Ons top 5 vir 2017: Afrikaanse flieks

21 November 2017

Met 2017 wat vinnig besig is om einde se kant toe te snel, is dit tyd om terug te kyk na alles wat lekker was van Afrikaans in 2017. Vir die volgende paar weke gaan Afrikaans.com ons vyf gunstelinge van alles Afrikaans lys. Ons skop die week af met ons gunsteling- Afrikaanse flieks vanjaar.

Hoogtepunte sovêr ...

In 2017 is Afrikaanse fliekvlooie behoorlik bederf met die Afrikaanse filmbedryf wat verder uitbrei aan die verskillende genres wat aan kykers gebied word. Die dae van ‘al-wat-jy-in-Afrikaans-kan-kyk-is-slapstick-komedie’ is gelukkig verby en in 2017 kon kykers hul verlekker in meer ernstige dramas (selfs ’n historiese drama), die eerste Afrikaanse aksiefliek, jeugflieks en ook komedies. Omdat dit klaar moeilik genoeg is om slegs vyf flieks uit te sonder, is ons onderstaande lysie in alfabetiese volgorde.

1. Jagveld

Jagveld is die eerste Afrikaanse aksiefliek uit die pen van Deon Meyer. Met Leandie du Randt Bosch in die hoofrol laat die fliek, wat herinner aan ’n Quentin Tarantino- fliek, kykers behoorlik op die punte van hul stoele sit.

2. Krotoa

Die fliek vertel die tragiese verhaal van die Khoi-vrou Krotoa (of Eva) en is die eerste historiese drama wat in Afrikaans verfilm is. Die fliek het verskeie internasionale toekennings ontvang en is hoog aangeslaan deur kykers en kritici.

3. Die Rebellie van Lafras Verwey

Die tragi-komedie is gegrond op die bekende radiodrama en verhoogstuk uit die pen van Chris Barnard en vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n verlore siel wat in sy eie wêreld leef. Met Tobie Cronje in die hoofrol en Katinka Heyns as vervaardiger.

4. Nul is nie niks nie

Die lag-met-’n-traan fliek is ’n storie oor die lewe en dood en alles tussenin. Dit vertel die verhaal van drie vriende wat hul vriend se laaste wens wil bewaarheid.

5. Vaselinetjie

Vaselinetjie is gegrond op die roman van Anoeschka von Meck en vertel die verhaal van Helena ‘Vaselinetjie’ Bosman en hoe sy in die weeshuis in Johannesburg beland. Die drama fokus op die soeke na identiteit en behandel ook die moeilike tema van ras binne die raamwerk van die nuwe Suid-Afrika.


Ons wil ook graag eervolle vermelding gee aan:

6. Johnny is nie dood nie


7. Hoender met die rooi skoene

Om na uit te sien ...

Hierdie twee flieks het net-net die 2017-afsnypunt gemis en was net te laat vir ons lysie: Vuil Wasgoed en Liewe Kersfeesvader, maar dit gee ons iets om na uit te sien ...

Liewe Kersfeesvader begin Vrydag, 17 November, draai en vertel die verhaal van ’n tiener- skoonheidskoningin wat tot kits volwassenheid gedryf word wanneer haar pa ’n nuwe identiteit aanneem: Kersfeesvader. Met ’n kranksinnige pa, ’n vatbare jonger boetie en ’n splinternuwe romanse, moet Nonnie haar idees van familie, liefde en volwassenheid herevalueer. Met onder meer Milla Guy, Morné Visser, Milan Murray, Dean Smith, Eloff Snyman en June van Merch. Die fliek is landwyd in rolprentteaters te sien.


Vuil Wasgoed
is nog ’n opwindende swart komedie waarna kykers in Desember kan uitsien. Wim en Kevin werk by droogskoonmakers. In die dag is alles vervelig, maar wanneer die son sak, hou hul partytjie in hul kliënte se klere. Tydens so partytjie ontdek hul ’n afgekapte vinger in die sak van ’n kliënt se baadjiepak. Die vinger veroorsaak natuurlik groot drama. Met Bennie Fourie en Bouwer Bosch. Vuil Wasgoed is vanaf Vrydag, 8 Desember, in rolprentteaters landwyd te sien.

Lees ook ...
Afrikaans is #onmisbaar: Die Afrikaanse filmbedryf skep werk en welvaart.