Ek wil skryf

29 Maart 2017

Wil jy stories skryf? Leer hoe!

“Hier kry jy ’n lees- en skryfervaring wat jy nêrens op die web sal raakloop nie – en alles in Afrikaans.”

As jy ’n storie het om te vertel, of sukkel om jou manuskrip gepubliseer te kry, ’n skrywer, vertaler of redigeerder nodig het, of sommer net vir die lekker skryf, dan is SA Vryskutskrywer net die plek om by aan te klop. Self in die bedryf, weet hulle hoe om medeskrywers by te staan en weet hulle ook wat redakteurs en uitgewers wil hê.

 

SA Vryskutskrywer beskryf hulself as jou eenstop Afrikaanse skryfportaal. Hier kry jy hulpmiddels en ondersteuning van ‘n klein groepie skrywers wat saamwerk om Afrikaans te bevorder asook ’n groot verskeidenheid aanlynkursusse. Leoni Benghiat, Carla van der Spuy, Ilse Ferreira en Alita Steenkamp ondersteun aspirant- en vryskutskrywers en help “om ’n droom te voed”.

Iets vir almal
Daar is iets vir almal, of jy nou ’n vryskutbesigheid bedryf of ’n aspirantskrywer of ’n student is. Die sakpas-kursusse met maklike betaalopsies word deur middel van die internet en e-pos op ’n een-tot-een basis in jou eie tyd en in die gerief van jou huis aangebied. Hulle help ook met redigering en evaluering van jou skryfwerk. En vir diegene wat liewer op hul eie wil leer, is daar ook selfstudiekursusse. Vir ’n klein bedraggie maandeliks kry jy toegang tot premium-inhoud en word jy deel van die vryskutnetwerk. Daar is ook ‘n gratis afdeling waar heelwat dienste en hulpmiddels beskikbaar is.

As jy daarvan hou om met kollegas te gesels, sluit gerus by die SkryfFORUM aan en ruil raad en advies uit. Klik op Skrywer in die Kollig vir interessante profiele oor van ons skrywers.

Skryfkursusse
Jy kan onder andere kies tussen basiese en gevorderde kursusse in joernalistiek, sakeskryfgeheime, kreatiewe skryfwerk (fiksie en nie-fiksie) en kan gou die ABC van kortverhale of die kuns agter poësie baasraak. Daar is selfs kursusse wat jou toerus oor hoe om geld te verdien met jou stories en akademiese skryfkursusse. Jy kan selfs leer hoe om jou eie kookboek te skryf! Ons tieners en kinders is ook nie vergeet nie en kan in ’n japtrap leer hoe om nuusberigte vir hul skoolkoerante te skryf, of hoe om ’n leesverslag of die beste opstel in die klas te skryf.

Meer oor skryfkursusse.

  Lees meer ...

 

Leef jou kreatiwiteit uit

As jy ’n opkomende fiksieskrywer is en graag wil gaan kers opsteek by bekroonde skrywers en digters en wil hoor hoe jy moet maak om jou verhaal gepubliseer te kry, is die ATKV-Skryfskool se Winterskool by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus net die plek vir jou. Vanaf 5 tot 9 Junie 2017 word die skryf van verhale, gedigte en kinder- en jeugfiksie ondersoek. Van die skrywers vanjaar aan die woord is Lien Botha, Simon Bruinders, Hans du Plessis, Fanie Viljoen, Cecilia Steyn, Martin Steyn en Bibi Slippers. Hier kan jy inspirasie en wenke kry en tydens die werkswinkels kan jy skaaf aan jou skryfsels wat jy tydens inskrywing moet voorlê. Skrywers soos Franci Greyling (kinder- en jeugverhale), Heilna du Plooy (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) gaan jou ook met raad bystaan.

 

  • Kompetisie vir skryfwerk sluit 31 Maart 2017
    Die ATKV-Skryfskool bied in 2017 ook ’n Kompetisie vir skryfwerk aan. Die wenner in elk van die kategorieë (vir ’n kortverhaal, ’n kinder- of jeugverhaal of ’n gedig) sal die Winterskool gratis kan bywoon (verblyf uitgesluit). Vir meer inligting hieroor asook die Winterskool, skakel met mev. Kobie van Aswegen by Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za (tel. 018 299 1783).
  • As jy nog altyd daarvan gedroom het om ‘n jeugroman te skryf, is LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie vir jou. Prysgeld ter waarde van R50 000 is op die spel. Die verhaal moet in Afrikaans geskryf wees en gemik op lesers tussen 12 en 18 jaar oud. Die wenromans sal deur LAPA Uitgewers gepubliseer word. Moenie langer uitstel nie – die sluitingsdatum is 30 September 2017.
  • Die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vier vanjaar sy mondigwording met R30 000 in bykomende prysgeld. Die wendrama ontvang vanjaar R35 000! En die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) ontvang R15 000. Die wendramas gaan ook op RSG uitgesaai word. Sluitingsdatum is 30 Junie. So, begin skryf!
  • Glaskas 2017: Afri-fiksie – wetenskapfiksie en -fantasie. Skryf ’n kortverhaal - dink Harry Potter, Isaac Asimov en so meer. Volwassenes en skoliere welkom. Die sluitingsdatum vir die 2017 Afrifiksie WF+F Skeppingskompetisie is 31 Julie 2017, en die wenner sal op 15 Desember 2017 bekend gemaak word op die Afrifiksie-webwerf.
  • Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) bevorder die skeppende woord- en skryfkuns in Afrikaans. Weninskrywings word in ’n bundel, INKVARS 2017 opgeneem. Sluitingsdatum: 12 Mei 2017.
  • NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018 word elke drie jaar aangebied. Vorige wenners sluit in Ingrid Winterbach, Dan Sleigh en Anneli Groenwald. Sluitingsdatum vir inskrywings is 1 September 2017. Reëls en ’n inskrywingsvorm is op NB-Uitgewers se webwerf beskikbaar.

*Lees oor hierdie en ander skryfkompetisies op Skryfgeheime se webwerf.

  Lees meer ...

 

Bekendes vertel: “Die boek wat van my ʼn leser gemaak het.”

Enige reis begin met die eerste tree en enige boekliefhebber sal jou vertel dat dit presies dieselfde is met boeke. Daar is altyd daardie een boek wat die skaal laat kantel en van jou – wat dalk voorheen gelees het net omdat jy moes – ʼn passievolle, lees-alles-wat-letters-het leser maak.

Ilse Salzwedel sê in haar geval was dit ʼn Trompie-boek so aan die einde van graad een. "Vóór dit was dit die baie storieboeke wat vir my voorgelees is en natuurlik die (taamlik onavontuurlike) avonture van Koeloe en Duif en Sus en Daan waardeur ons daagliks in die leesklas eers geklank en toe gelees het. En die wonderlike boekies in die biblioteekhoekie van die klas.

"Maar toe kry ek iewers op ons boekrak ʼn ou Trompie-boek en ek verander in ʼn onversadigbare leser. Om net te kyk na die dikke boek wat ek op my eie gelees het, was fantasties, om nie eers te praat van al die avonture en kopreise waarop Trompie en Rooies en kie my geneem het nie. Daarna het die wêreld nog wyer oopgeval deur die avonture van Trompie, Saartjie, Jasper, die Uile, die seuns van Keurboslaan, die meisies van Maasdorp en Pippie Langkous. Maar tot vandag toe – en baie duisende boeke later – onthou ek steeds die onbeskryflike genot van daardie eerste Trompie."

Lees meer ...

 

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Aan die woord 

Ons gesels met Afrikaanse skrywers.
Klik hier ... 

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wat lees jy?

Wat lees skrywers, boekklubs, leeskringe, en – natuurlik – wat lees jý?
Klik hier ... 

Wetens-
waardighede

Interessanthede oor skrywers en die Afrikaanse letterkunde deur die jare.
Klik hier ...