Sanlampryse - Twee moet-lees tienerboeke

10 November 2017

Die gesogte tweejaarlikse Sanlampryse vir jeugfiksie is die afgelope week in Johannesburg toegeken. Skrywers kon ongepubliseerde manuskripte in al elf landstale inskryf vir hierdie prestigeryke toekennings, en 33 van die 134 inskrywings wat vanjaar ontvang is, was in Afrikaans. Twee toekennings elk is gemaak in die kategorieë Afrikaans, Engels en Afrikatale. Prysgeld van altesaam R90 000 is toegeken nadat Sanlam die prysgeld tot R20 000 vir goud en R10 000 vir silwer in elke kategorie verhoog het.
Twee bekende jeugboekskrywers, Carin Krahtz en Jan Vermeulen, het die goue- en silwer-toekennings verower in die Afrikaanse afdeling.

Carin, kinder- en jeugboekskrywer veral bekend vir haar baie gewilde Elton April-jeugverhale, se Blou is nie ’n kleur nie is deur beoordelaars as die wenner aangewys.

Dis ’n storie oor die disintegrasie van ’n disfunksionele voorstedelike gesin in Pretoria. Die verhaal word vertel uit die oogpunt van die 16-jarige Vicky, wat probeer sin maak van haar familie se lewens wat drie jaar vantevore deur ‘n tragedie uitmekaargeruk is. Hulle word verswelg deur voorstedelike angs en ander bagasie, maar vind tog ʼn manier om deur die krisis te kom. Beoordelaars was vol lof vir die skerpsinnige en humoristiese dialoog waarop Carin verhinder het dat die storie in ʼn wroegroman ontaard. Hulle het dit beskryf as ʼn universele verhaal wat die leser op die krop van die maag slaan.

 

Jan Vermeulen is met die silwer Sanlamprys bekroon vir Soen, ʼn spanningsverhaal vir tieners met interessante elemente, afdraaipaadjies en vele verrassings. Dis sy derde jeugroman, en albei voriges is ook bekroon. Geraamtes dra nie klere nie (2002) is met ʼn Goue Sanlamprys, die M.E.R.- en Scheeperspryse vir jeugfiksie asook ʼn ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. Asem is in 2015 aangewys as die wenner van LAPA se jeugromanwedstryd. Beoordelaars het Soen beskryf as ’n speurverhaal “wat die leser deurgaans op die punt van sy stoel hou”. Dit handel oor Peet Rautenbach, Algoa Hoër se hoofseun. Hy is hoogs intelligent en ʼn uitblinker in musiek, kuns en redenaars. Almal verwag dat hy sewe onderskeidings gaan kry, en in die oë van sy aanneemouers is Peet 'n toegewyde, voorbeeldige seun. Maar hy het een swakheid: sy obsessie met die blonde onderwyseres, Scarlett Rose Reynolds. Dít maak van hom ʼn teiken waarvoor hy amper met sy lewe betaal.

 

Die Sanlamprys vir Jeuglektuur is in 1980 ingestel om sterk inheemse kinderlektuur te bevorder. Dit word sedert 1988 tweejaarliks toegeken.

Kyk hier wat sê Carin en Jan oor hul boeke.

Wees gerus op die uitkyk vir jeugboeke gemerk met ʼn Sanlamprys-plakker. Dit waarborg ʼn lekkerlees-ervaring. Vorige wenners sluit gewilde jeugverhale soos Lien se lankstaanskoene (Derick van der Walt), Breinbliksem (Fanie Viljoen) en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (Marita van der Vyver) in. Hier is ʼn volledige lys van vorige Sanlampryswenners (tot 2009).

Inskrywings vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur 2019 is reeds oop. Die verhaal moet geskik wees vir jong lesers (tussen 12 en 18 jaar), en ten minste 25 000 woorde lank. Die sluitingsdatum is 5 Oktober 2018.

Navrae kan gerig word aan Sadé Walter by (021) 406-3412 of sade.walter@nb.co.za