KKNK 2017 - Feesgenot

11 April 2017

'n Terugblik

Die 23ste Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn is vanaf Saterdag, 8 tot Saterdag 15 April 2017 aangebied en weereens is oud en jonk vermaak deur die room van die Suid-Afrikaanse kunste met ‘n program wat boordensvol was met drama, humor, musiek, diskoers en vermaak.

Pieter-Dirk Uys is met die Kunste Onbeperk-prys vereer vir sy “enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis”. Jason Jacobs wat as “skrywer, regisseur en akteur ’n dinamiese en belangrike nuwe stem tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf voeg”, is met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys vereer. Hy was te sien in In wag van, Kalahari Swaan en Stof Rooi en volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, is dit juis sy besondere styl van teater en sterk poëtiese aanslag wat hom uitsonder as ’n belewenis en het hy gesorg vir uitmuntende teaterervarings.

Die oorkoepelende feesprogram was gewortel in sosiale kwessies van kontemporêre Suid-Afrika en volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, “ het Uys die voortou geneem met komedie en satire”. Hy was in verskeie produksies te sien, soos Weerklink van ’n Wanklank en Pasaanoffokof. Tannie Evita het selfs tydens die fees haar verskyning as eregas gemaak.

Vir jare het jy gewoond geraak aan Krit, die KKNK se eie feeskoerant wat jou elke dag douvoordag die beste van die fees bied. KritNou is ‘n nuwe toevoeging tot Krit. Indien jy die fees vanjaar misgeloop het, kan jy die uitgawes van Krit hier lees.

Feesgangers kon verskeie nuwe en klassieke toneelstukke ervaar. In 2017 is dit reeds vyf jaar sedert Reza de Wet oorlede is en haar kragtige toneelstuk Breathing In word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) vir die eerste keer in Afrikaans aangebied as Asem, onder regie van Marthinus Basson, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk-Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt.

Die kontemporêre drama Buite Land (NewFoundLand) deur Neil Coppen het op die fees gedebuteer en die klassieke Pa maak vir my ’n vlieër Pa van Chris Barnard met die immergewilde Sandra Prinsloo en Waldemar Schultz het feesgangers gaande gehad. Henrik Ibsen se Die vrou uit die see was nog ‘n hoogtepunt.

Nog 'n debuut was Tertius Kapp en Jaco Bouwer se Liewer en feesgangers kon Anna-Mart van der Merwe en Brendon Daniels op die verhoog ervaar.

Solovertonings, komedie en musiek het ‘n kunsallegaartjie geskep waaroor feesgangers nog lank sal praat. Die Amper Famous hip-hop musiekblyspel, Coenie de Villiers en Deon Meyer se multimedia-vertoning, Karoo Suite en Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band se kontemporêre baadjie vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese protesalbum Eet Kreef, het die musiekprogram laat lééf. Nog ‘n musiekteaterstuk Piekniek by Dingaan wat deur die Feesteforum en NATi ontwikkel word as Piekniek by Mpande nee Dingaan is met groot lof ontvang.

Produksies waaruit feesgangers kon kies was Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe met die splinternuwe Karoo Swing en Zolani Mahola (Freshlyground) wat kom Rock en rol het in ’n produksie wat die rol van vrouwees in die wêreld van rock & roll vereer.

Amanda Strydom met So onder deur die maan, Andriette Norman en orkes met Goeie genade dis ’n dekade!, Jak de Priester met 15 Jaar met klavier en kitaar, Loki Rothman en Albert Frost met Die akoestiese kitaar, Ricus Nel en Pietman Geldenhuys met Die ding van ’n liedjie en Steffie le Roux en Les Javan wat hul musiektalente saamspan, was nog produksies wat niemand wou misloop nie.

’n Hoogtepunt was Die Vlammende Fez, ’n literêre kabaret, wat ’n kykie gee op die skrywer ID du Plessis se lewe en skryfwerk oor die Kaapse Maleier-kultuur. Dit was onder regie van Abduragmaan Adams met o.a. Chris van Niekerk, Loukmaan Adams en ’n Kaapse Maleier-sanggroep.
Kry ’n vinnige #kykie op gebeurlikhede van 2017 se KKNK: http://kknk.co.za/kykie/ en as jy wil weet waar was dit lekker op die fees, kyk hier. 

  Lees meer ...

KKNK 2017 - Uit die mond van Feesgangers

“Dit is steeds Nagmaal op die markplein.”
Karen Meiring, hoof van kykNET en voormalige hoof van die KKNK, oor die stand van Afrikaanse kunstefeeste in 2017.

“Kaaps is oer-oud; moenie my taal sommer só kyk nie. Kaaps is kragtig”.
Shirmoney Rhode, debuutdigter in Kaaps.

“Vang jy dit? Nie? Bel dan maar die ACVV-taxi (…om jou ouetehuis toe te neem).”
Herman Lategan, resensent, oor Piekniek by Mpande née Dingaan

“Ons is baie trots op hom, maar ook so bietjie skaam (omdat hy so baie vloek op die verhoog).”
Schalk Bezuidenhout sr, ná sy komediant-seun se eerste optrede by vanjaar se KKNK.

“Selfs al is daar ‘n familiekrisis, ek kan dit altyd ná die week hier uitsort.”
Anita Carstens, wat vanaf die eerste KKNK nog nie ‘n enkele een misgeloop het nie.

“Die KKNK-ervaring is soos om op reis te gaan. Jy besoek plekke in jou kop waar jy nog nooit voorheen was nie.”
Chichi Mhlantla, uitvoerende hoof van Absa vir die Oos- en Suid-Kaap, oor haar eerste feeservaring.

“Pak jou kar vol tieners en gaan kyk. Laai sommer ’n paar ander op en neem hulle saam.”
Ilza Roggeband, resensent, oor Amper Famous – die eerste Afrikaanse hip-hop musiekblyspel.

“As jy ’n hoesbui het, bly in die katel. As jy aanhoudend nies, kry pille. As jy nie weet hoe om jou selfoon af te skakel nie, vra ’n tiener om jou te wys. Hulle weet mos alles.”
Herman Lategan, resensent, oor teateretiket.

“Die KKNK, as ’n plattelandse kunstefees, bied ’n neutrale bymekaarkomplek. Ons kies nie kant in (die) debatte nie, maar skep bloot ’n geleentheid vir kenners om met gewone mense oor sake van die dag te praat én om vrae wat ons feesgangers mag hê, te beantwoord.”
Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, oor gespreksreekse met omstrede onderwerpe op die fees.

“Dankie, dankie, my gemoed is net te vol!”
Ben Bruwer, buurman op Loxton van die skrywer Deon Meyer, oor sy trane by aanskoue van Meyer en Coenie de Villiers se Karoo Suite en sy “rol” as een van die karakters.

“Befondsing vir die kunste sal nooit aangewend word vir maatskaplike kwessies nie en jy moet nie die twee verwar nie. Mense gaan ook nooit maatskaplike ongelykhede raaksien as die kunste nie daar is om dit uit te wys nie.”
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van Nati, op ‘n vraag oor die regverdigheid daarvan om die kunste te ondersteun in stede van maatskaplike kwessies soos behuising.

“Dis onse culture.”
Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, Bonteheuwel se belangrikste kos-uitvoerprodukte, oor die aanspreekvorm “tannie”.

“Die stof . . . vuil voete . . . moeë bene ná ’n dag by die fees en ’n draai by al die stalletjies, en ’n lekker braai saam met vriende en/of kollegas ná ’n goeie vertoning.”
Pieter Koen, sanger, oor wat die KKNK vir hom spesiaal maak.

“Die gemiddelde ouderdom van die gehoor dalk ouer as wat ’n mens sou dink. Was die gryskop man daar omdat hy Voëlvry onthou? Was die vrou met die brilletjie daar omdat sy ’n ander kant van Zoid leer ken het in haar program Die Republiek van Zoid Afrika? Wie weet, maar teen die einde was almal op hul voete, sommige met hande bo die kop en ’n wikkel in die heupe.”
Ilza Roggeband, resensent, oor Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band.

“Ek wonder soms as ek met Dowwe Dolla opgetree het – wat het ek nou aangevang? Dit is so dat mense jou dan met daardie rol assosieer.”
Margit Meyer-Rödenbeck, akteur, oor die impak van sekere rolle en karakters op stereotipering van akteurs in die teaterbedryf.

“Sal kuns, enige kuns, slegs ’n impak op jou hê as jy dít wat aangespreek word aan jou eie lyf voel? Of dat dit selfs net ’n kring of twee weg van jou eie poel gebeur?”
Ilza Roggeband, resensent, oor Nico Scheepers se Moedertaal.

“Dit is my droom om die kans wat my pa nooit gehad het nie, terug te leen.”
Jason Jacobs, vanjaar se Kunste Onbeperk - Nuwe Stem by die KKNK.

“Die woorde … is dik soos room en gelaai met sterk visuele en poëtiese beelde… Afrikaans sit met ’n vonds, ’n juweel wat sy kroon verder gaan laat skitter.”
Herman Lategan, resensent, oor Jason Jacobs (ontvanger van Kunste Onbeperk – Nuwe Stem) se In die wag.

“Die mense hier is baie toeganklik. Ek het my voorberei op ’n kultuurskok, maar was verbaas hoe eenders Afrikaans, die somerweer en tydsone aan my tuisdorp in Leiden is.”
Daan Mathot, akteur uit Nederland oor sy eerste besoek aan die KKNK. 

  Lees meer ...

Uitkampteater - Die hart van die fees

“Uitkampteater is geloods om ‘n platform vir opkomende kunstenaars te skep en ‘n nuwe ruimte te skep waar kunstenaars met nuwe werk kan eksperimenteer.” – Rhodé Snyman

‘n  Nuwe manier van kamp, ‘n nuwe manier van teater ... Uitkampteater is hier om te bly! Dit was die hart van vanjaar se fees - ‘n innoverende manier om teater aan te bied met kort produksies in klein tente. Kunstenaars lok jou in. Jy word deel van hul speelveld en dit word ‘n plek waar kunstenaar en gehoor ontmoet met net ‘n tentseil wat jou van die werklikheid skei. Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, vertel hoe ‘n gesprek in 2015 met Marisa Gerards, Nederlandse ambassadeur, gelei het tot ‘n besoek aan die Theaterfestival Boulevard in Den Bosch en dat die konsep hier vlamgevat het. In 2016 is die eerste Uitkampteaterprogram hier bekendgestel en dit was ‘n reuse sukses. Die Burger skryf: “Voor die Burgersentrum het ’n bont sigeunertentdorpie herrys. Elke dag word die tentflappe oopgegooi ... dit is ‘n gelukspakkie. Jy wil dit net oopruk en dadelik alles sien en beleef. Alles is onmiddellik en intiem, want die teaters is piepklein en jy maak oogkontak met die spelers ... ‘n seldsame ervaring.”

Vanjaar was die aanbod nog groter. Agt stukke is aangebied en is ook uitgebrei na Arbeidsgenot om aan kinders vier kortkuns-ervarings te bied. Arbeidsgenot was dié bymekaarkomplek vir jong feesgangers met opwindende 3D-kindervertonings, interaktiewe aktiwiteite en lekker vermaak. Die Ongelooflike Avonture van Andries Anders, was ’n debuutproduksie wat avontuurlus prikkel. Dit is aangebied deur dramastudente van die Universiteit van die Vrystaat en definitief ‘n produksie om voor uit te kyk by ander feeste.

Kyk hier ...

Kattekwaad by Arbeidsgenot

Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk gesels oor KKNK 2017

Hier verruim jy jou gees - KKNK Uitkampteater

“Die mees opwindende teaterervaring van 2016.”

- Fiëstapaneel

Dit is die tweede aanbieding van dié innoverende platform en Uitkampteater het vanjaar twee tuistes – nege tentjies voor die Absa Burgersentrum en twee by Arbeidsgenot, die nuwe area vir kindervermaak en die aanbod is groter met meer kunsvorme en genres.

Dit word moontlik gemaak deur die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria en Clover en dié uitgebreide feestelikheid sluit twee produksies deur Nederlandse kortkunsspesialiste, opwindende werke deur jong en gevestigde teatermakers en die Eden Dramafees se wenproduksie in.

Kom loop op boomtakke en in die wolke ...
Vanuit Nederland bring Sonja Volmer en Dagmar Geerlings ’n ruimtelike teaterervaring – Wentel. Hierdie produksie gee jou ’n nuwe wêreldperspektief en met Diep bring Daan Mathot en Jan-Joost Alberts nieverbale teater na die verhoog.

Eden Dramafeeswenners 2016
Twee dramas word aangebied waaronder Afsnypunt, deur die wenners van die Eden Dramafees in 2016 en Sandra se laaste show met Igna Botha. Afsnypunt met Brutney Singrew, Llewellyn Bond en Samuel Jumat vertel die storie van ’n ongehoorsame jong man, wat deur sy ouers in ’n kamer toegesluit word. Die vertrek is gevul met ’n klomp poppe en interessante dinge gebeur. Sandra se laaste show vertel die storie van ’n vrou wie se grootste droom was om ’n teateraktrise te wees, maar haar lewensomstandighede laat dit nie toe nie.

Word ‘n koei
Word ’n koei en ontsnap jou quarter-life crisis is ’n sketskomedie deur Llandi Beeslaar (bekend as Mielie van Keeping up with Marinda uit die Republiek van Zoid Afrika) en vertel die storie van ’n vrou in haar laat-twintigs. Met haar hoërskoolreünie wat voorlê, is daar nie veel om oor te brag nie. Kom lag saam soos sy komiese stories van ouer, vetter én somtyds maller word, deel.

Poppeteater
Bekroonde teatermaker Nico Scheepers behartig die teks, ontwerp en regie van Die toringvrou, poppeteater met Nieke Lombard. Dit is ’n magiese reis van herinnering en nostalgie, wat baie hase uit die hoed pluk om die storie te vertel. Tweespalt is ’n narrespel met Jazzara Jaslyn en Klara van Wyk, ’n verhaal van twee misplaaste, ewig kibbelende sibbe, wat weggehardloop het van hul miserabele lewe.

Liefdesherinneringe
Buhle Ngaba is te sien in The Swang song, ’n fisiese teaterstuk wat swanesang as ’n metafoor gebruik om ’n vrou se liefdesherinnering as ’n emosionele en fisiese siekte uit te beeld. Die gehoor bevind hulself in ’n nes en is ooggetuies wanneer dié sterwende swaan vir die eerste keer met die wêreld in gesprek tree. Ngaba is deur die Mail & Guardian geïdentifiseer as een van die 17 individue wat in 2017 hulle aandag het. Dié stuk word aangebied ter nagedagtenis aan Brett Goldin, wat tien jaar gelede in Kaapstad vermoor is.

Kabaret
Ir(ras)sioneel is ’n kabaret met Des-Lee McKenzie, Lize-Marie Richardson en Lehandi Eygelaar en neem bestek van ons reënboognasie, ná meer as twee dekades van demokrasie in Suid-Afrika. Dit word gou duidelik: bo blink, onder stink. Die draak word gesteek met kwessies wat wissel van velverbleiking tot transformasie in sport.

Hierdie nege stukke word daagliks van 10:00 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00 voor die Absa Burgersentrum in Baron van Reedestraat aangebied. Kaartjies kos R20 en kan vooraf in die straat gekoop word.

Uitkampteaterstukke vir kinders

Vier opwindende teaterstukke vir kinders word aangebied by Arbeidsgenot.en is die perfekte geleentheid om kinders aan teater bekend te stel.

Avontuur
Cindershoeler met Jurgen McEwan, Caleb Peter en Kurt Jonas begin en eindig soos enige ander kinderstorie, maar gaan die verskillende skoene wat op ’n jong dogtertjie wag, verskillende wendings in haar avontuur bring? McEwan, Peter en Jonas se nieverbale teater In die woud, neem die gehoor op reis deur die natuur in ’n ontdekkingstog met natuurklanke in die storie verweef.

Kattekwaad
Sylvester, die Karoo se bekende rondloperleeu, beland in die spervuur in Kattekwaad met Chanmari Erasmus, Nelien Smith en Schoemé Grobler. Dié beroemde rondloper en sy handlanger getuig van onvergeetlike avonture, maar wat sê die hof, is Sylvester skuldig of onskuldig? Sylvester se avonture word in Nóg meer kattekwaad voortgesit, wanneer sy grootste vyand op sy spoor is. Word daar ’n stokkie voor sy kattekwaad gesteek, of is dit die begin van ’n nuwe avontuur? Erasmus, Smith en Grobler is ook in hierdie produksie te sien.

Die kindervermaak-produksies word daagliks van 09:30 tot 15:00 by Arbeidsgenot aangebied. Kaartjies hiervoor kos R20 per produksie en kan voor vertonings gekoop word.

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za

  Lees meer ...

Pieter-Dirk Uys – ‘n Tornado van talent

Lizz Meiring skryf oor haar vriend en mentor van 33 jaar:

 
“Om Pieter-Dirk Uys te beskryf, is soos om ‘n tornado in die kleinste mees delikate glasflessie te probeer vasvang.

“Want hy is albei – ‘n tornado van talent wat vreesloos oor dekades, nie net Suid-Afrikaners nie, maar mense dwarsoor die wêreld se siening oor gevreesde politici en regerende instansies met sy eiesoortige skerp, slimsnaakse satire totaal op sy kop gekeer het. En dan is daar die ander flessie – die warm deernisvolle man wat elke individu wat sy pad kruis ... intrek by sy sonderlinge insig en sy bodemlose liefde vir ons land en al sy inwoners.” 

Kyk hier ...

Nou in sy 71ste jaar, kyk Pieter-Dirk Uys terug na die padwysers wat hom onbewustelik deur sy lewe in die regte en oorspronklike rigting gestuur het. Na meer as 7 000 solo-optredes regoor die wêreld, het Pieter-Dirk Uys geleer dat elke optrede die eerste én laaste is, want elke gehoor vereis en ontvang ’n ander energie, aktualiteit en opwinding. Hy gesels met Afrikaans.com.

Pieter-Dirk Uys ontvang op die fees die Kunste Onbeperk Kruispunt-toekenning vir sy onverskrokke ywer vir die teater en vir sy rol as maatskaplike aktivis. Hy word vereer vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis. Hy veg vir die reg tot vryheid van spraak tot bewusmakingsveldtogte oor vigs in skole en met sy Darling Trust en Evita se Perron inspireer hy nie net die gemeenskap van Darling nie, maar strek sy hartswerk wêreldwyd.
Hy was onder meer te sien in sy eenmanvertoning Weerklink van ’n Wanklank – ’n eenman-memoir waarin hy terugkyk op sy lewe. Lees Liz Meiring se huldeblyk op die KKNK feesprogram

 

Nuwe stem – Jason Jacobs

Die KKNK vereer ook die jong teaterskepper Jason Jacobs as nuwe stem – sy soloproduksie Stof rooi op die fees toon ’n jong man wat poog om sy ewewig te vind tussen sy herkoms en ’n nuwe wêreld wat wink. Hy ontvang die prys as erkenning vir sy unieke stem. As skrywer, regisseur en akteur voeg hy ‘n dinamiese en belangrike stem tot die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse teaterbedryf.

  Lees meer ...

Die eerste Afrikaanse hip-hop-musiekblyspel

Amper Famous, ’n produksie deur David Kramer en ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) het gehore by vanjaar se KKNK laat regop sit. Met Vito Heyn (V.I.T.O) in die hoofrol en medespelers, Rushney Ferguson en Anray Amansure wat skitter met hul vertolkings word die belangrike rol van feeste as ‘n uitstekende platform vir jong kunstenaars om hul tande te slyp en hul stemme te vind, onderstreep.

Met Amper Famous kry hierdie kunstenaars die geleentheid met die ondersteuning van die musieklegende David Kramer.

Hierdie musiekblyspel, wat die titel eien as die eerste Afrikaanse hip-hop-musiekblyspel, vertel die verhaal van ’n jong seun, Willem (V.I.T.O.), uit Okiep in Namakwaland wat sy pad vind uit die stowwerige strate en sy droom nastreef om ’n bekende rymkletser te word, maar in sy taal en vir sy mense. Met die ondersteuning van sy vriendin Koekie (Anray Amansure) trotseer Willem, oftewel Wokes, die uitdagings van die lewe op ’n plattelandse dorpie, van verlief raak op die stadsmeisie, Sandra (Rushney Ferguson), tot die realiteit van werkloosheid en armoede. Vito Heyn se teks vertel wel ’n eerlike verhaal van hoop en drome, en gee ’n stem aan die Nama-jeug, wat uitdrukking vind in die rymklets.

Kyk hier ...

David Kramer verleen sy jare lange ervaring om te help bou aan hierdie jong stemme. Hy gesels met Afrikaans.com.

KKNK-Boekprogram was weer vanjaar ʼn fees vir lesers

Die boekeprogram by die KKNK, wat vanjaar vir die 23e keer aangebied is, is vanjaar saamgestel deur Daniel Hugo, bekende digter en vertaler. Die program het oudergewoonte weer iets vir alle leessmake gebied, met gesprekke oor verskeie genres heen. Hier is wat ʼn paar van die skrywers oor hul boeke te sê gehad het.

“Die KKNK-boekgespreksreeks maak skrywers lewendig vir hul gehore.” - Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.

Hermann Giliomee - Historikus
Een van die hoogtepunte op die programkalender was Daniel Hugo, programsamesteller, se gesprek met prof. Hermann Giliomee oor sy outobiografie Historikus. Hugo het aan ʼn vol saal vertel Historikus is veel meer as ’n outobiografie. “Dis ’n beknopte geskiedenis van Suid-Afrika en lees soos ’n roman.” Giliomee het gesê dat dit nog altyd vir hom belangrik was dat ’n geskiedkundige werk toeganklik is en soos ’n storieboek lees. “Die beste raad wat ek nog gekry het oor die skryf van ’n geskiedenisboek, is tell your story. Dis die beste raad vir ’n geskiedskrywer. Die leser moet die geskiedenis belééf wanneer hulle jou boek lees. My benadering oor enige boek, en veral oor geskiedenisboeke, is dat niemand verplig is om jou werk te lees nie.”

Die twee storievertellers van Ladismith

Stoepstories, huisstories, kerkstories, bidstories, en stories oor die smarte en ellende en gelukke van Ladismith se mense en hul dinge. Dit was waaroor die bekende kortverhaalskrywer Abraham de Vries en die legendariese sjef en kosskrywer Peter Veldsman in hulle boekgesprek met prof. Wium van Zyl gesels het. Albei skrywers is gebore en getoë in Ladismith. De Vries, wat vanjaar tagtig word, het dit betreur dat die kuns van storievertel nie meer so baie aandag kry soos vroeër jare nie. “Vandag se studente weet nie wat stories is nie. Hulle mis so baie. Ons het destyds nie so baie tyd aan radio of TV bestee nie. Ek het na mense se stories geluister. Elkeen op my pad het sy eie manier van vertel gehad. Ek is ewig dankbaar dat ek so baie in Ladismith kon meemaak, die plek wat die grondslag is van my stories. Die beloning agterna is wonderlik.”

 
Abraham de Vries en Peter Veldsman - die twee storievertellers van Ladismith.

Ena Jansen in gesprek
Ena Jansen, skrywer van Soos familie, het in gesprek met Hannes Visser, die redakteur van Oudtshoorn Courant, vertel dat sy dit nie as dokumentêre boek geskryf het nie. “Ek het dit ook nie met 'n polities korrekte benadering geskryf nie. Vir baie wit Suid-Afrikaners was hul eerste ervaring van rassisme in Suid-Afrika die behandeling van die vrou in hul huis vir wie hulle baie lief was. Dit was dikwels 'n komplekse gevoel van terselfdertyd liefde en uitsluiting. Hul bewustheid van apartheid het dus in baie gevalle gekom deur die behandeling en posisie van die huiswerker. Maar ons wittes het nie altyd 'waarom' gevra nie."

Deon Maas – ‘nuwe Afrikanerskap’
Deon Maas, skrywer van Melk die heilige koeie, het in gesprek met Marianne Thamm, skrywer van Hitler, Verwoerd, Mandela and me, vertel dat hy met sy boek die Afrikaner se “dwarstrekker-geen” wou probeer uitpluis. “Ons almal hier het in ons voorgeslagte iemand wat altyd vasgesit het met sy buurman” en dan padgegee het – ver weg, “sommer oor die Drakensberge, nie na die erf langsaan nie. Dis daardie geen waarvan ek praat. Dis ingeburger, dis deel van ons DNS.” Dit maak hom egter nie minder trots op Afrikaans en sy Afrikanerskap nie. “Maar dis ’n nuwe Afrikanerskap – een wat nie eenogig na die wêreld kyk nie, maar graag luister na ander se menings en oortuigings en dit nie altyd aanvaar nie.”

Van der Merwe en Brits oor navorsing
Carel van der Merwe (Donker stroom) en Elsabé Brits (Emily Hobhouse: Geliefde verraaier) het in hul gesprek met Daniel Hugo meer vertel oor die navorsing vir hul boeke. Van der Merwe se navorsing het twee jaar geduur. Die prikkel vir sy boek was die gaping wat Leon Rousseau gelaat het in Die groot verlange oor Marais se verblyf in Londen. “Rousseau het gesê Marais se spoor het doodgeloop in Londen. Maar ek het daardie spoor gevat en baie inligting opgespoor.” Brits, ’n koerantjoernalis, se navorsing oor Hobhouse het begin toe sy ’n artikel oor die “geliefde verraaier” wou skryf. “My navorsing het al hoe meer geword, en ek het elke bietjie vrye tyd gebruik om oor haar na te lees. Daar is baie boeke oor haar, soos Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde. Geleidelik het daar vir my ’n ander vrou na vore gekom, ’n enigmatiese mens. En ek het gedink – sy moet dalk in ’n ander lig gestel word.”


Ena Jansen (links)  Onse Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry en Ena van der Walt van Naln, wat Jansen op die spoor van Anna Barry gesit het.

Soettand
Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, skrywers van Kook saam Kaaps, was by die KKNK om hul nuwe boek, Soettand, bekend te stel. Daar is reeds meer as 14 000 eksemplare verkoop van Kook saam Kaaps, wat verlede jaar verskyn het, en beide boeke word reeds beskryf as standaardwerke van tradisionele kos en soetigheid. Die tantes, wat deur gespreksleier Marlene Malan beskryf word as “Bonteheuwel se belangrikste kos-uitvoerprodukte” het onder meer gesels oor hoe dit voel om skielik bekend te wees, en gesê hulle sou dit nie sonder die ondersteuning van hul gesinne kon doen nie. “Hulle ry met ons net waar ons moet wees,” vertel Flori. “Ons kan sien hulle is trots, al hou hulle hulle cool en maak of dit sommer niks is nie,” sê Koelsoem.

Ware verhale
Carla van der Spuy, skrywer van Mishandel, misbruik en misken en Heindrich Wyngaard, skrywer van A home for Zephany, wat later vanjaar ook in Afrikaans verskyn, het in die boekgesprek oor hul twee ware verhale gesê dis belangrik dat joernaliste wat hul werk ordentlik wil doen, altyd ’n afstand handhaaf, objektief bly en nie te betrokke te raak by die rolspelers in die verhale nie. Albei glo die heel belangrikste is egter dat ‘n skrywer ander, buitengewone hoeke vir stories moet probeer vind, veral as hulle skryf oor stories wat maande lank voorbladnuus was. Daarom het Van der Spuy gefokus op Amor van der Westhuyzen, die dogter van Joey Haarhoff wat saam met Gert van Rooyen in die laat jare tagtig ses skoolmeisies ontvoer en waarskynlik vermoor het. Hiermee wou sy die verhaal van die gesin agter die misdadiger vertel. Wyngaard het weer gekies om te fokus op die verhaal van Mev. S, die vrou wat Zephany in die hospitaal gesteel het. “Ek wou háár storie hoor. Die meeste joernaliste wat die storie gedek het, was vroue, en die meeste van hulle het gefokus op die hartseer van die Nurse-gesin. Daar is fyn elemente in die verhaal wat hulle dikwels nie opgetel het nie.”

Kaapse debuutdigters aan die woord
Nog ʼn hoogtepunt op die KKNK-program was die twee jong Kaapse debuutdigters Shirmoney Rhode (Nomme 20, Delphi Straat) en Gaireyah Fredericks (Kaaps is weer Hollands) se gesprek met Daniel Hugo. Om in Standaardafrikaans te praat en skryf het, het hulle laat voel asof “die kop nie saam met die hart praat nie.” Eers toe hulle in Kaaps, wat hulle beskryf as die taal van hulle hart en siel, kon dig, het dit gevoel asof hulle eerlik is teenoor hulself en hul lesers. Die vroue deel ʼn bewondering vir die werk van Adam Small en die digter Diana Ferrus, wat hulle beskryf as hul “uitkykmammie” en mentor.


Die "performance poets" Gaireyah Fredericks (links) en Shirmoney Rhode.

Wat nou, Suid-Afrika? – Theuns Eloff
Dr. Theuns Eloff, uitvoerende hoof van die F.W. de Klerk-stigting en voorheen rektor van die Universiteit van Noordwes, het oor Wat nou, Suid-Afrika? sy analise van huidige politieke en ekonomiese verwikkelinge in die land, gesels. Die boek het ook pas in Engels verskyn as Turning Point.

Hoogtepunte
Aanhangers van Eben Venter, wat in Australië woon, het die rare kans gekry om hom in lewende lywe met Daniel Hugo te hoor praat rondom die tema: Blik op Suid-Afrika van binne en buite. In hierdie gesprek is Venter se twee romans Wolf, wolf en Horrelpoot, wat temas van kleur, politiek, ontnugtering en lig teenoor donker ondersoek, ook bekyk. Venter se volgende boek, Groen soos die hemel daarbo, verskyn binnekort by Tafelberg.

Die misdaadskrywers Deon Meyer (Koors) en Chanette Paul (Offerlam en Offerande) het met Tertius Kapp gesels oor die gewildheid van misdaadverhale. Kapp, wat in 2015 met die Hertzogprys bekroon is vir sy dramas Oorsee en Rooiland, het ook met die uitgewer Nicol Stassen en regisseur Marthinus Basson gesels oor hoekom so min dramatekste gepubliseer word.


Erns Grundling, Dana Snyman, Daniel Hugo.

In Skrywers op pad het Dana Snyman, skrywer van onder meer In die blou kamp en Onder die radar en Erns Grundling, skrywer van Elders, gesels oor hul reisverhale. Terwyl Snyman graag die verste uithoeke van ons land verken, handel Grundling se boek oor die Camino Francés, die bekende en gewilde pelgrimstog in Spanje, wat hy op sy eie gaan stap het.


Daniel Hugo en Willem Steenkamp, skrywer van Suid-Afrika se Grensoorlog.

In Die grensoorlog herbelig wou gespreksleier Daniel Hugo by Willem Steenkamp, oudjoernalis, skrywer, historikus en militêre analis, weet of daar werklik ʼn wenner was in Suid-Afrika se Grensoorlog. Steenkamp word beskou as voorste kenner van Suid-Afrika se militêre geskiedenis en het al verskeie boeke daaroor geskryf, onder meer die topverkoper Suid-Afrika se Grensoorlog (1989).

*Met dank aan Marlene Malan, wat vir die feeskoerant Krit geskryf het oor die boekgesprekke. Foto’s: Marlene Malan

Kyk hier ...

#waarsitlekka by KKNK 2017.

Afrikaans.com en Sarie het mure opgerig waarop feesgangers kan skryf: “Hoe lyk jou Afrikaans?”. Dit is op die hoek van Baron van Rheede en Voortrekkerstraat voor die Feeskafee. Gaan maak ‘n draai en sê jou sê.

 

Bouwer Bosch, Tobie Cronje, Sandra Prinsloo en Schalk Bezuidenhout weet #waarsitlekka!

Die KKNK-woord 2017: Trots

 

 

  Lees meer ...

Feesgenot - wees slaggereed! Ambassadeurs vir Afrikaans gee raad

Die tafel is gedek vir ’n feesmaal en vanaf 8 tot 15 April sal kunstenaars, verhoogpersoneel, tegnici, stalletjiehouers en feesgangers na Oudtshoorn stroom vir die jaarlikse KKNK, die oudste Afrikaanse kunstefees in die land. Is jy een van die bevoorregtes wat vanjaar hierdie kunstefees gaan meemaak? Wees slaggereed en gebruik hierdie wenke van ons Afrikaans.com ambassadeurs wat al almal ’n draai op meer as een fees gemaak het om hierdie ervaring onvergeetlik te maak.
 

Lees meer ...