ATKV-Oesfees 2017

03 Maart 2017

Harde werk beloon

“Ons eer die plaaswerkers en hul families elke jaar vir die harde werk en liefde waarmee hulle die oes op Solms-Delta inbring."

Chris Kreef, feesdirekteur

Die tiende ATKV-Oesfees op Solms-Delta naby Franschhoek vind vanjaar op Saterdag, 25 Maart 2017 plaas. ’n Hoogtepunt van vanjaar se oesfees is die optrede van die wêreldbekende Suid-Afrikaanse tradisionele musiekgroep Ladysmith Black Mambazo - ‘n opwindende toevoeging tot die oorspronklike Suid-Afrikaanse roots-musiek wat by die fees aangebied word. Feesgangers kan uitsien na ’n heerlike feesatmosfeer en ’n groter verskeidenheid tradisionele kos soos waterblommetjiebredie, kerrieafval en koeksisters gaan te koop wees. Jy hoef darem nie dors te bly nie. ’n Verskeidenheid van Solms-Delta se wyne sal te koop wees. Die kinders gaan ook weer by die SafeKidZone onder bestuur van Cre8tive Kids vermaak word sodat ma en pa met gemoedsrus kan kuier.

Talentvolle musikante sorg vir die vermaak

Tydens die fees, gaan Ladysmith Black Mambazo die verhoog deel met ’n hele rits talentvolle musikante. Die Music van de Caab-groepe en -orkeste (onder leiding van Adriaan Brand) wat vanjaar gaan optree, sluit in: Delta-Langbroeke, Klein Handjies-Kinderkoor, Delta Valley Entertainers, Die Soetstemme en Lekker Lekker Delta. Dan is daar ook optredes deur Die Papier Family Band en die gewilde Hannes Coetzee. Bekende groepe en topmusikante wat vanjaar op die verhoog gaan wees, is die Radio Kalahari Orkes, The Rudimentals, Manouche, Brain Cloete, Hezron Chetty, Churchil Naudé, Die Wasgoedlyn, Akkedis, Hemelbesem en Yoma, Les Javan, Riku Lätti, Bacchus Nel, Jackie Lätti, Nick Turner, Tribal Echo en African Jazz Pioneers.

Kyk ook uit vir die ATKV-Rieldanskampioene wat elke jaar vastrap dat die stof so staan en die gehoor aan hul voete het. Vanjaar se rieldansoptrede is deur die 2016-wenners in die junior kategorie: Die Betjies van Betjiesfontein, asook vorige wenners Die Nuwe Graskoue Trappers.

Feesgangers kan uitsien na die optrede van Die Betjies van Betjiesfontein.
Hulle was in 2016 die wenners in die junior en senior afdeling tydens die ATKV-Rieldansfinaal.
Hier riel hulle dat die stof so staan!


Kaartjies kos R120 vooraf en R150 by die hek. Kinders twee tot 12 jaar betaal R40 en kinders onder twee is gratis.
Feesnavrae: 021 874 3937 of loer op die webtuiste: www.oesfees.co.za.



Koop jou kaartjies:

Aanlyn: https://plankton.mobi/Events/EventBooking/a6208ea9-60d5-4782-954d-7acf83be3a5d
Computicket. http://online.computicket.com/web/event/atkv_oesfees_2017/1106925196/0/77412035

Ook beskikbaar by:
Solms-Delta-proe-lokaal Deli.
Shoprite Checkers

Meer oor Ladysmith Black Mambazo

Onder leiding van die stigter en leier, Joseph Shabalala, maak hierdie legendariese a capella-groep al meer as 50 jaar lank musiek. Hul musiek het oor die afgelope vyf dekades lof en toekennings van verskeie organisasies en lande ontvang en hul het al dikwels die verhoog met bekendes soos Paul Simon, Stevie Wonder en Dolly Parton, gedeel. Hul mees onlangse album, Walking in the footsteps of our Fathers, is vir ’n Grammy in die afdeling vir Beste Wêreldmusiekalbum 2016 benoem. Dit is Ladysmith Black Mambazo se 17de Grammy-benoeming. Hulle is vier keer bekroon met die Grammy-toekenning: in 1988 vir Shaka Zulu; in 2004 vir Raise Your Spirit Higher; in 2009 vir Ilembe en in 2013 vir Singing For Peace Around The World.

’n Rolprentdokumentêr getiteld On Tip Toe: Gentle Steps to Freedom, die verhaal van Ladysmith Black Mambazo, is vir ’n Oscar benoem. Hulle het ook al op Broadway verskyn en is vir Tony-toekennings benoem. Tuis in Suid-Afrika het hulle ook vele SAMA-toekennings gewen.