’n Skreeusnaakse moord

27 Januarie 2017

Hoener met die rooi skoene – ’n riller-komedie met ’n kinkel ... of twee. 

➢ Vanaf 27 Januarie 2017 ...

Regisseur Koos Roets se nuwe riller-komedie, Hoener met die rooi skoene, draai vanaf 27 Januarie 2017 in teaters landswyd. Die fliek, geïnspireer deur ’n Franse teaterdrama uit die 1950’s en die suksesvolle fliek, Babbelkous, uit die sewentigs, met Katinka Heyns en Tobie Cronje in die hoofrolle, vertel die storie van ‘n bisarre en terselfdertyd skreeusnaakse moord wat deur ’n babbelkous ontvangsdame aanskou word. Sy probeer dan self speurder speel terwyl sy terselfdertyd met ’n karakter uit haar verlede gekonfronteer word. Die verhaal kry ’n groter impak deur die fyn balans tussen humor, spanning en patos.

Afrikaans.com se Pieter Cloete en Clara Olivier was by die première van Hoener met die rooi skoene waar hulle met ’n paar akteurs gesels het oor hul rolle in die nuwe riller-komedie

 

Kortliks die verhaal:

Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), wat onder sy kollegas as ‘Ysterhaan’ bekend staan, is altyd in beheer. As hy in die uitvoering van sy pligte in die water beland, is griep sy voorland. In hierdie koorsige toestand, word hy die ondersoekbeampte van ’n ongewone moordtoneel met die lyk wat spoorloos verdwyn het ... en bevind hy hom spoedig midde die chaos en verwarring van meer as een moord en ’n situasie met allerlei vreemde kinkels wat die grootste uitdaging van sy loopbaan en lewe blyk te wees ...

Terwyl Bonnie van der Byl, ontvangsdame van die bekende Du Toit De Waal Teateragentskap, laatmiddag lustig voortklets op haar kantoorfoon, terwyl ’n storm buite opsteek, strompel haar suksesvolle maar ongewilde baas Du Toit de Waal (Deon Lotz) met ’n mes in die rug die ontvangslokaal binne. As sy na haar floute bykom met die flitslig van Konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë, is die lyk weg en die tawwe Kaptein word ingeroep. Dit neem nie lank vir Bonnie om die Kaptein as Hoenertjie Greyling uit haar skooldae te herken nie, nou getroud met ’n vrou en vyf dogters ...

Van nou af is sy die selfaangestelde speurder wat hom probeer ontmagtig om ’n punt of twee te bewys. Tydens die Kaptein se ondervraging word die geheimpies van almal onder verdenking blootgelê: Cecilia de Waal (Dorette Potgieter) die baas se veel jonger aantreklike vrou, het meer as een buite-egtelike verhouding, Miss Enith Conradie (Lida Botha) is haar lewe lank heimlik op die baas verlief, Roxie Roos (Laré Birk) is die ‘oorlede’ baas, wat nogal heel lekker kan soen, se kantoor-pretpoppie, die sjarmante kantoorklerk Percy Cilliers (Geon Nel) is ’n vryer wat nie sy werk doen nie en die ouer Harold Berrington-Smith (Flip Theron) is ’n tail-gunner. Tydens hierdie gebeure kondig Konstabel Mentz ewe onverwags aan dat hy die baas se ‘lyk’ gevind het... en hy’s nie meer ’n lyk nie!

As die lyk van Jacques Petout (Jacques Theron), die skelmpie van Cecilia de Waal op ’n sandduin ontdek word en Berrington-Smith kort daarna voor Bonnie se oë met ’n bloeiende meswond by die hysbak inmekaarstort, verdiep die raaisel. In haar verbete pogings om self speurder te speel en bewyse as troefkaarte te gebruik, kom sy in botsing met die Kaptein en kruis haar pad - met byna tragiese gevolge - met die van die moordenaar ...

Na die moordenaar laataand in hegtenis geneem is, groet Kaptein ’n brose Bonnie. As sy in die reënerige nag uitstap om ’n doppie op Hoenertjie Greyling te gaan drink, sit hy vir haar op die stoep en wag... en die leuen van vroeër word nek-omgedraai.   

Lees Bioskoop se resensie hier.