Uitblinkers met ’n Kanna-toekenning vereer

17 Mei 2017

Elana Afrika, seremonie-girl, het gesorg dat die aand seepglad verloop.

Hugo Theart, hoof van Kunste Onbeperk.

Mareli Stolp – sameroeper van die Kannapaneel.

Gideon Lombard het die Kanna ontvang vir beste akteur (Die reuk van appels).

Retief Scholtz het die Kanna ontvang vir beste nuutgeskrewe teks (Dop).

Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.

Danny B Manuel, Rymklets van oos na wes: Beste musiekproduksie.

Lara Foot se Karoo Moose is vanjaar met drie toekennings vereer: Kanna vir die beste teateraanbieding; Kanna vir die beste regie (Lara Foot) en Kanna vir die beste aktrise (Chuma Sopotela).

Bostaande foto's is geplaas met vergunning van Izak de Vries.

Tydens ’n spoggeleentheid in die Nasdak-onthaalruimte van die Media24-gebou in Roggebaai, Kaapstad is die presteerders van 2017 se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op 15 Mei vereer vir die besondere werk wat hulle vanjaar by dié fees gelewer het. Elana Afrika het gesorg dat die aand seepglad verloop.

Lara Foot se Karoo Moose is vanjaar met drie toekennings vereer: Kanna vir die beste teateraanbieding; Kanna vir die beste regie (Lara Foot) en Kanna vir die beste aktrise (Chuma Sopotela). Hierdie produksie het tien jaar gelede gedebuteer en het reeds 15 ander Suid-Afrikaanse teatertoekennings ontvang en is ook met groot lof oorsee ontvang. Die drama wat afspeel op ’n dorpie in die Karoo fokus op mishandeling, verwaarlosing, armoede en die verbrokkeling van families en bly steeds na tien jaar ’n teaterervaring om nie mis te loop nie.

Sandra Prinsloo, een van Afrikaans.com se beskermvroue, het ’n Kanna ontvang as beste vroulike byspeler vir haar rol as die vrou in Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa. Hierdie tydlose stuk deur Chris Barnard en geregisseer deur Albert Maritz, is as ’n huldeblyk aan die bekroonde skrywer opgedra en Sandra, as die sieklike moeder van Org Verwey (Waldemar Schultz) het weereens uitmuntende spel gelewer. Sandra was nie daar om die toekenning te ontvang nie, want sy is tans besig met die verfilming van Die Seemeeu, met Christiaan Olwagen as regisseur. Tog was sy aangenaam verras deur die aankondiging van die eer wat haar te beurt geval het.

“Dis altyd lekker as mense voel jy het iets goed gedoen en jy word op die skouer geklop en ek is veral dankbaar teenoor die mense wat die moeite doen om sodanige erkenning te gee. Dit is fantasties,“ sê Sandra.

Sandra Prinsloo: Beskermvrou van Afrikaans.com

Die rol van Org se moeder was vir haar ’n uitdaging ,want sy het nog nooit voorheen hierdie rol vertolk nie. Sy lag en sê sy het dit destyds as student gesien toe dit gedebuteer het, maar te veel tyd het tussenin verloop om regtig sekere dinge in detail te onthou.

“Dis ’n geweldige moeilike stuk en ek moes eers vir myself uitpluis of ek ’n werklike karakter is en of ek net in iemand, dis nou die seun Org, se verbeelding bestaan. Waldemar Schultz het hierdie karakter gespeel en die dialoog is glad nie logies nie. Ek moes baie op my instink vertrou. Die teks was moeilik om te leer, want ek en Waldi as Org, het die hele tyd bymekaar verbygepraat en dan daag die ander man, gespeel deur Wilhelm van der Walt, ook op. In die stuk word die ma ook al hoe meer verward en al hoe swakker en ek moes behoorlik kompaspunte vir myself stel om die koers te bepaal. Die Kanna wat ek nou hiervoor ontvang het, is daarom regtig vir my ’n besonderse toekenning.”

Tydens die funksie het Mareli Stop, voorsitter van hierdie jaar se Kannapaneel wat die beoordeling gedoen het, gesê dat met die terugskou na 2017 se KKNK dit duidelik is dat die kunste sterk staan in ons land. “Oudtshoorn het oorgeloop van teater- en musiekproduksies uit die boonste rakke, voor volgepakte sale. Dit was ’n enorme voorreg om uitvoerende werk van sulke hoë gehalte te beleef en elke KKNK-deelnemer het ons dank en respek – met of sonder ’n prys.“

By vanjaar se Kanna-toekennings is daar drie nuwe kategorieë ingestel. Buhle Ngaba se The Swan Song is die eerste wenner van die Kanna vir die beste uitkampteater-aanbieding. Retief Scholtz se komedie, Dop, het die Kanna vir beste nuutgeskrewe teks ontvang en die nieverbale uitkampteaterstuk vir kinders, In die woud, is met die Kanna vir beste kinderteater-aanbieding bekroon. Laasgenoemde kategorie is deur kinders van verskillende ouderdomme beoordeel.

Rymklets van Oos tot Wes is aangewys as die beste musiekproduksie by vanjaar se fees. In hierdie hip-hopproduksie het die land se beste rymkletsers soos Early B, HemelBesem, YOMA en Die Hooflig kragte saamgesnoer. HemelBesem is niemand anders nie as Simon Witbooi wat ook een van Afrikaans.com se ambassadeurs is. Early B het ’n paar weke gelede ook ’n Ghoema-toekenning verower.

Ronél de Jager se visuele kunsuitstalling Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets, het vir haar die Kanna vir beste visuele kunsuitstalling besorg. Gideon Lombard is as die beste akteur bekroon vir sy rol as die skoolseun in Die reuk van appels wat gebaseer is op die gelyknamige boek van Mark Behr.

Elkeen van die Kanna-wenners is huis toe met ’n kontantprys en ’n pragtige Kanna-beeldjie deur Danélle Janse van Rensburg. Veels geluk aan elkeen van die wenners.

Vir ’n volledige lys van wenners gaan na http://kknk.co.za/karoo-moose-wen-groot-kknk-kannas/ 

 

KKNK 2017 - Karoo Moose - © Hans van der Veen.

KKNK 2017 - Buite Land - © Hans van der Veen.

KKNK 2017 - The Swan Song - © Lumico.

Die pragtige Kanna-beeldjie deur Danélle Janse van Rensburg.