'Vat jou hele hart' ... Nege jaar in China word 'n reis na binne

26 Junie 2017

Elkarien Fourie en haar man Tienie is albei gewese joernaliste wat al in verskeie lande gewoon het. Haar onlangse boek, Vat jou hele hart, vertel die verhaal van hul nege jaar in China. Sy het met Ilse Salzwedel gesels.

“Ek het nie formele onderwysopleiding nie en vir my het skoolhou nooit natuurlik gekom nie, maar dit was nou eenmaal die paspoort tot verblyf in China,” vertel Elkarien. Hul aanvanklike plan was om ‘n jaar of twee te bly. “Om ’n verblyfpermit te behou, het ek en later ook Tienie deeltyds by die Universiteit vir die Minderheidsgroepe in die hoofstad klas gegee, maar dit was ons albei se deeltydse werk as eksamineerders vir die British Council wat ons so lank daar gehou het.

“... as jy alleen reis, en net met jou eie hart op reis is, leer ken jy jouself ook beter. Ek dink ek het sterker en meer selfstandig teruggekom.”

 

Hulle het in ander lande, soos Oostenryk en Zimbabwe, ook gewoon, maar China het Elkarien so gefassineer dat sy eenvoudig daaroor ʼn boek moes skryf. “Dit was die vreemdste land waar ons ook die langste gewoon het. Dis so 'n fassinerende plek, veral as mens in geskiedenis belangstel.” Elkarien sê China was vir haar ʼn reis na binne. “Dit klink dalk na ʼn geykte beeld, maar dis onvermydelik wat gebeur as 'n mens die vreemde invaar en baie op jouself aangewese is. Ek en my man het nie die hele tyd in dieselfde stad gewerk nie. Mens leer ken iemand werklik eers wanneer julle saamreis. En as jy alleen reis, en net met jou eie hart op reis is, leer ken jy jouself ook beter. Ek dink ek het sterker en meer selfstandig teruggekom.”

Die ervaring wat haar laat besef het sy moet ʼn boek oor China skryf, is toe sy sonder paspoort “betrap” is. In China moet buitelanders te alle tye hul paspoorte by hul hê en wanneer hulle ʼn nuwe stad besoek, moet hulle eers by die plaaslike polisie gaan aanmeld. “Dit was so kwartpad deur my tyd in China, en daarna het ek meer besonderhede in my e-posse huis toe ingesluit en ervarings begin beleef deur my skrywersbril.” Die skryf van die boek – wat sy as ʼn organiese groeiproses beskryf – het byna sewe jaar geduur.

Sy voel baie gevlei deur menings soos die van Kerneels Breytenbach, wat die boek ʼn belangrike tydsdokument noem. “Maar dit was nie so bedoel nie. Alles verander so vinnig in hierdie reuse-land wat so halsoorkoop vooruit beur. Daar is soveel verskille tussen stadsbewoners en plattelanders. Eintlik is die boek ’n tydsgebonde kykie op ’n dinamiese land teen die agtergrond van sy tradisies en ryke eeuoue beskawing.”

Die mense van China sal altyd ʼn spesiale plekkie in haar hart beklee. “Mens kan nie anders as jy so lank in ʼn land gewoon het nie, al is die Chinese weens hulle talrykheid, (gewaande of werklike) gulsigheid vir ons kwesbare dierelewe, gebrek aan finesse en vreemde maniere dikwels ’n steen des aanstoots vir Suid-Afrikaners. Hulle is egter baie lojale vriende en werk langer ure as enige ander volk wat ek ken. Hulle goedhartigheid teenoor my en hulp aan my as vreemdeling het my dikwels oorstelp gelaat en beslis ʼn onuitwisbare indruk gelaat.”

Wat was die lekkerste, vreemdste en moeilikste deel van hul nege jaar daar?

“Die lekkerste was beslis om die land te sien.” Nog ʼn groot lekkerte vir haar was die masserings. “’n Rug- en nekmassering met olie of ‘n voetmassering teen baie bekostigbare pryse was net die kuur om jouself mee te bederf ná ’n week of twee se werk.”

Die vreemdste ervarings was beslis in die eerste jaar of twee in ʼn klein stadjie op die platteland. Dit was ook die moeilikste deel van hul verblyf. “Ons was vir mense op straat ʼn besienswaardigheid op sigself, en veral ouer mense het ons onbeskaamd aangestaar. Ons kon nie net in ʼn koffiewinkel gaan sit en ontspan nie.” Die Chinese het ook aanvaar die Fouries is ryk toeriste. “So het die burgemeester van ’n klein dorpie ons soos BBP’s onthaal om belegging te lok in die ontwikkeling van ’n vleiland. Ek het foto’s geneem van ’n amptelike fotograaf wat die hele dag van ons foto’s geneem het. Later, in Běijīng, was daar soveel buitelanders dat geen Chinees eers meer omgekyk het na ’n vreemdeling nie.”

Die taal was aanvanklik ook ʼn probleem. “Om byvoorbeeld uit te vind hoe om toerusting wat gebreek het, te laat verstel, of hoekom ’n hotel wat vakante kamers het, jou nie mag inboek nie. Later het ons uitgevind hotelle moet geregistreer wees om buitelanders te huisves. Burokratiese prosedures is rigied en omslagtig en daar is een woord wat ons nou nog gebruik weens die belangrikheid daarvan in China: fa piao wat ‘kwitansie’ beteken.”

Lees ʼn uittreksel uit Vat jou hele hart (Naledi, 2017):

“Laat ek net ’n bietjie daai kaart sien,” vra ek so in die loop. Ek sien vir die eerste keer die prentjie van ’n astrante apie op hierdie alternatiewe roete met die woorde “Monkey Joking Zone” daaronder. Weldra vind ons uit dis eintlik geen grap nie om deur groot, uitgevrete makaak-ape wat in my woordeskat bobbejane heet, afgepers te word vir “tolgeld”. Die kliptrappe, soms deur plat rotse op ’n natuurlike wyse gevorm, voer verby stroompies en langs kranse op, dieper en dieper na die hart van die berg Éméi, wat ek en my dogter Paula besig is om te klim. Idillies mooi en nog stil ook, iets wat ’n mens veral in China waardeer. ’n Chinese meisie loop saam, maar sy is van plan om binnekort om te draai, sê sy. Die eerste rilling van vrees trek deur my lyf toe ons ’n jong Japannese paartjie ontmoet wat van voor af kom en waarsku: “You must take warnings about the monkeys seriously. Take off your glasses and put it away, the same with cameras. They can be quite aggressive.”

Toe daar dus weer ’n stalletjie met grondboonverkopers voor ons opdoem, koop ons elkeen ’n pakkie omkoopkos wat ek in die linkersak van my baadjie bêre. Aan die regterkant is reeds ’n klip. Die wortel-en-stokmetode. Ons het skaars weer begin aanstap toe ’n klein mannetjie met ’n oorgroot verslete baadjie langs die pad verskyn en aanbied om ons en ons metgesel teen die bobbejane te beskerm. Intimiderende gedrag deur die kese word natuurlik toegelaat en selfs aangemoedig om hierdie handel as bron van inkomste te bevorder. Die “wag” het skaars by ons aangesluit of die eerste aapgrapjas keer ons voor. Toe ons nie gou genoeg na sy sin iets te ete gee nie, spring die gedierte pens en pootjies bo-op die meisie by ons se skouers en gryp haar lang los hare vas. ’n Hartinkrimpende gil later het die aapwagter die struikrower verjaag, maar die meisie, vaal geskrik, besluit tot hier toe en nie ’n tree verder nie.

Ek en Paula beplan egter twee nagte op die berg en wil nie onder druk van afpersers van plan verander nie. Nou hou ons die wag tussen ons en volgende moontlike lokvalle. Die pad, wat kort gelede nog so uitnodigend gelyk het, is nou in die laatmiddaglig van hierdie wintersdag onheilspellend, maar daar is nou net een pad en dis vorentoe. Daar is een ding erger as om die klooster te bereik onder die bedreiging van bobbejane en dit is om dit sonder lig te probeer doen. Ons enkele flitslig sal nie kan kers vashou teen soveel donkerte nie.
Die mannetjie, wat aan ’n etniese minderheidsgroep in die berg behoort, hou aan praat sonder dat ons iets verstaan en toe hy by ons inhaak, weeg die irritasie skielik swaarder as die bobbejaanvrees. Ek stop hom ’n 10-yuannoot in die hand, maar hy gee luidkeels sy ontevredenheid te kenne. Ek gee nog ’n noot en ons loop verder sonder om om te kyk.

Teen sterk skemer doem dakke tussen die boomtoppe op wat ons die laaste hupstoot teen nog ’n lang opdraande gee. Toe die verlate Hard Wok-kafee voor ons opdoem halfpad teen die laaste stel steil trappe, weet ons die eerste dag is verder aapvry. Die beloning daarvoor sou ’n pannekoekontbyt wees voor ons die volgende dag aandurf.

By die Xiānfēng-tempel kry ons ’n Spartaanse kamer sonder enige verwarming met ’n stukkende ruit en ná ’n te vinnige blik op die kamer langsaan, vra ons om daarheen te skuif. Ons het pas al ons goed oorgedra toe ons sien die ruit van ons nuwe kamer het nog ’n groter gat in. Stort is onmoontlik aangesien daar nie warm water is nie en die toilette is meer primitief as wat jy in jou ergste Chinese nagmerrie teëkom. Tog voel ons voldaan en tevrede ná ’n beker kitsnoedels waarvoor die warm water voorsien word in die gebruiklike pienk plastiekfles-met-kurkprop wat ’n mens van Harbin tot in Shēnzhèn en van Ürümqi tot in Shànghǎi aantref. Voor ons die deur van binne met die los slot wat voorsien word, sluit, sluip ons op die geluid van ’n trom en dreunsang af na die vertrek naby ons kamer waar “die aanddiens” van die monnike aan die gang is. Die esoteriese klanke verskaf die regte rustige atmosfeer vir die asketiese nag wat voorlê.

Die geplaveide voetpad volg die kontoere van die heuwels en ’n mens is skaars bo-op ’n bult waarna die trappe weer afdaal tot onder in ’n vallei. Ons is skaars op pad toe die ys op die graniettrappe so glad raak dat ons moet stop om die staal krampons wat Betty aan ons verkoop het, aan ons skoene vas te bind.

Ons put groot bevrediging daaruit om ná ’n lang bult op die kruin te kom en die wit afgronde te bekyk ...

Ná agt ure op pad sonder om een keer ordentlik te gaan sit en rus, doem ’n groot gebou tot ons verligting uit die wit landskap op. Dit is sowaar al die klooster waar ons beoog om aan te klop vir slaapplek, maar ons het dit nie nou al verwag nie.

Ons klim langs ’n muur met lang, vlak trappe op om die hoërliggende klooster te bereik. Skielik maak Paula ’n geluid êrens tussen ’n kreun en ’n sug. Ek wonder wat makeer en kyk vraend na haar, vas in die melankoliese gesig van ’n aap wat op ooghoogte op die muur sit, seker so twee meter van ons af ...

Daar is ’n swaar klopper aan die houtdeur wat deur ’n monnik vir ons oopgemaak word. Die man by die ontvangs kan net ’n paar woorde Engels praat.’n Vrou neem ons deur ’n binnehof met ’n brons houer vol kole en wierook na ons kamer. Langs ’n doolhof van ysige gange, sluit sy vir ons ’n kamer oop. Dit is binne net so koud soos buite die gebou. Ek kyk rond en sien geen verwarmer nie, maar ons is verheug oor die elektriese komberse wat ons onder die lakens ontdek. Sy beduie aanhoudend na ons voete. My basiese Chinees skiet hier heeltemal te kort en ons kan nie uitvind wat sy bedoel nie.

Op die stoepie van die binnehof voor die monnike se eetsaal staan twee houtbalies vol water waaruit die stoom trek met die gebruiklike plastiekplakkies langsaan wat mense binnenshuis dra en wat net so tekenend van die lewe in China is soos die plastiekflesse met die kurkproppe.

Toe die voetbad met die byvoeging van koue water net-net draaglik is, sit ons ons moeë voete daarin en ’n salige gevoel neem van my besit. Die reuk van wierook herinner my sedertdien altyd aan hierdie vreedsame laatmiddag. Die kaalkopmonnike loop in rye verby ons op pad na die eetsaal en met die hulp van die spyskaart wat in krom Engels vertaal is, sit ons net daar met ons voete in die water en eet ’n eenvoudige maar vullende sop met gekookte tamatie en eier in.

Hierdie bevredigende ete met ons voete in die warm water staan uit as die hoogtepunt van ons besoek aan Éméishān. Ons sit hier gestroop van begeertes na gesofistikeerde en ingewikkelde dinge en dankbaar vir die bevrediging van ons mees basiese behoeftes.

  • Elkarien het ook ‘n jeugroman geskryf. Dans op die rand van ’n krans (2002). Dis ’n jeugverhaal verweef met elemente van die Keltiese mitologie en handel oor die geheime en probleme van ’n diplomaatskind wat sukkel om in sy eie land aan te pas. Dis beïnvloed deur die gesin se verblyf in Wene in Oostenryk.

  Lees meer ...

 

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Aan die woord 

Ons gesels met Afrikaanse skrywers.
Klik hier ... 

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wat lees jy?

Wat lees skrywers, boekklubs, leeskringe, en – natuurlik – wat lees jý?
Klik hier ... 

Wetens-
waardighede

Interessanthede oor skrywers en die Afrikaanse letterkunde deur die jare.
Klik hier ...

Ek wil skryf

Uitgewers, skryfkompetisies en -werkswinkels – hier kry jy inspirasie en hulp!
Klik hier ...