Tienertoneel: Die toekoms is in goeie hande

11 Oktober 2017

Tienertoneel: Die toekoms is in goeie hande

ATKV-Tienertoneel het Saterdagaand 2017 tot ‘n einde gekom toe Rianda Kruger, die finansiële direkteur van die ATKV, die drie wenstukke aangekondig het.

Rianda het begin deur te sê: “Ek het ’n boodskap vir die tieners. Julle gee ons soms slapelose nagte, maar ná wat ek vanaand hier gesien het, weet ek die toekoms van Afrikaanse toneel is in goeie hande.”

Die finale rondte van ATKV-Tienertoneel 2017 het van 4 – 7 Oktober in die Kunstekaapteater plaasgevind.

Hier is ’n oorsig van die vyf stukke wat Saterdagaand in die finaal gespeel het.

Die wenners

Waarom beland mense in die tronk? Is almal agter tralies skuldig aan die misdade waarvoor hulle sit?

Meer nog? Is daardie misdadigers monsters, of is hulle mense soos ek en jy?

Hoërskool Tygerberg se briljante stuk, Innie selle, ondersoek hierdie en talle ander vrae.

In 2016 het die skool ’n stuk geskryf oor die gedwonge verskuiwings van Distrik 6 na plekke soos Ravensmead, of dan die Ravies soos die locals sê.

Ravies het deesdae ’n naam gekry as ’n plek waarvandaan mense tronk toe geskuif word. Waarom? Dít is die vraag wat die spelers wou beantwoord.

Van die spelers woon in die Ravies, ander woon in gebiede waar bendegeweld ook ’n bekende gegewe is. Om die goed aan eie bas te voel, is een ding, om dit in ’n puik, geoliede storie te verwerk wat teen ’n geweldige pas op die verhoog afspeel, dit is ’n gans ander saak.

Pieter Nel het toe met die spelers gaan sit en begin met hulle eie stories. Toe het hy navorsing gedoen oor die bendes en die tronkkultuur en met konsepte na die spelers teruggekom. Daarna is die teks aangepas om die spelers se eie verwysingsraamwerke te weerspieël.

Zane Sauls, wat twee baie uitdagende rolle speel, is ook ’n goeie musikant. Hy was verantwoordelik vir verskeie van die liedjies wat in die stuk gebruik is.

“Die stuk oor die polisie wat sê march! is iets wat ons in die Ravies sing,” vertel Zane. Hy het die lied en vele ander, waaronder die bekende “Love for sale”, verwerk om by die stuk en die spelers te pas.

Hierdie stuk het diep, baie, baie diep getref.

Pieter Nel en Frans Hamman was die regisseurs.

Tweede plek

Die Hoër Meisieskool Bloemhof het met hulle stuk, Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed)aan die teaterganger ’n kykie gegee in die lewe van ’n jong vrou. Wat maak haar gelukkig, maar ook, wat maak haar kwaad en bang?

Daar is talle snaakse oomblikke. Die kwinkslae volg vinnig, soms deurmekaar. Bloemhof het gesprekke opgeneem wat hulle verbatim weer terugspeel aan die gehoor. Toe die skool hoor van die projek, het meisies ook aan die ensemble geskryf. Van daardie notas is ook op die verhoog voorgedra.

Hoe sien meisies hulself? Hoe sien meisies die ander geslag?

Hoe voel dit om ’n meisie te wees?

Die grappe is afgewissel met patos, stilte, flitsende ligte en soms selfs algehele duisternis.

Die rol wat gender speel in ons samelewing is ook bekyk. Die een karakter sê byvoorbeeld dat sy geleer het ’n seun se lyf beteken mag, terwyl ’n meisie se lyf ’n objek is om na gekyk te word. Sy streef na ’n plek in die samelewing waar haar opinies outomaties geag sal word.

Ook feminisme word bekyk en daar is ’n pragtige oomblik waar ’n jong meisie sê: “Dankie, tannie Krog” – verwysende na die vrou wat haar vuis durf lig op die moerse rots by Paternoster.

Die stuk is geskryf deur die ensemble, onder leiding van dr. André Gerber. Gerber en Anél Joubert het die regie behartig.

Die derde plek

Vir ’n klug om deur te dring na die top vyf, moet jy goed wees.

Wel, Plekke!, die inskrywing van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria is baie goed. Selfs geharde teatergangers het ná die stuk saamgestem dat dit kan meeding met menige klug wat al op die professionele verhoog gespeel het.

Heinrich het groot drome. Hy wil sy teks, wat handel oor die liefde tussen ’n man en ’n vrou, voor die ouetehuis opvoer. Daar is onder andere ’n wonderlike oomblik wanneer die held en die heldin soen.

Alles loop skynbaar volgens plan, tot hulle die kleedrepetisie tref. Toe, wel, toe loop dinge deeglik skeef.

Plekke! is geskryf deur Johann Smith. Ronél de Beer was die regisseur.

Die vierde plek

Kopskoot, ‘n stuk van Hoërskool Parel Vallei, speel af op ’n redelike skoon verhoog met min dekor wat slim gebruik word en gekoppel word aan ’n multimediavertoning.

’n Kopskoot is ’n kunswerk. Dit is moeilik om reg te kry, maar jy fokus op die oog en wag vir die regte oomblik om die knoppie te druk.Fotografie verg kennis en toewyding. Dit is ’n jaloerse minnaar.

Vra vir Alexander. Sy pa was die fotograaf bekend vir sy kopskote. Alexander se pa was gereeld weg om te werk, Alexander se ma was glad nie deel van sy lewe nie.

Dus, Alexander word alleen groot, leer om homself in sy werk te omvou, word ’n rekenmeester en laat die maatskappy se boeke klop.

Jacobus se ma het hom alleen groot gemaak. Ja, daar was ’n pa, maar sy ma was swanger toe sy besef het: Hierdie huwelik met die fotograaf gaan haar einde beteken. Sy het uitgetrek.

Jacobus het alleen grootgeword, gesorg dat hy ’n joviale front voorhou en mense by die waterkoeler voorgelê om seker te maak hulle weet wie hy is. Fake it till you make it, is sy motto.

Jacobus is egter bitter alleen; alleen in ’n groot stad vol mense wat saam met hom drink en hom dan alleen laat huis toe gaan. Eendag ontmoet Alexander en Jacobus mekaar in die gang, onbewus van hulle bloedverband.

Dit verg nog ’n kopskoot en meer as een sterfte om vir een van die twee hoop te bied.

Kopskoot is geskryf deur Annelie van Zyl wat ook die regie behartig het.

Die vyfde plek

Hoërskool Jan van Riebeeck se Die Niks is ’n besondere stuk wat handel oor Josef, ’n jong seun wat glad nie inpas by die res van sy gesin nie. Josef is ’n dromer. Sy broers en susters melk die koeie, Josef praat met die koeie. Sy broers en susters werk op die lande, Josef speel tussen die walvisse en die seekatte en die jellievissie en die hengelaarvisse wat net hy daar op die droë grond kan sien.

 

Josef sê hy is ’n profeet. Sy broers en susters sê hy is lui.

In hierdie moderne oorvertelling van die Bybelverhaal het Philip Rademeyer, wat die teks geskryf het, indrukwekkende marionette gebruik. Die gehoor kon die walvisse, die inkvisse, jellievissie en hengelaarvisse sien. Saam met uitstekende beligting, begelei deur musiek wat op die verhoog gemaak is, was Die Niks ’n kragtoer van klank en kleur.

Rademeyer het ook die regie behartig.

Lees ook ...