Vyf bonusproduksies by Aardklop!

28 Julie 2017

 

"Na laasjaar se wonderwerk, vier ons hierdie jaar elke uiteenlopende feesganger, kunstenaar, borg, deelnemer… elkeen se bydrae wat tot die sukses en die voortbestaan van Aardklop lei. Ons vier elke musiek-moegoe, teaterstukkie, elke Frikkie-flinkdink… of flinkdrink en ons vier vir Sannie-smulpaap wat daar op die terrein rondloop en soek vir nog ietsie om te eet."

 – Alexa Strachan, feesbestuurder tydens die programbekendstelling op 26 Julie in die Markteater, Johannesburg

Fees na #hartelus

Van 2- 8 Oktober gaan Potchefstroom weer uit sy nate bars en kan feesgangers uitsien na ‘n program vir ‘n ieder en elk se smaak.

Alexa het tydens die programbekendstelling gesê dat om te moet kies watter produksies vir haar uitstaan, is om soos tussen jou kinders te kies. Feesgangers sal die geleentheid hê om teaterproduksies van ander feeste wat opslae gemaak het en suksesvol was, te sien. “Mens moet dit doen, want mense het nie die geleentheid om landswyd te reis en die produksies oral te sien nie.”

"Ons nooi elke feesganger om sy eie feeservaring saam te stel, want die aanbod is daar. Wat ookal jou smaak, jou, styl, jou voorkeure, jou afkeure, jy sal verseker fees na #hartelus.”

Bonusproduksies

Aardklop het pas aangekondig dat daar ‘n ekstra verhoog geskep is wat vyf trefferproduksies toevoeg tot die aanbod. Daar is besluit om die ou Potchestroom Stadsaal op die hoek van Walter Sisulu- en Govan Mbekistrate as ekstra verhoog te gebruik.

Die ekstra produksies waarna Feesgangers kan uitsien, is:

  • Fiela se Kind
  • My man se skelmpie se skelmpie se vrou
  • As drome vlerke kry
  • Ontbloot
  • My pa

Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies, sê Lefra is trots op die produksies wat ‘n geleentheid kry. “Ons produksies speel reeds die afelope agtien jaar voor vol teaters by Aardklop. Juis daarom is dit vanjaar so lekker om terug te wees met ‘n eie venue. Aangesien Lefra reeds oor die jare sy eie toerusting bymekaar gemaak het, is dit vir ons net ‘n voorreg om van die ou Stadsaal ‘n teater te maak”

Die program vir die Lefra Stadsaal @ Aardklop is as volg:

FIELA SE KIND

  • Dinsdag, 3 Oktober 2017 (19:00-21:30)
  • Woensdag, 4 Oktober 2017 (20:00-22:30)
  • Donderdag, 5 Oktober 2017 (10:00-12:30)
  • Vrydag, 6 Oktober 2017 (13:00-15:30)

MY MAN SE SKELMPIE SE SKELMPIE SE VROU

  • Vrydag, 6 Oktober 2017 (20:30-23:00)
  • Saterdag, 7 Oktober 2017 (09:00-11:30)
  • Saterdag, 7 Oktober 2017 (13:00-15:30)
  • Saterdag, 7 Oktober 2017 (17:00-19:30)

AS DROME VLERKE KRY

  • Woensdag, 4 Oktober 2017 (14:00-15:30)
  • Donderdag, 5 Oktober 2017 (20:00-21:30)

ONTBLOOT

  • Saterdag, 7 Oktober 2017 (21:00-22:30)

MY PA

  • Woensdag, 4 Oktober 2017 (09:00-10:30)
  • Donderdag, 5 Oktober 2017 (15:00-16:30)

Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of by www.computicket.com. Meer inligting is beskikbaar by Lefra Produksies by (011) 815 3000, epos aan admin@lefra.com of besoek www.lefra.com 

””

Fiela (Shaleen Surtie-Richards).

””

Johny Klein as Kaliel September.

””

Hennie en Arina.

Tog so dramaties

Alexa het die volgende teaterstukke uitgesonder:
Asem (Martinus Basson & Reza de Wet), Martelsang (Christo Davids), Weerklank van wanklank (Pieter-Dirk Uys) – die Engelse weergawe, Echo of the Noise, gaan ook aangebied word, Moedertaal en Pa, maak vir my ‘n vlieër, Pa (Sandra Prinsloo), PG du Plessis se Koöperasiestories, die skreeusnaakse marion Holm met Ag, kom ek val sommer met die holm in die huis, Nêrens Nood-Kaap (Nico Scheepers) en volgens Alexa ‘n hoogtepunt, Die reuk van appels en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran en Manne (Dawid Minnaar).

"Vir elke fees – dis ‘n ding! Jy wil debuutwerke hê en jy kan dit meestal nie bekostig nie, maar ons is geseënd en ryk aan debuutwerke hierdie jaar.”

Alexa Strachan, feesbestuurder.

””

Lede van die NWU Potchefstroomkampus Studenteraad wat die geleentheid bygewoon het: v.l.n.r. : Simoné Vos, Jacques Hugo, Vernice Steenkamp, Paul Maritz.

””

Lizz Meiring wys ons #waarsitlekka by Aardklop.

Debuutwerke wat Alexa se oog gevang het, is Melk & vleis (Maria Albertyn) en soos wat Alexa sê: “Om dit kortliks op te som – ‘Hell hath no fury like a boervrou!’” Feesgangers kan ook uitsien na Manne (Chris Vorster) en Weerkaats (Milan Murray).

Kyk gerus uit vir die nuwe venue, Aardklop Pronkpodium – ‘n nuwe platform vir tiener- en studenteproduksies. En omdat die feesbestuur na hul feesgangers geluister het, is die Langtafel ook vanjaar terug.

Redekabel-gesprekke

Vir diegene wat hou van redekawel, is die Redekabel-gesprekreeks deur Ivor Price by die NWU Besigheidskool, vanjaar uitgebrei.

Vry in die bundel by die ATKV Boeke-oase

Die boekwurms onder ons kan weer uitsien na gesprekke met skrywers soos o.a. Kleinboer, Bibi Slippers, Piet Matipa en Dana Snyman .

””

Vernice Steenkamp, SR-lid NWU Potchefstroomkampus, word geteiken deur een van die akteurs vir die bekendstelling van ‘n nuwe Aardklop-inisiatief, DEURnis een-tot-een teater.

””

Paul Maritz, SR-voorsitter van die NWU Potchefstroomkampus kom in karakter met die bekendstelling van ‘n nuwe Aardklop-inisiatief, DEURnis een-tot-een teater.

””

Die aand begin op ‘n hoogtepunt.

Aardklop Aanklop: Een tot een teater

Vir die meer avontuurlustige feesganger, is daar vanjaar nog ‘n nuwe venue, die Aardklop Aanklop, waar minder konvensionele produksies aangebied sal word. Daar is een akteur en een gehoorlid. Moenie hier ‘n tradisionele teater verwag nie, want die produksies vind plaas in ‘n huis se verskillende vertrekke. Wie weet, dalk bevind jy en die akteur julself nog in die badkamer! “Dis ‘n wonderlike ervaring … aanvanklik nogal intimiderend, maar dis fantasties!” Splinterster, ‘n installasieproduksie, vind ook by die venue plaas.

Taxi-teater

Een van verlede jaar se grootste suksesse en vanjaar word dit uitgebou om ook die feesgangers aan Promosa en Ikageng bloot te stel. Kunstenaars gaan vanjaar ook ‘n mentorskapprogram hier begin.

Produksiebestuurskursus

Daar word vanjaar, in samewerking met ATKV & Artema, asook ander feeste, ‘n produksiebestuurskursus aangebied.

PG du Plessis-huldeblyk: ‘n Lewe vol

"Ons gaan nie begrafnis hou nie, ons gaan konsert hou, want dis wat PG sou wou gehad het”

Van SA se voorste kunstenaars kom bymekaar om hierdie groot gees se lewe en werk te vier

Visuele kuns laat die kwasse swaai

Dié jaar se visuele kunsteprogram is ‘n keursnit van kontemporêre gemeenskapskuns, ruimte en artistieke samewerking.

Musiek - meer as doef doef

‘n Hoogtepunt vanjaar is beslis Die Woordenaars, met Stef Bos, Spoegwolf, Jo Black, Koos van der Merwe en Herman Kleynhans wat spesifiek op die liriek sal fokus.
Ekstravaklassiek met Chris Chameleon en die Nasionale Jeugkoor is ook iets om na uit te sien. In Stemme vir môre gaan operaliefhebbers trakteer word met die wonderlike sang van Noluvuyiso Mpofu en Bongani Kubheka, met begeleiding deur Charl du Plessis.

Iets vir die hele gesien, is beslis die produksie Journey to a new world. Dis koormusiek uit flieks soos Jurassic Park, Titanic, Star wars en Game of Thrones, en met die begeleiding van die NWU-simfonieorkes beloof dit om oud en jonk te vermaak. En dan natuurlik Laurika Rauch en Loki Rothman met Blou. “‘n Fees is nie ‘n fees sonder die twee kunstenaars nie!”

Elke eregas kon in hul feeskarakter kom met die borsspelde wat die spektrum van feesgangers benoem.

Kaartjieverkope open op 30 Julie 2017. Kry jou kaartjies hier:
Feesterreinkaartjies is by die kantore beskikbaar. Produksies & vertonings: Computicket

 

Japie Gouws (Voorsitter: Direksie van Aardklop)

“Verlede jaar, soos Alexa sê, was ‘n wonderwerk. Die wonderwerk het nie sommer net gebeur nie, daar was harde werk daaragter. Die ander belangrike ding wat ons as direksie van Aardklop besef het, is dat as ons nie die fees aan die dorp Potchefstroom teruggee nie, dan gaan dit nie werk nie. Ons het baie hard gewerk en ons was baie suksesvol daarmee dat Potchefstroom weer die fees omarm het.

“Kunstefeeste van SA het almal baie druk. So dis ‘n groot uitdaging vir kunstefeeste, net in die huidige ekonomiese omstandighede. Ons uitgangspunt aan die direksie was dat ons moet Aardklop volhoubaar maak en met baie streng finansiële bestuur, het ons dit uitstekend reg gekry.”

Gaan besoek Aardklop se splinternuwe webtuiste - Aardklop 2017 

Lizz Meiring oor Aardklop 2017

Alexa Strachan - Aardklop Feesbestuurder

Cindy Purén - Bemarkingskoördineerder

Cindy Purén - Bemarkingskoördineerder

””
””