Izak du Plessis se eerste boek het onlangs verskyn. Boereverneukers.

04 Desember 2017

Izak du Plessis, aanbieder van Monitor/Spektrum op RSG, se eerste boek het onlangs verskyn. Boereverneukers se subtitel is nie verniet Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters nie, want byna elke groot Afrikaanse skelm is in hierdie boek. Ilse Salzwedel het met Izak gesels.

Boereverneukers is een van daardie heerlike boeke wat ʼn mens so bietjie vir die mensdom (en jouself) laat lag, want ons almal het al onder ‘n swendelaar deurgeloop. Hulle lieg, bedrieg en gee voor, en hulle is meesters as dit kom by inligting verdraai, die waarheid verdoesel, geld verduister en lewens verwoes. Eers wen hulle jou vertroue, en voor jy jou oë kan uitvee, is jy nie net jou reputasie kwyt nie, maar dikwels ook sommer alles wat jy besit. Tog kom selfs swendelaars hul moses teë, en dís wat die leser soveel genot gee: om te sien hoe sit selfs die mees agterbakse swendelaar se turf uiteindelik!

Izak skryf oor ‘n hele klompie bekende swendelaars, soos die kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, die “uitvinder” Gervan Lubbe, die kamma-pediater André Esterhuizen en die Hertzogville-profeet David Francis, wat die hele land op hol gehad het toe hy belowe het ‘n inwoner van die Vrystaatse dorpie gaan uit die dood opstaan. Maar daar is ook ‘n hele klompie (vir my) onbekende skelms se verhale in Boereverneukers. Die ideale leesstof vir hierdie tyd van die jaar wanneer mens net bietjie wil afskakel.

Hier is Izak se antwoorde op die bekende Proust-vrae. Die eerste vier is spesiaal geskep vir Afrikaans.com:

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Op die oomblik is dit swendelaars, swierbolle en swerkaters

Die mooiste reël in ʼn Afrikaanse gedig?
Die berggans het ʼn veer laat val (Boerneef)

Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek?
Triomf deur Marlene van Niekerk

Die eerste boek wat jy op jou eie gelees het?
Ek kan glad nie meer die titel onthou nie, maar dit was ʼn liefdesverhaal wat juffrou Böning elke laaste paar minute van die dag vir ons in Sub B op Petrusburg voorgelees het. Dit was vir my skreeusnaaks, en ek het die boek by die biblioteek gaan leen om te lees. Ek was my ouderdomsgroep ver vooruit met lees. Ek het in standerd 1 al my ma se biblioteekkaartjies geannekseer sodat ek meer boeke kon uitneem. Ek kan onthou dat ek al baie vroeg in my lewe met PH Nortje kennis gemaak het.

Wat is jou idee van perfekte geluk?
ʼn Oomblik êrens op ʼn verlate grondpad in SA net voor die son sy kop laat sak. Daardie stilte, die kleure, die intimiteit met jouself, die bewussyn van jou kortstondige bestaan binne ʼn groter bestel, jislaaik, dit is oomblikke wat ʼn mens tot barstens toe met geluk vul.

Jou grootste vrees?
‘n Hartaanval. Al vandat my pa dood is aan ‘n hartaanval in 1987 vrees ek elke stukkie spanning in my borskas. Dis ‘n redelose vrees waarvoor ek selfs al op medikasie was.

Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek praat soms heeltemal te veel.

Watter lewende mens/e bewonder jy die meeste? En hoekom?
Daar is verskillende mense wat op verskillende dae op die voorgrond sal tree. Vandag is dit meneer Harry Gird, my skoolhoof op Petrusburg in die Vrystaat. Hy en sy vrou, juffrou Nelly, is die beste onderwysers in die annale van die onderwys. Vandag nog stroom oudleerlinge na hul huis op Mosselbaai toe omdat hulle net sulke omgeemense is wat ‘n verhouding met elke leerling in hul loopbaan gehad het. En vandag se onderwysers kan gerus kennis neem: hulle het nooit geskree nie.

Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek en uitspattigheid is sinonieme. Ek koop gewoonlik hopeloos te veel kruideniersware (dan moet ek later daarvan weggooi) en hopeloos te veel wyn (dit word darem nooit weggegooi nie). Ek doen baie dinge in die oortreffende trap. Soms tot my voordeel en dikwels tot my nadeel.

Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Steek hom, Stinkie! Stinkie is my imaginary vyand en ek kry altyd alte lekker as ek iets goed in die lewe kan regkry en vir Stinkie ‘n punt bewys.

By watter geleentheid sal jy waarskynlik 'n bietjie jok?
Enige geleentheid waarvoor dit nodig sal wees. Wees dus op jou hoede.

Wat of wie is die liefde van jou lewe?
My kinders, Hendro en Mia, is die liefdes van my lewe. Anderkant hulle glo ek glad nie in liefde nie.

Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Ek wil so graag kan teken. Maar my vingers is stomp en lomp.

Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Dat ek heelhuids tot hier gekom het. Ek het ‘n paar goed gesien en beleef wat min mense ooit sien en beleef. En wat min mense so kan hanteer het. Ek klop myself graag in stilte op die skouer dat ek dit tot hier gemaak het.

Wat is jou kosbaarste besitting?
Ek het onlangs ‘n baie groot platskermtelevisie aangeskaf. Ek verstaan nie hoe ek ooit sonder televisie kon klaarkom nie.

Waar wil jy die graagste woon?
In Johannesburg. My Jozi. Die stad met ‘n hart en siel en met vibe en ritme en mense.

Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Om gevange te wees in die kettings van iemand anders se goedheid. Jy bly altyd in die skuld by daardie mense.

Wie is jou gunstelingskrywers?
Margaret Atwood, NP van Wyk Louw, Milan Kundera, John Steinbeck en John Irving.

En jou fiksieheld/in?
Dit is en was en sal altyd Tomas in The unbearable lightness of being, wees. O, om so verskeur te wees tussen liefde en losgatgeit, lig en swaar, dit bly vir my ‘n aangrypende verhaal. En Sabina, sy is net lieflik.

En jou helde in die regte lewe?
My lewenspad tot hier het my te diep onder die indruk gebring van ons almal se feilbaarheid. Ek het dus regtigwaar nie meer helde wat ek verromantiseer nie. Ons is mense met lig en donker in ons en ons moet die beste daarvan maak. Nie almal kry dit ewe goed reg nie. En soms oorweldig die donker die meeste van ons.

Wat is jou leuse?
Alles gaan verby.