SBA vra en jongmense antwoord

08 Augustus 2017

As bydrae tot die gees rondom Mandeladag het die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) op Vrydag, 28 Julie 2017, by die Kunstekaap-teater 35 matrikulante van verskillende skole byeengebring.

Ivor Price, tans bestuurder van sake-innovasie en spesiale projekte by Media24, het as fasiliteerder opgetree vir groepbesprekings rondom temas van onder meer diversiteit, leierskap, gemeenskapsbetrokkenheid en die toekoms van Suid-Afrika.

Gespreksfasiliteerder, Ivor Price, aan die woord tydens die interaktiewe gespreksessie. (Foto's: Stephen Fourie)

Ivor Price, Anke Vlok (Hoërskool Montana), Mej. SA 2017 Demi-Leigh Nel-Peters, Jannezene Tieras (Langeberg Sekondêre Skool), HemelBesem, Ridwhaana Jacobs (Esselenpark Sekondêre Skool) en Adin Pieters (De la Bat Skool).

Die jong mense se vars, toekomsgerigte sienings het gesorg vir opwindende gesprek en die SBA glo dat die ervaring hulle ook vorentoe sal motiveer en inspireer om met vrymoedigheid as jong leiers daarop aan te dring om ‘n daadwerklike bydrae binne hulle gemeenskap te maak.

Die verrigtinge is afgesluit deur die huidige mej SA, Demi-Leigh Nel-Peters, wat die leerders toegespreek het en met ‘n optrede deur Afrikaanse kletsrymkunstenaar, HemelBesem.

Matrikulante wat die forum bygewoon het saam met gespreksfasiliteerder, Ivor Price.

Ivor Price, Corné Pedro (Skurweberg Sekondêre Skool), Renata Booisen (Clanwilliam Sekondêre Skool), Mej SA Demi-Leigh Nel-Peters, Simon Witbooi (HemelBesem), Nicole Joubert (Hoërskool Graafwater), en Riana Mostert (Citrusdal Akademie).

Baie op die hart ...

"Ek wens ek kan weer ’n aand soos Vrydag beleef." – Adin Pieters, De la Bat Skool, Worcester

"Dit was, so veel soos wat dit inspirerend was, fassinerend ook, om te sien hoe 'n klomp jong mense van verskillende agtergronde, kulture, omgewings en rasse bymekaar kan kom om 'n gemeenskaplike probleem te identifiseer en aan te spreek. Om te sien hoe 'n generasie wat gebore is uit die donker putte wat ons gesegregeerde voorouers gegrawe het, saam opstaan vir wat reg is en weerstaan wat verkeerd is, het werklik die gees van Mandeladag voortgebring." – Martin du Plessis, Hugenote Hoërskool

"Die hoogtepunt van die jeugforum was die gesprekke wat ons gevoer het oor watter aspekte ons dink vir Suid-Afrika ‘n beter toekoms kan verseker." – Prudence Adonis, Bergrivier Sekondêr

Wiwe Ras-Pretoruis, Wes-Kaap se beste onderwyser 2016 verbonde aan Desmond Mpilo Tutu High, Mboweni vertel van een van haar leerders se belewenis:
Ayabonga was so gelukkig. Voel dat hy dinge beleef het wat hom verryk het, en kan nie ophou daaroor praat nie. Baie dankie aan julle vir die verskil wat julle in sy lewe gemaak het. Hy praat nou heeltyd met my in Afrikaans en klink my het ‘n groot liefde vir ons taal ontwikkel.

Lees meer oor die SBA se mentorskap en slypskoolprojekte. Klik hier ...