Krotoa - vanaf 4 Augustus

03 Augustus 2017

➢ Vanaf 4 Augustus 2017 ... 

Tot onlangs het min mense geweet van Krotoa (of Eva soos die Hollanders haar genoem het) se bestaan. Intussen was sy ’n karakter in Dan Sleigh se roman Eilande en is daar nou ook ’n rolprent oor hierdie Khoi-vrou wat Jan van Riebeeck se kinders opgepas het, gemaak. Uiteindelik neem die wêreld kennis van hierdie merkwaardige en intelligente vrou van die Goringhaicona-stam (die Strandlopers) wat nie net Nederlands nie, maar ook Engels en Portugees kon praat. Omdat sy Nederlands so goed magtig was, het sy as tolk tussen die Nederlanders en die koloniste opgetree.

Kortliks die storie

Die rolprent is geskoei op ware historiese feite en vertel die verhaal van die vurige Khoimeisie, Krotoa, wat op 11-jarige ouderdom van haar familie weggeneem is om kinderoppasser in Jan van Riebeeck (haar oom se handelsvennoot) se huis te word. Daar raak sy uiteindelik ’n visionêre jong vrou wat so verweef raak met die Nederlandse taal en kultuur dat sy uiteindelik as invloedryke tolk optree. Deurgaans probeer sy om die twee uiteenlopende wêrelde - die een waaruit sy kom en die Hollandse kultuur - met mekaar te versoen. Uiteindelik word sy deur haar eie mense verwerp en as verraaier bestempel en deur die Nederlanders vernietig.


Foto's: imdb.com en Numetro.co.za

Die fliek was tot dusvêr ’n treffer by internasionale filmfeeste en het reeds agt toekennings ontvang:

  • ’n Toekenning van Uitnemendheid by die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie
  • ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die Depth Of Field International Film Festival
  • ’n Platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings
  • ’n Diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Filmmakers
  • ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die IndieFEST-filmtoekennings
  • ’n Toekenning van Uitnemendheid met spesiale vermelding vir vroulike filmmakers by die Accolade Global Filmkompetisie
  • ’n Wêreld-platinumtoekenning by die World Woman-toekennings
  • ’n Toekenning vir Beste Film by die Harlem Internasionale Rolprentfees in New York.

Die rolprent spog ook reeds met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste en gaan ook deel wees van die Female Eye-fees, wat fokus op vroulike filmmakers en stories oor vroue.

Die draaiboekskrywers is Margaret Goldsmid en Kaye Williams en die regisseur en vervaardiger is Roberta Durrant. Die rolle van Krotoa en Jan van Riebeeck word onderskeidelik deur Crystal Donna Roberts en Armand Aucamp (een van Afrikaans.com se Ambassadeurs vertolk. Ander bekende akteurs in die rolprent is Jacques Bessenger, Deon Lotz en Roeline Daneel.

Kyk hier na die amptelike lokprent: 

Meer oor Krotoa

Krotoa en die Deense medikus Pieter van Meerhof was getroud. Hulle het drie kinders gehad. Die oudste, Pieternella (Dalene Matthee vertel haar verhaal in haar boek, Pieternella van die Kaap) is die stammoeder van verskeie Afrikaanse, gemengde ras en selfs swart families. Nadat Pieter op Madagaskar oorlede is, het die jong weduwee, Krotoa, se lewe vereensaam en bly sy ook sonder ’n sent agter. Sy word beskuldig van dronkenskap, prostitusie en kinderverwaarlosing en eindig uiteindelik in die kerkers van die nuwe Kasteel op. Haar kinders word in pleegsorg geplaas en sy word na Robbeneiland verban waar sy op 32 jaar oorlede is. Sy is in die Kasteel begrawe.

 *Talle eerstes vir Krotoa

  • Sy was die eerste Khoi-Khoin wat met ’n Europeër getroud is.
  • Sy was die eerste jong Khoimeisie wat in ’n Europese gesin aangestel is as kinderoppasser en om met huistake te help.
  • Sy was die eerste vrou wat as tolk tussen die Hollanders en Khoi aan die Kaap gebruik is.
  • Sy was die eerste Khoi-Khoin wat in die Hollandse Gereformeerde Kerk gedoop is en ’n Christelike begrafnis in die Kasteel gekry het.

*Bron: rooi rose – Augustus 2017
Lees die volledige mediaverklaring op LitNET.