Kleinboer: Die laaste Afrikaanse man in Yeoville?

03 Augustus 2017

Skryf oor die Afrikaans in Kleinboer se buurt, vra die redakteur. Maar hier waar ek in die donker van die klein rolprentteater op die Kovsiekampus sit by die première van ‘n film oor Kleinboer se lewe, besef ek skielik: Kleinboer ís die Afrikaans in Yeoville – Ilse Salzwedel

Dis ʼn Vrydagaand tydens die Vrystaatse Kunstefees, en ons is twee handevol mense wat kom kyk het na die uurlange dokumentêre film, gemaak deur Niel en Charlene Brouwer. Dit vertel die verhaal van die bekroonde skrywer Kleinboer, oftewel Fanie de Villiers, se lewe in Yeoville, eens ʼn trendy Johannesburgse voorstad neffens Hillbrow. Dekades gelede was dit dié plek om uit te hang. Nou is dit ʼn plek waar die meeste Johannesburgers dit nie na donker sal waag nie. Maar nie Kleinboer nie – hy woon al sedert 1986 hier.

“Toe was dit nog boheems en Joods,” vertel hy vir die kamera terwyl hy hom besig hou met allerhande dinge in en om sy huis. Sy tuin is sy trots, al terg sy vriende hom dat dit allesbehalwe Kirstenbosch is. Sy Jack Russel is nooit ver van haar baas af nie, en daar is die wilde koi in wat eens ʼn kleutertjie se plastieksandput was.

Yeoville is wêrelde verwyder van sy grootwordjare in Benoni aan die Oos-Rand, iets wat telkens opduik in sy gesprekke. “My grootwordjare was idillies,” vertel Stephanus Josiah de Villiers, een van ʼn tweeling. Sy pa was ʼn wiskunde-onderwyser, so daar is nie eintlik oor boeke gepraat in hul huis nie. “Maar my kop was toe al vol woorde.” Tog het hy ʼn B.Sc.-graad behaal en vir 20 jaar in die IT-bedryf gewerk voordat hy ʼn werk as subredakteur in die media aanvaar het. Tussendeur het hy hier en daar geskryf. Toe verskyn Kontrei in 2003, ʼn boek wat vir opskuddings in die literêre wêreld gesorg het en bekroon is met die Rapport/Jan Rabie-prys. Daarna volg Werfsonde, in 2012, en vanaand is ons hier vir die bekendstelling van Hierdie huis.

In Kontrei het hy sy woede verwoord teen die ou orde. In Werfsonde, erken hy, was daar ʼn melancholie oor die verlies van die ou orde, ʼn byna nostalgiese herwaardering van die ou orde omdat die krake van die nuwe een toe reeds begin wys het. “Dis ironies dat die wat jou wonde toegedien het, jou ook vlerke gegee het.” In Hierdie huis skryf hy, in sy eie woorde, oor die etos wat hom gevorm het, wat hom laat word het wie hy is: diep Afrikaans. “Ek het nog altyd gerebelleer teen die Calvinisme, maar dit het ironies genoeg die grondslag gelê van wie ek is.”

Kleinboer, se derde outobiografiese roman, Hierdie Huis, het pas verskyn. Maar wie is hierdie komplekse man wie se debuutroman die letterkundige wêreld aan die gons gehad het nog voordat dit met die gesogte Jan Rabie-/Rapportprys bekroon is?

Hier is ʼn voorsmakie van Niel van Deventer en Charlene Brouwer se treffende dokumentêr getiteld Kleinboer en Lungi. https://vimeo.com/228101956

Niel vertel dat Fanie se lewe en werk hom nog altyd gefassineer het. “Na ʼn gesprek met die skrywer Johan Rossouw en Fanie het ek besluit om hom en sy omgewing beter te leer ken en ʼn dokkie te maak. Ons hoop om dit aan internasionale filmfeeste voor te lê, en later ook aan ʼn plaaslike kanaal te verkoop.”

Kleinboer, bekend as grensverskuiwende skrywer. Sy werk is beslis vir die met effe meer waagmoed, maar vorm ʼn onlosmaaklike deel van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en sal dekades later steeds oor gepraat word.

Sedert sy lewensmaat Lungi se dood (waaroor hy skryf in sy jongste boek) is daar maar min mense met wie hy Afrikaans kan praat in Yeoville. Soms, as hy in die Portugese slaghuis staan om vleis te koop vir sy naweekbraai – iets waarvoor hy getrou die hele week afvalhoutjies versamel en dennebolle by sy werk optel – hoor hy flertse Afrikaans. En as jy Afrikaans in Yeoville hoor, gaan skryf jy daardie sinnetjie dadelik neer as jy by die huis kom, lag hy. Tog beleef hy op ʼn manier die depolitisering van Afrikaans. “In Yeoville word ras nie meer aan Afrikaans gekoppel nie,” vertel hy tydens ʼn onderhoud met die skrywer Johan Rossouw na afloop van die film. “Ek voel geen vyandigheid teenoor my aan nie. Die vyandigheid wat daar dalk mag bestaan tussen wit en swart, is iets wat ek eerder in die media lees.”

Kleinboer se liefde vir Afrikaans is wyd bekend. Sy werk is deurspek van slim woordspelings wat net in Afrikaans sin maak. Ironies genoeg gebruik hy ook graag Afrikaanse teksverse – hy verkies die 1953-Bybelvertalings – in al drie sy boeke. Hy is bekend vir sy liefde vir die werk van Breyten Breytenbach, Wilma Stockenstrom, en die digter Johan van Wyk, om maar enkeles te noem. “Lees was vir my ontspanning en ontsnapping as kind. Ek was mal oor daardie Klub 707-boeke.”

Sy romans was ʼn natuurlike uitvloeisel van sy ewige briefskrywery, vertel hy. Eers was daar al die briewe wat hy in sy weermagdae vir sy ouers en tweelingbroer geskryf het, en later korrespondensie met mense soos Koos Kombuis, Johan van Wyk en nog ander. Hy skryf steeds daagliks vir sy broer, wat ʼn gewone voorstedelike Afrikaanse lewe lei in Pretoria, ʼn tipe verslag van die vorige dag. Waarom skryf hy die briewe? “ ʼn Ou skryf mos maar omdat jy ʼn behoefte het om te kommunikeer. Dit verg geen dapperheid nie.” Maar om die briewe in fragmente te omskep, aanmekaar te las as ʼn samehangende verhaal en dan te publiseer, verg gewis dapperheid. Veral as baie van dit waaroor jy skryf, gaan oor dinge soos besoeke aan bordele, iets wat baie dalk doen maar min die moed het om oor te praat.

Maar dit daar gelaat. Vir die mense van Yeoville, sy stukkie huis, is hy net Fanie.

“Hulle weet nie eintlik ek skryf boeke nie.”

Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/03/kleinboer-kontrei-2003.html
http://www.litnet.co.za/werfsonde-deur-kleinboer-die-groter-geheel-is-in-die-klein-detail/
http://www.litnet.co.za/boekresensie-hierdie-huis-deur-kleinboer/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/n-lewe-gewoontes-gewortel-in-verval-20170716
http://www.litnet.co.za/hierdie-huis-deur-kleinboer-n-litnet-akademies-resensie-essay/