Elsa Joubert: merkwaardige mymeringe oor ʼn vol lewe

18 Desember 2017

Om 95 jaar oud te word, is nie baie mense beskore nie, en nog minder mense kan daarmee spog dat hulle so ʼn mylpaal-verjaarsdag kon vier met die publikasie van ʼn nuwe boek. Dis presies wat die bekende Sestiger, Elsa Joubert, vanjaar gedoen het. Ilse Salzwedel vertel meer.

Spertyd is die derde boek in Elsa Joubert se outobiografie-drieluik, en is voorafgegaan deur 'n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Die boek fokus op haar lewe nou in ʼn Kaapstadse aftreeoord, maar kyk ook terug op haar nege dekades. Daar is mymeringe oor haar kinderjare, vriendskap, skrywersloopbaan, gesin en mede-afgetredenes. Maar soos ʼn mens kan verwag van iemand van Elsa se kaliber, takel sy ook aktuele onderwerpe, soos die toekoms van Afrikaans en boeke – sy is nie baie beïndruk met elektroniese boeke nie – en die situasie in Suid-Afrika. Maar belangriker as die stories, is Elsa se perspektief, lewenswysheid en verwondering oor die lewe. Haar gestroopte, eerlike manier van skryf bly ʼn mens by lank nadat jy die boek neergesit het.

Die titel is ʼn sinspeling op die joernalistieke term, maar ook op die naderende dood, en spruit uit ʼn gesprek tussen Elsa en haar seun, Nico, oor werk wat hy moes doen. Elsa vertel hoe hulle uitgebars het van die lag toe sy opmerk dat sy waarskynlik die dringendste spertyd van hulle twee het, want sy moet haar boek klaar skryf voor sy dalk doodgaan.

Die boek het my nuuskierig gemaak oor Elsa Joubert se vroeëre skryfwerk. Sy is waarskynlik die bekendste vir Die swerfjare van Poppie Nongena, wat in 13 tale vertaal is en met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys bekroon is. Maar haar roman, Die reise van Isobelle, is in 1995 met die Hertzogprys bekroon, en voor dit was daar verskeie reisjoernale en ander romans. Die jong Elsa Murray (haar nooiensvan) was haar jare ver vooruit, en het as jong vrou Afrika op haar eie deurkruis. (Haar eerste reis was al met die Nyl langs, van die oorsprong tot by die see.) Hoeveel ander vroue van haar tyd was dapper genoeg om die onbekende op hul eie aan te durf?

Spertyd is ʼn merkwaardige slothoofstuk in ʼn dik, indrukwekkende skrywersboek. Baie geluk, Elsa Joubert, en baie dankie vir wat jy vir Afrikaans gedoen het.

Lees ʼn uittreksel uit Spertyd.

Luister:
Skrywers en Boeke van 12 Desember is aan Elsa Joubert gewy. Suzette Kotze-Myburgh het met haar gesels. Luister hier na die potgooi. 

Lees meer:
Elsa Joubert-profiel vir Litnet.
http://www.litnet.co.za/hoe-dit-gekom-het-dat-ek-poppie-geskryf-het-2004/
http://www.oulitnet.co.za/mond/ejoubert.asp
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Nuus/skrywer-elsa-joubert-koop-die-tyd-uit-op-95-20171101
https://www.pressreader.com/south-africa/die-burger/20171019/281762744491653

Lees ook

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Aan die woord 

Ons gesels met Afrikaanse skrywers.
Klik hier ... 

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wat lees jy?

Wat lees skrywers, boekklubs, leeskringe, en – natuurlik – wat lees jý?
Klik hier ... 

Wetens-
waardighede

Interessanthede oor skrywers en die Afrikaanse letterkunde deur die jare.
Klik hier ...

Ek wil skryf

Uitgewers, skryfkompetisies en -werkswinkels – hier kry jy inspirasie en hulp!
Klik hier ...