanse-Engels’ met hul “Met eish, ja...”-advertensies.

So, van nou af, in stede daarvan om skaam te kry vir jou eie aksent, of die van ’n familielid wat trots hul r’e rol, praat jou ‘Afrikaanse-Engels’ met trots. Jy mag jouself dalk net in ’n situasie bevind waar ’n buitelandse meisie wil hoor hoe fluister jy in haar oor: “You are such a lekker cherry!”

Kyk hier ...

Indien jy nie seker is hoe om met ‘n Afrikaanse aksent te praat nie ... leer hier!