Fees na #hartelus ... Aardklop het begin!

30 September 2017

Aardklop en ATKV Boeke-oase: Drie nuwe vrystellings wat jy nie moet misloop nie.

Of jy nou hou van niefiksie, geskiedenis, kosboeke, reisverhale, poësie of sommer net lekker stories, vanjaar se Aardklop-boekprogram, wat oudergewoonte weer by die ATKV Boeke-oase aangebied word, sal beslis ʼn gesprek of twee hê wat jy sal geniet.

Een aspek van vanjaar se boekprogram wat dadelik opval, is die goeie aanbod gesprekke oor niefiksie titels, wat naas spanningsfiksie waarskynlik die vinnig groeiendste genre in Afrikaans is. Vanjaar se Aardklop-boekprogram weerspieël dit ook duidelik. Behalwe vir misdaad (en gewilde spanningsromans) is daar ook ʼn lekker mengsel van digkuns, letterkunde, boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, lekkerlees liefdesromans, reisboeke, kosboeke en selfs ʼn inspirerende lewensverhaal of twee.

Boekliefhebbers moet beslis kennis neem van gesprekke oor die volgende drie boeke wat tydens vanjaar se Aardklop by die ATKV Boeke-oase bekend gestel word:

 

Prof. Heilna du Plooy

Gespreksgenoot – ʼn Brieweboek (Litera, 2017). Prof. Heilna du Plooy het hierdie lekker lywige bundel saamgestel uit briewe van die letterkundige prof. Elize Botha en verskeie ander skrywers en bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignaut, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het met Botha gekorrespondeer, en hier kan jy lees waaroor hulle gesels het. Party briewe ontroer, ander laat jou hardop lag en ʼn hele klompie lees jy weer en weer oor die besondere insig daarin. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dit is ’n intieme teks wat by baie lesers byval sal vind. Lees meer.

Irma Joubert

Mentje - Kind van die Pas-opkamp (LAPA) is die jongste roman uit die pen van die topverkoperskrywer Irma Joubert, en word by Aardklop bekendgestel. Joubert is bekend en geliefd vir haar historiese romans wat lesers met nuwe oë na die geskiedenis laat kyk. Hierdie roman speel af teen die agtergrond van die Slag van Arnhem in die Tweede Wêreldoorlog, en vertel die verhaal van ʼn Nederlandse oorlogswesie en ʼn Suid-Afrikaner wat by die Britse Leër aangesluit het. (Bestel hier.)

Ware mense (Protea Uitgewers) is die Nederlandse historikus en joernalis Bart de Graaff se weergawe van die geskiedenis van die Khoi-Khoin, die “ware” (eerste) mense van Suider-Afrika. Dis ʼn belangrike boek wat die geskiedenis en huidige stand van die bruin mense onder hulle landsgenote se aandag bring, en die resultaat van talle onderhoude wat De Graaff in 2015 en 2016 in Suid-Afrika en Namibië gevoer het. In sy onopgesmukte skryfstyl, vol deernis en humor, vertel De Graaff van hierdie ontmoetings en gesprekke en algaande kom die leser onder die indruk van die sistemiese geweld wat teen die Khoi-Khoin oor soveel eeue heen gepleeg is. (Bestel hier.)

Die ATKV Boeke-oase se gesprekke is gratis, en vind van 3 tot 7 Oktober plaas. Volledige program.
 

Lees meer oor Aardklop 2017 - Fees na #hartelus