Die boek en die fliek

15 Maart 2017

Jagveld die fliek – ’n aksieriller in Afrikaans.

➢ Vanaf 18 Maart 2017 ...

Jagveld pak ’n genre aan wat dekades laas in Suid-Afrika, en spesifiek in Afrikaans, gesien is, naamlik die “aksieriller”. Met hierdie rolprent het die span agter Jagveld baanbrekerswerk gedoen en nuwe moontlikhede geskep vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf, en in die besonder vir die aksieriller.

Een van die uitstaande elemente van die prent en iets wat Suid-Afrikaanse gehore behoort op te val, is die keuses wat ten opsigte van die rolverdeling gemaak is, en hoe Jagveld die publiek se verwagtinge en persepsies van hierdie talentvolle akteurs heeltemal op hul kop gaan draai. Leandie du Randt, Suid-Afrika se liefling wat gewoonlik die beeldskone romantiese leading lady speel, en meer onlangs ook haar opwagting in ’n sepie gemaak het, word ’n aksieheldin met wie jy beslis nie wil skoorsoek nie en wat nie bang is om haar hande vuil te maak nie. Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Bouwer Bosch, Danie Putter, Luan Jacobs en Edwin van der Walt, meer bekend vir hulle rolle in van Suid-Afrika se gewildste romantiese komedies en dramas, wys hul talent en veelsydigheid deur hulself te omskep in ’n koelbloedige, gewetenlose, bende misdadigers.

Jagveld breek dus geslagstereotipes af, waarvan die beste voorbeeld waarskynlik Leandie se karakter Emma le Roux is, want Emma is beslis nie ’n hulpelose meisie wat deur ’n “groot sterk man” gered moet word nie. Sy kan op haar eie bene staan, skrik nie vir gevaar nie en deel net soveel houe uit as wat na haar kant toe kom. Emma le Roux is ’n karakter waarna vroue van alle ouderdomme kan opsien; ’n sterk vrou wat haar man kan staan en vir niemand hoef terug te staan nie.

Jagveld se draaiboek is dan ook uit die pen van die internasionaal-bekende skrywer, en meester van hierdie genre, Deon Meyer, wat gesorg het dat die teks en storie van wêreldgehalte is. 

 

Kortliks die verhaal:

Emma le Roux is op pad huis toe – na die familieplaas in die Groot Karoo. Mooi, sagte Emma, die pasifis en laerskool-onderwyseres. Sy het hierdie pad al ’n duisend keer gery, sonder enige voorval.
Maar nie vandag nie. Want vandag gaan haar paaie met Bosman en Baz en Jay s’n kruis . En Boela en AJ en Piet s’n.

Bosman, die baasbrein van ’n dwelmsindikaat en ’n psigopaat – is wreed en gewelddadig. Baz en Jay is sy meelopers – moordenaars, monsters. AJ en Boela, die rykmanseuns, is deel van die bende omdat hulle hoop om geloofwaardigheid en vinnige geld in dié wêreld te maak, terwyl Piet, die bangbroek, die swakkeling is wat bykans enigiets vir sy neef Bosman sal doen.

Emma sien hoe dié ses ’n polisieman skiet. En hulle sien dat sy hulle gesien het. Nou jag hulle haar soos ’n dier in die Groot Karoo. Sy is mos ’n maklike prooi waarmee hulle gou- gou sal klaarspeel. Die probleem is egter dat Emma Jacques le Roux se dogter is, en hy het haar alles geleer wat hy weet. En Jacques le Roux was ’n Recce.

Dié jagtog verloop dus nie volgens plan nie. Dinge begin uitmekaar val – teen ’n ontstellende spoed. Aanvanklik dryf haat en wraak die bende, maar skielik word oorlewing hulle dryfkrag.

 

Deon Meyer se Jagveld : Draaiboekbundel bekendgestel. 

Die skrywer Deon Meyer se bundel Jagveld, ʼn versameling rolprentdraaiboeke, word op 18 Maart saam met die gelyknamige rolprent bekendgestel.

Noem die naam Deon Meyer, en jy dink dadelik aan lekkerlees misdaadfiksie. En met reg ook, want Deon is nie net die topverkoper in Afrikaans nie, maar ook die enigste Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) skrywer wat groot internasionale sukses behaal het. Sy boeke is in 28 tale vertaal – selfs in Russies, Japannees en Mandaryns – en in die VSA, Europa en die Skandinawiese lande is die naam Deon Meyer reeds ʼn bekende handelsmerk. Plaaslik spog hy met drukoplae van tot 50 000 eksemplare per boek, ʼn rariteit in die Suid-Afrikaanse boekbedryf waar daar maar gemiddeld 2 000 tot 3 000 eksemplare van enige titel gedruk word – mits die skrywer bekend genoeg of die tema interessant genoeg is.

Deon wou van kleinsaf ʼn skrywer word, en het in ʼn vorige onderhoud met my vertel dat hy die presiese dag kan onthou toe hy dit besef het. “Ek was seker so tien, dalk elf jaar oud, en het met my stapeltjie boeke op die muurtjie voor die Klerksdorpse biblioteek sit en wag vir my ma toe ek net weet: ek wil ook eendag mense vermaak met my stories.” Iewers in sy vroeë tienerjare het hy toe ʼn “boek” geskryf, en sy broers omgekoop om dit te lees. Maar, skerts hy, hulle was nie juis beïndruk nie.

Sy pad met woorde het begin as joernalis by Die Volksblad. Voordat hy in 2009 voltyds begin skryf het, was hy onder meer mediaskakelbeampte vir die UV en kopieskrywer en skeppende hoof by Sanlam se reklame-afdeling. Daarna was hy ook ʼn internet-strateeg en handelsmerk-konsultant vir BMW. Deon het ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns van die Universiteit Stellenbosch.

In sy vroeë dertigs het hy vir die eerste keer sy hand aan fiksie in die vorm van tydskrifkortverhale gewaag. Vir hom is dit steeds die beste manier om ontwikkelende skryfvaardighede te slyp. “Dit leer jou baie van struktuur, en jy moet in ʼn beperkte ruimte jou karakters en storielyn ontwikkel.”

Sy eerste Afrikaanse roman (Wie met vuur speel) het in 1994 verskyn. Dis die enigste een van sy boeke wat nie vertaal is nie, en daaroor is Deon baie reguit. “Dit was eenvoudig nie goed genoeg nie, maar was ʼn wonderlike leerkurwe.”

Daarna het verskeie topverkoper misdaadromans gevolg: Feniks, Orion, Proteus, Onsigbaar, Infanta, 13 Uur, 7 Dae, Kobra, Ikarus en Spoor. Almal is in Engels en verskeie ander tale vertaal. Tussendeur was daar ook twee kortverhaalbundels (Bottervisse in die Jêm en Karoonag en ander verhale).

Drie van Deon se kortverhale is omskep in films, en hy het die draaiboeke vir Jakhalsdans, Die Ballade van Robbie de Wee en Die Laaste Tango, waarvan hy ook die regisseur was, self geskryf. Hy het ook die draaiboek geskryf vir die TV-reekse Orion (gebaseer op sy gelyknamige roman) en Transito.

Verlede jaar het hy vriend en vyand verras met Koors, die eerste post-apokaliptiese roman in Afrikaans. Ook dié roman, wat handel oor die enigste oorlewendes van ʼn landswye griepepidemie se stryd om oorlewing in ʼn wêreld sonder elektrisiteit, geld en infrastruktuur, word binnekort in Engels uitgereik. Internasionale uitgewers staan waarskynlik reeds tou om die regte daarvoor in hul eie tale te koop.

Die bundel Jagveld bevat bg. drie filmdraaiboeke, asook ʼn splinternuwe een met die titel Jagveld. Dié rolprent word later vandeesweek saam met die boek bekendgestel, en word deur resensente beskryf as ʼn “regte skop, skiet en donder aksieverhaal”.

Jagveld word uitgegee deur Human en Rousseau en kos R260.

Lees hier oor die boek. 

Lees hier hoe gesels Deon Meyer en die akteur Neels van Jaarsveld by vanjaar se US Woordfees oor Jagveld.

Kyk hier na 'n video oor die boek.