Kry jou kind aan die lees – kinderboeke vir feitevrate

14 Desember 2017

Ek hoor ma’s dikwels kla dat hulle kinders nie wil lees nie, maar dis belangrik om te onthou dat nie alle kinders van stories hou nie. Party kinders stel eenvoudig meer belang in feite as fiksie. Hier is ʼn klompie oulike boeke wat nuuskierige agies (en hul ouers) sommer ʼn hele klomp nuwe dinge sal leer. Saamgestel deur Ilse Salzwedel.

””
My eerste 100 woorde deur Dawn Sirett (LAPA, R140).
Hierdie stewige kartonboek vir babas en kleuters leer hulle nie net speel-speel ʼn woordeskat nie, maar is ook ʼn wonderlike manier om jou kind van kleinsaf al lief te maak vir boeke. Dit dek al die dinge waarin kleingoed belang stel: kos, diere, hul lyfies, slapenstyd, rygoed en nog baie meer. Kristalhelder foto’s wys die wonder van die regte wêreld, terwyl prettige illustrasies eenvoudige stories vertel wat leer aanmoedig. Van pikkewyne wat in die sneeu en ys speel, tot ’n muis wat by ’n leer opklim om so hoog soos ’n baie lang kameelperd te wees! Dis geskryf om te vermaak, maar moedig kleingoed ook aan om na voorwerpe te wys, dit te benoem en praatvaardighede te ontwikkel. 
””
My ensiklopedie van baie belangrike dinge deur Dorling Kindersley (LAPA, R300) is ʼn wonderlike eerste ensiklopedie en oor en oor die prys werd. Dis die perfekte naslaanboek vir jong feitevrate wat nie kan wag om alles oor die wêreld te ontdek nie. Die honderde feite, lieflike illustrasies en kleurfoto’s is saamgeweef in ʼn asemrowende boek.

 

Kinders kan uitvind wat ’n woestyn is, hoeveel kontinente daar is, leer om “hallo” en “totsiens” in verskillende tale te sê, en nog baie meer. Maak kennis met vegetariese dinosourusse, oulike troeteldiere, en reusagtige blouwalvisse. Verken die verlede saam met grotbewoners, Vikings en Farao’s, en sien hoe ʼn plant uit ʼn saadjie groei. ʼn Boek wat vir lank ʼn ereplek op jou kind se boekrak sal beklee. 

””
Slimkop! Opwindende eksperimente vir jong wetenskaplikes deur Dorling Kindersley (LAPA, R280) bevat 28 briljante projekte, met maklik verstaanbare illustrasies wat alles stap vir stap verduidelik. Jy hoef niks duur te gaan koop vir hierdie eksperimente nie – dis alledaagse bestanddele en voorwerpe wat in en om die huis verkrygbaar is. Die wetenskap agter elke eksperiment word ook verduidelik. Beslis iets wat jong wetenskaplikes ure lank sal vermaak. 
””
1001 Grappe deur Jaco Jacobs (LAPA, R180) is die ideale boek vir jong grapjasse. Die 1001 grappe sluit blondinegrappe, skoolgrappe, grillerige grappe, gloeilampgrappe, lawwe rympies, snaakse sêgoed, kopkrappers en olifant-grappe in. En dis maar net ʼn paar voorbeelde! Dit sal die pad see toe sommer heelwat korter maak!
””
Hoezit 13: Die wonderwêreld van seelewe deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen (LAPA, R80) is die jongste reeks in LAPA se Hoezit-reeks. In hierdie boek propvol feite en aktiwiteite kan jong lesers ons oseane ontdek. Maak van naderby kennis met van die vreemdste visse in die oseaan, verken die wonderwêreld van dolfyne, en ontmoet ’n paar van die gevaarlikste gediertes wat in die see bly! Die Hoezit-reeks is boonop uiters bekostigbaar teen R80 per boek.

 

Ander boeke in die Hoezit-reeks:Die wonderwêreld van soogdiere, Die wonderwêreld van reptiele en amfibieë, Die wonderwêreld van plaasdiere, Die wonderwêreld van roofdiere, Die wonderwêreld van troeteldiere, Die wonderwêreld van dinosourusse, Die wonderwêreld van goggas, Die wonderwêreld van reptiele, Die wonderwêreld van walvisse en dolfyne, Die wonderwêreld van voëls, Die wonderwêreld van die groot vyf.

””
Hoe supercool goed werk (LAPA, R280) is ʼn absolute moet-lees-boek vir kinders wat belangstel in tegnologie. Dit word aanbeveel vir kinders van 11 jaar en ouer, maar as jy ʼn jonger nuuskierige lesertjie in jou huis het wat wonder oor dinge soos ʼn 3D-drukker, hoe dit binne in ʼn PlayStation4 lyk en of ons eendag dalk op Mars sal kan gaan woon, bestel sommer nou hierdie boek.

 

Ontdek die verstommende tegnologiese uitvindings van die toekoms en hoe dit ons moderne wêreld vorm. Kinders sal versot wees op die prettige skootrekenaar-styl-omslag en die innoverende uitleg, verstommende foto’s en illustrasies wat verduidelik hoe goed werk. Of dit nou hommeltuie is, of superrekenaars of onderwater-hotelle, hierdie boek het die antwoorde. Gewaarborg om selfs die slimste slimkop ure lank besig te hou. 

””
Rympies vir kleintjies en kleuters (saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit, Tafelberg, R295) is die opvolger van die baie suksesvolle Rympies vir Pikkies en Peuters wat in 2015 verskyn het. Die verse is spesiaal saamgestel om drie- tot vyfjariges te vermaak, en die prettige volkleur-illustrasies sal jou kleuter ure lank vermaak. Digby 400 rympies deur meer as 100 skrywers dek al die onderwerpe wat deel is van klein kinders se leefwêreld – in heerlike, maklike, sprankelende Afrikaans. Die bundel is ook sorgvuldig beplan om aan nasionale opvoedkundige vereistes te voldoen, en is ʼn onmisbare hulpmiddel vir opvoeders en versorgers in speelskole. 
””

Rapport Junior Blokraaiboek (Tafelberg, R145) is die ideale vakansievermaak vir jong liefhebbers van feite én woorde. Hierdie 60 pret-blokraaie wissel in moeilikheidsgraad, en die leidrade is boonop leersaam. Elke blokraaisel het 'n niefiksie-fokus, sodat die lekkerte van 'n niefiksieboek met die voltooi van 'n blokraaisel vermeng word! Die eerste 20 blokraaie is ideaal vir kinders van so 7 jaar af, want sommige letters word reeds verskaf. Die oorblywende 40 blokraaisels sal ouer kinders en volwassenes se geduld en kennis toets.

Spaar só op kinderboeke

LAPA is een van die grootste kinderboekuitgewers in die land. Boonop kan jy direk van hulle webwerf af bestel en hulle lewer binne 5 tot 7 werksdae landswyd af. Bestel sommer vandag nog by www.lapa.co.za. Daar is heelwat winskopies vanaf so min as R10 per boek. En onthou, as jy ʼn ATKV-lid is, kry jy 20% afslag op LAPA-boeke!

Ouers, kinders en boeke

ʼn Liefde vir lees begin letterlik op ʼn ma (of ʼn pa!) se skoot. Daarom is dit belangrik om van kleinsaf vir jou baba voor te lees, selfs al dink jy hy of sy is nog te klein om te verstaan. Hardop voorlees – of dit nou stories of niefiksie boeke of sommer die koerant is – help kinders met klankherkenning, spraakontwikkeling en taalontwikkeling. Dit leer hulle luister, ontwikkel hul woordeskat en leer hulle die regte uitspraak. Kinders wie se ouers vir hulle voorlees, presteer ook beter op skool. En die beste van alles? Dit versterk die band tussen ouers en kinders.

Moet ook nie sommer ophou voorlees sodra jou kind self kan lees nie – nuwe navorsing toon dat kinders vir wie daar langer voorgelees word, beter leer luister en verstaan. Dit gee ouers ook die kans om op ʼn natuurlike manier gesprekke oor moeilike onderwerpe aan te knoop.

Lees ook:
Oor die belangrikheid van lees hier
Hoe lees die verbeeldingswêreld ontsluit. Lees hier
Hoe leer ‘n kind ‘n liefde vir lees aan. Lees hier
Hoe jy jou kinders aan die lees kan kry. Lees hier