Innibos Kinderboeke-krôl – die idee inspireer!

11 Julie 2017

Die Kinderboeke-krôl, die heel nuutste toevoeging tot Innibos se alreeds heerlike program, is een van die inspirerendste boekprojekte wat ons al beleef het. Ilse Salzwedel en Pieter Cloete het gaan kyk hoe word dit gedoen.

Kinderboeke en stories het nuwe betekenis gekry vir die klein Innibos-feesgangertjies, danksy die onvergeetlike Innibos Kinderboeke-krôl. (Foto’s: Ilse Salzwedel)

Die hele idee het by twee kleuterskoolonderwyseresse ontstaan wat passievol voel oor lees, en die personeel van ses plaaslike kleuterskole het gehelp om 'n grasperk by die ATKV Boekeoase by die Hoërskool Nelspruit te omskep in 'n fantasiewêreld vir kinders.

Ses kinderboeke van LAPA Uitgewers is voorgelees by die ses verskillende interaktiewe "boekstasies". Daar was 'n reusegroot beer, seerowers wat bang was om te bad, 'n bed wat in 'n ruimtetuig verander het en 'n klomp vrolike hasies om die kleingoed (en 'n hele paar ouers!) vasgenael te hou. Die baie gewilde Babalela het ook kom inloer. 

Tian Kloppers, Katinka du Toit, Anushca Kloppers, Karla du Toit en Nomzumo Mashaba saam met Babalela (Foto: Innibos).

Wilmarie Snyman, Ulrich Malan, Sarah van Wyk (Foto: Innibos).

Alana Weber en Liam Stone (Foto: Innibos).

Die program was gemik op kinders tussen die ouderdomme van 2 en 8 jaar oud, en geen moeite is ontsien om die ervaring so genotvol moontlik te maak nie. By elke boekstasie was daar ook 'n spesiale geskenkie vir die Kinderboeke-krôlsakkie wat hulle aan die begin gekry het. Danksy onder meer 'n stukkie "maanklip", 'n inkleurboekie en 'n laphasie, sal hulle nooit weer dieselfde na 'n kinderboek kyk nie. Dis seker!

Kyk self hoe lekker was dit, en probeer gerus die idee om kinders geïnteresseerd te kry in boeke en stories.

Kyk hier ...