Waar die digkuns gedy – Tuin van Digters dié naweek op Wellington

13 September 2017

 

Uitdagende skeppings in vele gedaantes

“Uitdagend skeppend.” Dit is die tema vir vanjaar se Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington. Dit vind eerskomende naweek (15 en 16 September) plaas. Volgens Francois Lötter, bestuurder van die sentrum, het Breyten Breytenbach die woorde “uitdagend skeppend” op ʼn papierservet neergeskryf as riglyn vir sy toespraak tydens die opening van die sentrum tien jaar gelede. “Die aanhaling dui op beweging - in uitdaag en in skep – en is ook die sentrum se tema vir 2017.”

Besoekers aan die geleentheid kan beslis uitsien na unieke skeppings, hetsy in die vorm van poësie, lied of kunswerk. ʼn Groepuitstalling deur meer as veertig genooide kunstenaars wat die naweek te sien sal wees, vergestalt en verbeeld ook die feestema.

Een van die naweek se hoogtepunte is die huldiging van die digter Wilma Stockenström vir haar bydrae tot die Afikaanse poësie. Stockenström, ’n Hertzogprys-wenner, se oeuvre omvat agt bundels waarin daar met ʼn ondersoekende blik gekyk word na die mens en dié se plek in die heelal. Haar aangrypende verse lewer bewys van ʼn ruimheid van intellek, gees en emosie, en Laurinda Hofmeyr sal ook tydens die geleentheid getoonsette gedigte van Stockenström sing. Die huldigingsrede vind Vrydagaand om 19:00 plaas, en word deur dr. Ronel Foster gelewer.

Die skrywer en kunstenaar Carina Stander gesels Saterdag om 12:00 met Jonathan Amid oor haar nuwe boek, Die Bergengel, en kunswerke wat sy spesiaal vir die bekendstelling van die boek geskep het, sal ook die hele naweek te sien wees.

Diana Ferrus en die Mengelmoesdigters tree ook die naweek op. Laasgenoemde groep is ʼn uitvloeisel van die poësie-skryfskool wat Ferrus sedert 2012 jaarliks by die Breytenbach Sentrum aanbied. Dié groep tree gereeld by literêre feeste op en bestaan uit 10 lede: Fiona Fertyn, Adriaan Williams, Ruth Robertson, Gaireyah Fredericks, Merle Danhouse, Sophia Oliphant, Jacqualine Saaiman, Nazlee Jeppie, Cecil Carrolisen en Diana Ferrus. Hulle skryf uitdagend oor die alledaagse mens in drie tale – Afrikaans, Engels en Kaaps. Hul werk vind ook weerklank in foto’s, grafiese kuns, drama, poppekas en woordkunsproduksies, en bied ʼn nuwe blik op die alledaagse lewe.

ʼn Besliste hoogtepunt op die naweek se kalender is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys aan Hilda Smits vir haar bundel Die bome reusagtig soos ons was. Die ander twee bundels op vanjaar se kortlys vir hierdie gesogte prys was Hendrik J. Botha se Atropos en Bibi Slippers se Fotostaatmasjien. Kom luister Saterdag om 19:30 na voorlesings van die drie digters se werk en sang van Ingrid Jonker en ander digters se getoonsette gedigte.

Filmverse 2, die ATKV se tweede suksesvolle en gewilde digkuns-animasieprojek bestaande uit twaalf gedigte, sal ook die hele naweek te sien wees. Hierdie opwindende visuele bloemlesing sluit gedigte in van die jonger geslag digters (waaronder Nathan Trantraal, Andries Bezuidenhout en Ronelda Kamfer) asook gedigte van ouer digters (soos Elisabeth Eybers, DJ Opperman, Boerneef en TT Cloete). Die werk van Joan Hambidge, Johann de Lange, Jeanne Goosen, Marlise Joubert en Heilna du Plooy vorm ook deel van hierdie veeltalige projek wat Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sesotho insluit.

Breyten se invloed op die generasies na hom kom onder die loep in ʼn gesprek deur PEN Afrikaans, en Nuwe Stemme 6, die sesde bundel in die gewilde Nuwe Stemme-reeks wat publikasiegeleenthede skep vir jong digters, word ook die naweek bekendgestel. Bibi Slippers, wat vanjaar reeds vier maal bekroon is vir haar debuutbundel Fotostaatmasjien, sal met Andries Bezuidenhout gesels oor die bundel. Tydens ’n “Oop mikrofoon” sal digters kans kry om hul gedigte vir die gehoor voor te lees. Op musikale front kan besoekers uitsien na optredes deur Riku Lätti en die groep Wasgoedlyn en Tribal Echo wat nuwe toonsettings van gedigte van Adam Small sing. Plaaslike musikante kry ook geleentheid om hul slag te wys.

Die sentrum se tuin word ook ingespan tydens die feesnaweek, en beloof om ʼn plek “vol gedigte, klanke, beelde en woorde” te wees wat die besoeker nooi om tot ruste te kom. Daar sal ook heelwat te ete en te drinke aangebied word.

Kaartjies kos R100 vir die Vrydag, R200 vir die Saterdag en R250 vir die tweedag-pakket, en studente met bewys van ’n geldige studentekaart betaal R60 per dag. PEN Afrikaans se jaarvergadering sal ook op Saterdag 16 September by die Tuin van Digters plaasvind en opbetaalde lede sal gratis toegang kry.

Besprekings en navrae kan gedoen word by Jeanne-Mari Gerber by besprekings@breytenbachsentrum.co.za, 021 873 2786, 073 435 1022, h/v Burger- en Malherbestraat, Wellington, 7655.