Gemeenskapskoerante praat met hul Afrikaanse lesers se harte

07 Desember 2017



“ ... en as ek droom dan droom ek in my taal en as ek saans voor ek gaan slaap met my God praat, dan praat ek in my taal, Hy verstaan ...” – Chris Chameleon uit Taal van die liefde

Afrikaans.com het in September afgeskop met ons #onmisbaar-veldtog, waar ons Suid-Afrikaners nooi om vir ons te vertel wat van Afrikaans vir hulle #onmisbaar is. Die veldtog het nou lekker momentum gekry en ons deel graag van die video’s en kommentaar van lesers van die Noordwes-koerantgroep.
Hiermee rig ons ook ‘n uitnodiging en uitdaging aan ons ander gemeenskapskoerante om julle lesers uit te nooi om met die hutsmerk #onmisbaar op sosiale media deel te neem en vir ons te vertel wat van Afrikaans is vir hulle onmisbaar. Ons deel dit graag.

Hoor net wat sê van die lesers van die Rustenburg Herald:
“Vyftien jaar gelede sit ek op ’n moltrein in ’n vreemde land en verlang huis toe. Ek verlang na my land, na my mense en my taal. Veral na my taal. Die trein stop en die deure gaan oop. Voor ek dit sien, hoor ek dit: 'n “G” soos wat geen Engelsman dit kan sê nie en ‘n “R” wat ekstrra lekkerr rrrrol. Al die ander geluide word sagter, so asof hulle ook stilbly om te luister. Asof hulle diensknegte is wat kom kniel voor my onmisbare taal... my Afrikaans. Oorkant my gaan sit ’n oom en tannie en hulle gesels land en sand oor al die dorp se skinderstories soos wat hulle dit vir hul seun oorvertel ...Daardie dag was my huis en sy mense vêr, maar die verlange was vir ’n kort rukkie vergete ... ek het besef hoe onmisbaar my Afrikaans is. Dat dit bo die vreemde geluide kon uitstaan en my Afrikaanse hart so kon aanraak. Dat dit selfs in ’n onbekende land die krag gehad het om my verlange te troos .. soos ’n ma.” – Irene Vosloo

“Afrikaans is #onmisbaar deel van my lewe. Afrikaans is ek in my moederskoot gevorm ... Nooit gewis om Afrikaans te besig, word lewenslank en #onmisbaar ... die norm ... Afrikaans, #onmisbaar, my trots.” – Maretha Mostert

“Waar het jy al in enige taal mooier woorde gehoor, soos rinkink, koringkriek, potjiekos en mampoer? Plekname soos Garies, Pofadder en Noenieput. Wees trots op jou taal, wees lief vir jou taal en praat jou taal ...” – Hetta Havenga

Kyk hier:

“Afrikaans is ’n liplekkertaal” – Graad R’s

“Afrikaans is soos lekkergoed. Dit proe lekker op die tong. Sonder lekkers en Afrikaans kan ek nie lewe nie.” – Larissa Mowers, graad 1.

“Afrikaans is soos my gunstelingsjokolade ...” Caitlyn Horn, graad R-leerder.

“Afrikaans vloei deur my are ...” - Martin Horn, graad 5-leerder.

“Afrikaans is suikersoet.” - Nicole Erasmus - graad 6.

“Ek rock in Afrikaans...” - Lise Marie J van Rensburg.

“Ek praat in Afrikaans ... sing in Afrikaans ...” - Greta Lottering, graad 2.

“Afrikaans is soos ’n vuur wat noit geblus kan word nie ... praat hom ...” - Zachary Wangra.


So voel die Stellalander se lesers oor Afrikaans:

“Trek uit daai borsrok ... maak jou bolla los ... laat jou Afrikaans ’n riel dans ...” - Christelle Wessels.

“Dis ’n taal vir die mense .. ’n lekkerkry-taal ...jy moet Afrikaans praat.” - Yolande de Vries.

“Afrikaans is ons menswees ... eie aan wie ons is. Dis saamkuier, biltong, braaivleis ... ek is trots Afrikaans.” - Deonita Odendaal.

“Dis so lekker soos melkskommel. Afrikaans is my TAAL!” - Ané Swanepoel.

Daar uit Upington, het Die Gemsbok se lesers die volgende te sê:

“Afrikaans is myne” - Anzil Kulsen, skrywer en ambassadeur in Afrikaans.

“Afrikaans is ’n warm taal.” - Mêrie Scheepers, kunstenaar en skrywer.

“Afrikaans is my oggend se opstaan, is die kyk in my oë, my hart se klop ...” - Gert Jacobs, digter.

“My kompas is Afrikaans ... en daarom is Afrikaans vir my #onmisbaar.” - Basie Heckroodt.

“Afrikaans is die taal waarmee ek leef, waarmee ek my vereenselwig ...” - Wally Cloete.

“Indrukwekkend, asemrowend, treffend, wonderlik ... roerend.” - Moryn Hanzen, skrywer.

“Afrikaans is my hoofletter-taal.” - Walter Moses.

Brits Pos se lesers voel ook sterk oor Afrikaans:

“My wêreld is vir my ondenkbaar sonder Afrikaans. Vir my is die woord, bittereinder, die pragtigste woord. My vrou hou weer van bollemakiesie en pruimedant.” Kerneels Lourens.

“Ek hou baie van Afrikaans. My ma het dit vir my geleer en ek wil dit graag ook vir my kinders leer.” - Jeronique van Zyl.

“Ek praat lekker Afrikaans!” - Saartjie Moumakwe.

En laaste maar nie die minste nie ... hoor hoe lekker gaan die jong klomp om met Afrikaans:

Joané Prinsloo en die VR-vrate: Amorie Page, Eric Thiart, JP Maré, Marlon Walster, Graeme Coetzee, Fitzgerald Huyser, Jonathan Sultan, Joané Prinsloo en Chenique van Rooyen.

Juffrou Alda se arende: Eben van Wyk, Ruan Putter, Charmoné Jansen van Nieuwenhuizen, Sumari Prinsloo, Charlize Theron, Marli Visser en Salomie Boshoff.

Wie is Noordwes-koerante?

Die Noordwes-koerantgroep bestaan uit 11 publikasies – o.a. die Rustenburg Herald, Brits Pos, Noordwester, Stellalander, Gemsbok, Klerksdorp Rekord en Bonus en word regoor die Noordwes Provinsie asook dele van die Noord-Kaap versprei.

Dankie Noordwes-koerante! Julle liefde vir Afrikaans is #onmisbaar.