‘n Wolf in Skaapsklere en ander idiome – Kobus Galloway

24 Julie 2017

Skerp sketse

Kobus Galloway is die man agter die baie gewilde en vlymskerp Idees Vol Vrees-spotprente, en het pas sy sesde boek in sewe jaar gepubliseer. Wolf in Skaapsklere is ʼn prettige boek wat jou beslis anders sal laat kyk na Afrikaanse idiome.

'n Wolf in Skaapsklere en ander idiome – Kobus Galloway

 

Hy was maar ses jaar oud toe hy sy eerste spotprente geteken het, en vandag is Kobus Galloway, ʼn opgeleide grafiese kunstenaar van Kaapstad, ʼn huishoudelike naam. Sy eerste dubbelsinnige Afrikaanse strokiesprente het in 1999 die lig gesien. Dit was met die hand geteken en ingekleur, en soortgelyk aan wat ons nou ken as Idees vol Vrees. “Die eerste was Haasman en Boks, toe Die (mis)Avonture van skorsie en Das en later ook Die Avonture van Teerkat. Elke strokie het omtrent agt ure geneem om te doen,” vertel Kobus, ʼn kreatiewe kêrel wat ook al as skerpskertser op die verhoog te sien was.

 

In 2010 het hy die wonderwêreld ontdek van teken met ʼn digitale tekentablet, en besluit om sy strokiesprente – wat soms uit tot twintig blokkies met net soveel grappies bestaan het - liewers as enkelprente te publiseer. “Dit sou makliker versprei kon word, en dan is daar twintig spotprente om mee te speel eerder as net een strokie.”

Sy groot deurbraak was op sosiale media. “Ek het op 25 Februarie 2011 my Facebookblad begin, en binne ‘n paar maande het ek reeds 40 000 aanhangers gehad. My eerste boek het later daardie selfde jaar verskyn.” Maar sy bekendheid en sukses het nie na sy kop toe gegaan nie en hy beskou elke jaar as ʼn nuwe uitdaging. “Daar gebeur altyd iets nuuts, of dit nou 'n nuwe projek, kliënt of boek is. Ek is baie dankbaar oor hierdie gawe wat ek gekry het, en wil dit gebruik om mense te vermaak.”

Toe Ilse Salzwedel vra waar sy spotprente oral verskyn, skerts hy dat dit heel eerste op sy rekenaar verskyn. “Ek dink nie daar is ʼn plek waar dit nog nie verskyn het nie – met en sonder my toestemming, natuurlik,” lag hy. “Dit was al in verskeie Afrikaanse en Engelse tydskrifte en koerante, op televisie en natuurlik op die internet. Dit word ook dikwels gebruik in Afrikaanse klaskamers.”

Op Afrikaans.com het Kobus Galloway gesorg vir ure se pret met ‘Raai die woord raak’ en ons maak eersdaags weer so!

As jy dalk die speletjie misgeloop het, kyk hier ...

Werkersdag

Oorvloed

Leerprobleem

Verjaarsdagkoek

 

Kobus sê hy is nie seker waar sy sin vir humor vandaan kom nie. “My maatskappy se naam is Komedie Media, en toe ek dit eendag vir my ouma noem, vertel sy my dat sy 'n familielid gehad het met die bynaam Piet Komedie. So, ek glo my humorsin kom van my ouma se kant van die familie. Sy is net so snaaks!”

Wat dink hy is die geheim van sy prente se sukses? “Ek dink daar is ʼn paar redes. As mense hulself byvoorbeeld herken in ʼn spotprent, sal hulle dit snaaks vind. Ander kere is dit net hoe dit geteken word, of hoe ek die woorde gebruik. Soms is dit doodeenvoudig tydsberekening. ʼn Kersvader-spotprent sal byvoorbeeld beter vaar in Desember as in Augustus.”

Tussen 2009 en 2014 het Kobus gereeld as skerpskertser opgetree, en sedertdien het hy gewerk aan ʼn paar Afrikaanse komedie-projekte. Kyk hier vir ʼn proesel.

Episode 1:


Episode 2:


Episode 3:

 

Hoewel hy in Engels en Afrikaans werk, erken Kobus dat hy nog altyd ʼn sagte plekkie vir Afrikaans gehad het. “ʼn Mens kan jouself net soveel lekkerder uitdruk daarin omdat die sêgoed so uniek en snaaks is.”

Toe ek uitvra oor sy rolmodelle, spring sy droë sin vir humor weer uit. “As Cindy Crawford 'n sakkie hamburgerbroodjies vashou, is sy beslis 'n rolmodel. Maar eintlik het ek nie regtig ʼn rolmodel nie, hoewel ek nog altyd ʼn groot aanhanger was van Fred Mouton wat vir Die Burger teken. Mens probeer maar altyd om die beste weergawe van jouself te wees, en altyd te verbeter soos jy aangaan. As dit by humor kom, geniet ek die soort humor wat ons in die negentigs en vroeë 2000 op televisie gesien het. Goed soos Orkney snork nie, Die Casper Rasper Show, Sweet en Short en mense soos Tolla van der Merwe.”

Hoe sien hy Afrikaanse humor? “Wat vir een mens snaaks is, is nie noodwendig vir die volgende een snaaks nie. Maar ek dink tog Afrikaanse mense hou van humor waarby hul aanklank vind en wat die spot dryf met hulself. Ek is mal oor droë humor!”

Kobus, die pa van twee en “getroud met ʼn wonderlike vrou”, het sy eie besigheid. “Ek spesialiseer in grafiese ontwerp, sosiale mediabestuur en illustrasies, maar het ook ʼn klerereeks. En in my aanlynwinkel, komedie.co.za, verkoop ons allerhande snaakse dinge.”

Hy is glad nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. “Dis soos om rente te betaal op skuld wat jy dalk nie eers het nie. So, nee wat, as ons al so lank kon uithou, behoort ons oukei te wees.”
 

Lees meer ...