Innibos: ʼn Feestelike winterwegbreek vir die gesin

19 Junie 2017

Wat is lekkerder as ʼn vakansie in die Laeveld? ʼn Kunstevakansie in die Laeveld, des te meer as dit ʼn gesinsvriendelike fees is soos Innibos. Ilse Salzwedel gee ‘n voorsmakie ...

Innibos, wat van 5 tot 8 Julie in Nelspruit gehou word, is een van my gunsteling-kunstefeeste. Nie net omdat dit ʼn mens kans gee om so ʼn bietjie van die winterweer elders in die land te ontsnap nie, maar omdat dit werklik ʼn gesinsfees is met iets vir oud én jonk. En dis nie net ek wat so sê nie: die afgelope paar jaar was dit gereeld ʼn finalis in KykNET/Fiësta se fees-van-die-jaar kompetisie én drie keer die wenner van die kompetisie.

Andy Lubbe en Sandra Jacobs. Foto: Laevelder

Feesgangers vertel ons #waarsitlekka by die boeke-oase.

Maak jou bolla los, dis Innibos.

Sedert die eerste fees in 2004 – toe nog bekend as die Laeveld Nasionale Kunstefees – het die fees van krag tot krag gegaan onder die leiding van Sandra Jacobs en Andy Lubbe, medestigters van Innibos. Deesdae bring die fees ongeveer R80 miljoen na die streek, danksy die ongeveer 100 000 jaarlikse besoekers wat na die Hoërskool Nelspruit se gronde stroom. Vir die duur van die fees word die goed ingerigte skoolterrein die sentrale feesterrein.

Gratis vermaak

Een van die ander lekkertes van Innibos is die gratis vermaak by die Mhoba Rum Boma-kuierteater. Dit wissel van kort komedies deur Ian Wessels van Loslip-faam, Casper de Vries, Gretha Pers en Ester von Waltsleben, tot kort toneelproduksies en interessante onderhoude met teatermense soos Donnalee Roberts en Ivan Botha, Antoinette Kellerman en Deon Lotz.

Casper de Vries, Gretha Pers, Ester von Waltsleben en Ian Wessels

Lekker musiek

Musiekliefhebbers kan kies tussen vier kuierverhoë op die feesterrein met musiek wat wissel van rock tot rustige kuiermusiek. Van ons land se voorste kunstenaars, soos Arno Carstens, Francois van Coke, Jay, Joshua na die Reën, HemelBesem, Albert Frost, Spoegwolf, Bittereinder en Die Heuwels Fantasties, tree op.

Spoegwolf, Bittereinder en Die Heuwels Fantasties

‘n Liefde vir boeke?

Boekliefhebbers kan veral uitsien na die bekendstelling van die Hertzogpryswenner Etienne van Heerden se nuwe roman, Die wêreld van Charlie Oeng, en die bekendstelling van Kroniek van Turf, die jongste novelle uit die pen van die veteraanskrywer Dolf van Niekerk (88), veral bekend vir die klassieke Die son struikel en Skrik kom huis toe. Daar is ook boekgesprekke met die bekroonde digter Bibi Slippers (oor haar bundel Fotostaatmasjien) en Zelda Rowan (skrywer van Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal) gaan gesels met die oud-omroeper Friedel Hansen (oor sy Die Oorlog: ʼn Fotoboek). Erns Grundling, bekroonde joernalis, kom gesels oor Elders, waarin hy skryf oor sy solostap van die Camino Francés, die bekende en gewilde pelgrimstog in Spanje. Op die aktuele front gesels Frans Cronjé, bekende scenariobeplanner en skrywer van die blitsverkoper ʼn Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika, oor die land se toekoms. (Kaartjies vir die groot trekpleister eie aan Innibos, die Sappi Boeke-crawl, is ongelukkig reeds uitverkoop.)

Teater

Daar is meer as genoeg produksies vir ernstige teatergangers, soos Nag van Legio, Altaar, Asem, So ry miss Daisy, Beurtkrag en die immergewilde Fiela se kind, om maar enkeles te noem. Aan die ligter kant is daar onder meer PG du Plessis se immergewilde Koöperasiestories en die Lekkerlag Komedie-crawl, waar die bekende komediante Schalk Bezuidenhout, Casper de Vries, Dowwe Dolla en Soli Philander sal sorg dat jy lag tot die trane loop.

Schalk Bezuidenhout, Koöperasiestories en Soli Philander


‘n Familiefees

Omdat die fees nog altyd in die Julie-vakansie gehou is, maak die organiseerders elke jaar seker dat daar ook heerlike produksies is waarna ʼn mens jou kinders kan saamneem. Op die sentrale feesterrein is daar egter meer as genoeg veilige vermaak om groter kinders en tieners besig te hou as jy op jou eie na ʼn vertoning of twee wil gaan kyk. Vir jonger kinders is daar veilige, gratis toesig en ʼn heerlike vol program by Apies Innibos, ook op die feesterrein. ʼn Heerlike nuwe toevoeging tot die feesprogram is die Kinder Boeke-krôl by die ATKV-Boekeoase waar ʼn hele storiedorp wag om ontdek te word. As jy in die aand na ’n vertoning wil kyk, is daar ook ’n kinderoppasdiens teen ’n billike tarief. Lees meer hier. 

*Gaan loer gerus na die volledige program by www.innibos.co.za. Kaartjies by Computicket.