Soomloos - Suidoosterfees 2017

03 Mei 2017

Soomloos - Suidoosterfees 2017

Die Suidoosterfees speel met Afrikaans. Gooi die taal met draaie en swaaie - Dr. Willa Boesak

Graafwater-Muurprojek

 

Elke fees het sy eie gees, sy eie persoonlikheid. Dalk het dit te doen met die samestelling van die program, die ligging of die feesgangers. Elke fees het sy eie nukke, sy kreukels wat uitgestryk moet word. Maar elke fees het ook sy vreugdes en oomblikke wat jou hart en siel laat juig, wat jou laat besef jou wortels is hier, in Suid-Afrika.

Ilza Roggeband gee haar indrukke

Die Suidoosterfees is 'n fees soos geen ander. Dis 'n stadsfees met 'n diverse gehoor. Musiek is die hoofbestanddeel en daar is altyd 'n soeke na nuwe talent. Dis 'n kort fees. Of altans dit voel kort. Dit begin altyd op Versoeningsdag, 27 April, en vanjaar op 1 Mei, die laaste dag van die fees, was daar een enkele konsert.

Vanjaar is die fees se produksies ook alles by Kunstekaap aangebied. Jy kon dus tussen die Teater en die Operahuis, die Arena en die Fluweelkamer rondbeweeg sonder om in 'n kar te spring of jou sweterig te stap.

Die program is kort en kragtig. Die dramas kan op een hand getel word en vanjaar was drie stukke wat deur Nati (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) ondersteun word op die fees te sien: Piekniek by Mpande née Dingaan, Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran en Die Vlammende Fez, elkeen die kaartjieprys werd.

Die akteur Chris van Niekerk is Sondagaand ná die afsluitingskonsert van die 14de Suidoosterfees in die Kunstekaap in Kaapstad vereer as beste toneelspeler vir sy spel in die musiekproduksie Die Vlammende Fez, waarin die lewe van die digter ID du Plessis belig word. Die produksie is onder leiding van Basil Appollis. Hy en Niël Rademan (vervaardiger) en Basil Appollis (regie) gesels met Afrikaans.com.

Die Vlammende Fez

Legendes

Die tema van vanjaar se fees was Legendes. Nie net is erkenning gegee aan kunstenaars wat hul stempel afgedruk het op die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie, maar ook jong kunstenaars, môre se legendes wat hul talent ten toon kon stel.
Die fees is opgedra aan professor Jakes Gerwel, die plaasseun van Kommadagga wat deur die Suidoosterfees sy droom van ‘soomloosheid’ laat realiseer het – ‘n droom wat voortleef.

Pieter Cloete het met Niël Rademan, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, prof. Brian Figaji (feesvoorsitter), prof. Wannie Carstens (Noordwes-Universiteit), prof. Steward van Wyk en Hendrik Theys (ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad), gesels oor die groot gees wat ‘n ononderhandelbare plek vir Afrikaans voorgestaan het.

Professor Jakes Gerwel en die Suidoosterfees

Die musiekprogram het opgemaak vir die tekort aan drama met uitstekende produksies soos Die Riel van Hip-hop wat die diversiteit van dans en musiek op die Kaapse Vlakte gevier het. Dit was duidelik dat die produksiespan, onder leiding van Shihaam Domingo en met musiekregie deur Frazer Barry en Camillo Lombard, ure en ure aan die produksie gewerk het. Hopelik gaan hierdie produksie, 'n juweel wat gekoester moet word, deur baie meer mense beleef kan word.

‘n Nuwe klank in Afrikaans – Die Riel van Hip-hop

Daar was verskeie ander hoogtepunte, ook onder die kleiner produksies. Vir Marimbamakiti het Elsabé Daneel en Fatima Dike saamgespan en gedigte voorgelees met begeleiding deur 'n groep jong marimbaspelers, almal plaaskinders uit die Grabouw-omgewing en onder leiding van Betsie Ryke. Dit was roerend om woorde deur digters soos NP van Wyk Louw en Ronelda Kamfer te hoor terwyl die kinders musiek maak.

Kaapse (Khoi) Jazz was nog 'n besliste hoogtepunt. Die Kaap mág maar jazz speel en om 'n sangeres soos Sylvia Mdunyelwa te sien optree, was 'n voorreg. Dan was daar die gevestigde talent gemeng met jong talent in Legendes Klassique met 'n uitstekende program saamgestel deur Wayne Muller.

Onder die afdeling Jong Sterre, het Aunty Gabieba uitgestaan. Christian Bennett is Aunty Gabieba en met haar pers rok en tulband bied sy 'n kookprogram op TV aan. Sy is skreeusnaaks, praat Kaaps, kan op haar voete dink en op die koop toe het elke lid van die gehoor 'n roti gekry toe ons by die deur uit is. “You get a roti! You get a roti! You get a roti!” het sy soos 'n ware Oprah geroep.

Jong stemme

Een van die belowende jong akteurs wat vanjaar by die Suidoosterfees te sien was, was Whaden Johannes. In Mamre vertel hy die stories van vier mense van Mamre, die klein Weskus-dorpie wat as ’n Morawiese Sendingstasie begin het. Regie is behartig deur Nico Scheepers.
In ’n hart-oopmaak-onderhoud met Pieter Cloete, vertel hy die storie van sy mense ... sy dorp ... en hoe dit hom gevorm het.

Mamre – Whaden Johannes

Die kersie op die Suidoosterfees se koek het tot Maandag gewag toe Amanda Strydom, Vicky Sampson en Gloria Bosman die verhoog vir Legendary Divas gedeel het. Wat 'n belewenis! Onder die baie bekwame musiekleiding van Janine Neethling het die drie vroue gewys waarom hulle as van die beste stemme in die land bestempel word. Die musiek is met 'n fyn hand gekies, die vertolkings – soms alleen, soms saam – het jou hoendervleis gegee. Hierdie was nie 'n konsert wat net lukraak saamgegooi is nie. Daar was 'n boodskap, 'n baie sterk boodskap, en om dit deur die stemme van hierdie drie formidabele vroue te hoor, was 'n grootse gebeurtenis. Mag hierdie produksie ook op meer verhoë afspeel.

Die Suidoosterfees speel met Afrikaans. Gooi die taal met draaie en swaaie. Soos dr. Willa Boesak in Die Riel van Hip-hop beskryf het waar Afrikaans oral sy wortels het: Afrika, Asië en Europa; die kaaseters, die wyndrinkers en die speserysoekers.

Die Suidoosterfees het ook van die meelewendste gehore van alle kunstefeeste. Hulle praat saam, beaam en lewer kommentaar. Hulle juig en jive. Dis aansteeklik en ’n mens wens dat jy van daardie entoesiasme kan bottel en dit saamneem na ander feeste. Dis ’n fees wat ’n veer in die hoed verdien – veral omdat hulle voortdurend op soek is na nuwe talent.
 

Suidoosterfees 2017