Die volle verhaal van Afrikaans in een boek!

15 Desember 2017

Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika

Die storie van Afrikaans is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het.

In Europa - waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word;

In Afrika - waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het;

In Asië - waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het.

Die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies oor bepalende gebeure wat Afrikaans en sy sprekers geraak het ’n nuwe, meer omvattende en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede.

Die boek het twee dele

Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika word in twee dele gepubliseer en is gedeeltelik gebaseer op E.H. Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede – maar daar word opnuut gekyk na Afrikaans en sy veelkantige herkoms.

In Deel 1 word die Europese verlede van Afrikaans weergegee en in Deel 2 kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan die beurt.
Lees meer oor die outeurs hier.
 

Wannie Carstens

Wannie Carstens en sy boek "Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika"

Die tydsberekening van hierdie boek?

Ons glo dus dat Afrikaans se wortel teruggaan op die Nederlandse verlede, maar ons toon ook duidelik aan die invloede (ander tale, normale taalverandering, oorlog, politiek) wat alles daartoe gelei het dat ʼn nuwe taal (nie Nederlands nie) in Afrika volwassenheid bereik het en uiteindelik as ʼn amptelike taal erken is in 1925. Hierdie taal se verbintenis met Afrika word bevestig deur die taal se unieke naam – genoem na die kontinent waar dit ontwikkel het: Afrikaans.” – W.A.M. Carstens

Daar het sedert 2000 ʼn opvallende oplewing gekom in studies oor die geskiedenis van Afrikaans. Van hierdie publikasies was gefokus op die toekoms van Afrikaans eerder as die verlede, maar dit het nietemin aangedui mense wil meer weet as die gewone storie. Boeke soos Giliomee & Schlemmer (reds.) se Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal (2001), F.I.J. van Rensburg (red.) se Afrikaans, lewende taal van miljoene (2004), Giliomee & Schlemmer se ʼn Vaste plek vir Afrikaans. Taaluitdagings op kampus (2006), Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans (2012), Hein Grebe se Op die keper beskou. Oor die ontstaan van Afrikaans (2012) en ook Jaap Steyn se bekroonde ‘Ons gaan ʼn taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014) is tekenend hiervan en dui ook op ʼn lewendige belangstelling in die herkoms én toekoms van Afrikaans. Dit is ook goed so dat die Afrikaanse gemeenskap belang stel in hulle taal.

In die boek, Die storie van Afrikaans, gaan die skrywers ver terug in die verlede en kyk wat Afrikaans se verwantskap met ander tale (deur ʼn studie van taalfamilies) in die wêreld is, Afrikaans se Indo-Europese verlede en hoe dit via Nederlands se geskiedenis (Oud-Nederlands Middelnederlands, Nieu-Nederlands) ontvou het in Europa, hoe die taal van die Hollanders in die 16de/17de eeu oorgeplant is aan die Kaap, hoe hierdie taalvorm deur talle ander tale (van Afrika-, Asiatiese en Europese herkoms) beïnvloed is, hoe die nuwe taalvorm mettertyd sy eie vorm en struktuur gekry het, hoe die taal se ontwikkeling geraak is deur die mense wat dit gepraat het, wat daartoe gelei het dat die taal amptelike status gekry het, hoe die taal se funksies gevestig is, en hoe politiek Afrikaans in die 20ste en 21ste eeu geraak het. Dus, die groot prentjie van wat daartoe gelei het dat ons vandag steeds die taal Afrikaans praat.

Die storie / verhaal word toegelig aan die hand van illustrasies van die tekste (geskrewe produkte) wat bewys hoe Afrikaans stadigaan ontvou het – en daar is ʼn magdom! Die wyer hoek het dan ook daartoe gelei dat die storie in twee dele ontvou het – die Europese verlede van Afrikaans (deel 1, wat pas gepubliseer is) en Die geskiedenis van Afrikaans (deel 2, wat tans in die afrondfase is en waarskynlik teen Augustus/ September 2018 sal verskyn).

Waarom het ons hierdie perspektief nodig op ons pad vorentoe?

Hierdie perspektief is nodig om die Afrikaanse taalgemeenskap die motivering en selfvertroue te gee dat dit die moeite werd is om ons wel vir Afrikaans se voortbestaan te beywer. As ons meer weet oor die besondere pad wat Afrikaans geloop het om taal te word, en ook op hoogte is van die faktore wat Afrikaans se verlede negatief geraak het, is ons beter in staat om ons saak te stel en ons te beywer vir ʼn regmatige plek vir Afrikaans in ons land. Dan weet ons Afrikaans is nie sommer ʼn hierjy-taal nie, ʼn mindere taal nie. Inteendeel! Ons moet eerlik wees oor Afrikaans se posisie vandag en ook weet hoekom Afrikaans vandag onder soveel politieke druk is. En dit is die prentjie wat die skrywers poog om in hierdie boek(e) te skets.

Meer oor medeskrywer, prof Edith Raidt.

Prof Edith Raidt (1932) was tot met haar aftrede professor in die historiese en Afrikaanse taalwetenskap aan Wits, en daarna was sy die stigter-president van die St Augustine College of SA in Johannesburg. Sy het in haar loopbaan verskeie toekennings gekry, o.m. die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se CJ Langenhoven-medalje vir Taalkunde, en vier eredoktorsgrade (onder meer PU vir CHO, voormalige UPE, Wits, Univ. van Natal). Sy is die outeur van tientalle akademiese artikels asook drie boeke, te wete Afrikaans en sy Europese verlede, Einführung in Geschichte und Struktur des Afrikaans, asook Historiese taalkunde: studies oor die geskiedenis van Afrikaans. Geen wonder nie dat sy in haar Wikipedia-profiel beskryf word as “een van die internasionaal mees erkende Afrikaanse taalkundiges wat veral bekend staan vir haar navorsing en publikasies oor die geskiedenis van Afrikaans”.

Afgesien van haar belangstelling in Afrikaans het sy haar ook gewy aan die vestiging van die Rooms-Katolieke Kerk se geloofsbelydenis en liturgie in Afrikaans, deur verskeie vertalings hieroor in Afrikaans.

Sy is nou finaal afgetree en woon tans in die Schönstatt Instituut in Constantia, Kaapstad. Prof Edith het elke woord in die boek gelees en kommentaar gelewer.

Metodologie agter die boek? Prof Wannie Carstens deel die proses met ons – duidelik nie ‘n taak vir sissies nie!

  • Prof Raidt se boek Afrikaans en sy Europese verlede (1991, 3de uitgawe) is as vertrekpunt gebruik, maar ek het die reg en vryheid gehad om by te voeg soos ek goed dink, gebaseer op my jare lange betrokkenheid by taalgeskiedenis en historiese taalkunde.
  • Verder het ek alles nuut oor die veld gelees om te sien wat sedertdien verskyn het – dit was ʼn omvattende en omslagtige proses. En dit moes in die manuskrip verreken word, wat nie ʼn maklike taak was nie!
  • En omdat ook die toekoms van Afrikaans betrek word (in boek 2) moes ek op hoogte bly van berigte en publikasies oor die onderwerp – en mense skryf baie oor die toekoms van Afrikaans. Die voordeel veral van koerantberigte (artikels, briewe, meningstukke) is dat dit tendense bevestig wat in die vakliteratuur aangedui word. Dit het fyn sifwerk geverg om die kernbronne te identifiseer.
  • Die bronne vir die boek was so omvattend dat ons nie alles in die boek self kon betrek nie. Met die oog daarop is ʼn webblad tot stand gebring waar daar talle aanvullende bronne geraadpleeg kan word: www.storievanafrikaans.co.za
  • Ons het ʼn sosiohistoriese benadering tot die boek gevolg: Ons probeer die sprekers van die taal en dit wat hulle lewens geraak het, beter verstaan, sodat ons weer beter kan verstaan hoekom Afrikaans vandag is waar dit is: onder sterk politieke druk, en waar dit stadigaan funksies begin verloor.
  • In 2013 het ek vier maande in Leiden, Nederland gewerk aan die boek. Prof Marijke van der Wal van Leiden was my gasvrou. Sy is een van die groot name in die Nederlandse taalgeskiedenis en sy het my ongelooflik baie gehelp – deur gereelde gesprekke met haar en ook die opvolg van literatuur wat sy aanbeveel het.
  • Verder het ek gesprekke met talle kollegas (in SA asook in die Lae Lande) gevoer oor aspekte waaroor ek nie voldoende bronne kon opspoor nie of waarvan ek nie genoeg geweet het nie. Ek kon dus my akademiese en persoonlike netwerk wat oor bykans 40 jaar opgebou is, inspan.
  • Prof Edith het self ook die hele teks deurgewerk en sy moes kommentaar lewer oor dinge waaroor sy onseker was. Ek het haar ook gereeld ingespan om bepaalde sake vir my na te gaan. Dit is dus deeglik ons beide se boek.
  • En ek het elke oomblik wat ek in my program kon oopmaak gebruik om te werk aan die boek. Dit is eintlik vreemd om ná bykans vyf jaar weer tyd vir myself te hê...
  • ‘n Paar verrassende feite wat baie mense nie weet nie oor die Europese verlede.

Die volgende feite het volgens prof Carstens maar net bevestig wat ons reeds weet:

  • Dat Afrikaans nie ʼn klein taal is nie, al dink baie mense so. Om onder die 110 grootste uit 7 099 tale (soos dit teen 2017 bereken is) te wees, is beduidend.
  • Via Nederlands (die 40ste grootste taal ter wêreld) kry Afrikaans toegang tot Europa.
  • Dat Engels nie so groot is as wat mense dink nie. Die taal met die meeste sprekers ter wêreld is Mandaryns en nie Engels nie...
  • Dat Engels se invloed aan die kwyn is.
  • Dat ons nog steeds op soek is na antwoorde op baie vrae oor tale en die herkoms van besondere tale.
  • Dat insigte wat ons vandag aan die hand van die beskikbare studies en literatuur het, dalk oor jare verkeerd bewys kan word.
  • Dat dit dom sal wees om die invloed van Nederlands in die ontwikkelingsgang van Afrikaans te negeer.
  • Dat Nederlands nie ʼn eenduidige taal was nie, maar dat dit ʼn samevloei van soveel dialekte uit die vroeë tye verteenwoordig.
  • Dat die Nederlands wat na die Kaap oorgeplant is, beïnvloed is deur soveel ander tale, o.a. Latyn en Frans.
  • Dat Afrikaans en Engels se herkomsspoor tot in die 9de eeu dieselfde is.
  • Dat ons soveel by die Nederlanders kan leer oor taalbehoud.
  • Dat daar nie ʼn enkele herkomsteorie oor Afrikaans bestaan nie.

Waarna kan mense uitsien in die tweede deel?

Die ontwikkeling van die 17de-eeuse Suid-Hollandse dialek word gevolg: hoe dit met die sprekers van ander tale (Europese, Afrika- en Asiatiese tale) in kontak gekom het, hoe ander tale en die sprekers van hierdie tale die ontwikkelende taalvorm in die loop van die 16de en 17de eeu beïnvloed het, hoe uit hierdie taalvorm in die loop van 150 jaar ʼn eiesoortige taalvorm (wat deur besoekers aan die Kaap as “bederfde Nederlands” beskryf is) geword het, hoe hierdie taalvorm vanaf die 18de eeu sterk deur Engels beïnvloed is, hoe die nuwe taal uiteindelik in 1925 as amptelike taal erken is.

Dit is bekende feite, maar dit word nuut bekyk en die sosiohistoriese konteks waarbinne hierdie ontwikkeling plaasgevind het, word duidelik uitgespel – tot en met die posisie van Afrikaans vandag en hoe Afrikaans se posisie in die toekoms verstewig kan word. So is daar byvoorbeeld 82 aksies geïdentifiseer wat mense kan navolg om Afrikaans se posisie te verstewig.

Die skrywers meen ook dat die geskiedenis van Afrikaans te eenogig tot op hede beskryf is – hoofsaaklik as die geskiedenis van die wit sprekers van Afrikaans – en aan die hand van die uitpak van feite en die beskouing van bepaalde gebeure bewys hulle dat Afrikaans ʼn inklusiewe taal is en dat dit ook in historiese beskouings oor Afrikaans weerspieël moet word. Dus word daar ʼn ruimer blik op die geskiedenis van Afrikaans gegee.

Waar staan Afrikaans VANDAG en wat is die uitdagings, maar meer nog, waaroor kan ons opgewonde voel?

 

Hou op om te wag op “iemand” om Afrikaans namens jou te ‘red’ – jy moet dit self red deur jou optredes.” -  Prof Wannie Carstens

 

Prof Wannie Carstens deel sy gedagtes:

“Afrikaans is vandag onder ongelooflike druk. Dit help nie ons probeer dit ontken nie. Daar is mense wat dit ontken met die uitsprake dat Afrikaans “altyd gepraat sal word” “en “dat dit met die Afrikaanse kunstefeeste so goed gaan”. Dit is helaas nie waar nie. Ons moet ook nie naïef hieroor wees nie. Ons moet weet van die druk op Afrikaans is die gevolg van politieke besluite van vroeëre geslagte Afrikaanssprekendes. Dit moet in ons gedagtes en strategieë oor Afrikaans verreken word. Afrikaans staan dus binne ʼn negatiewe politieke konteks. Aanvaar dit en beplan binne hierdie raamwerk vir Afrikaans se toekoms.

“Ek glo dat Afrikaans nog baie lank in SA gepraat en gebruik gaan word. Maar ek kan nie verklaar dat dit “vir altyd” sal wees nie. Daar is te veel faktore wat dit kan verhoed, soos immigrasie (binne drie geslagte word ʼn taal verloor), kinders wat eerder na Engelse as Afrikaanse skole gaan, verlies aan belangrike funksies van Afrikaans (soos onderwys: skole, universiteite; howe; mediataal; taal van die sake-omgewing; taal van die politieke omgewing; taal van staatskommunikasie; ens.) en dan natuurlik die verloor van vertroue in die taal se toekoms.

Maar daar is steeds baie wat ons kan dóén om Afrikaans te behou, én uit te bou: ons moet aanhou om Afrikaans in alle omgewings en funksies te gebruik, ons moet Afrikaans polities beter posisioneer, ons moet die beeld van die sprekers van Afrikaans verander, ons moet deel word van die nuwe SA en ons nie eenkant hou nie, ons moet aggressie uit die debat oor Afrikaans haal, ons moet ophou kla en doen, ons moet nie dom dinge in Afrikaans doen nie, ons moet ras as onderskeidende faktor uit die taaldebat en die Afrikaans-debat haal en dit volhou, ons moet betrokke raak by aksies vir en in Afrikaans, ens.:

Beskikbaar by - Protea-boekwinkels of via www.proteaboekhuis.co.za
Prys R450.

Lees ook
Wannie Carstens en Afrikaans
Meer oor die boek: Die storie van Afrikaans