Vir die Voëls

22 November 2016

Vir die Voëls 

➢ Vanaf 25 November ...

Vir die Voëls is gebaseer op die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was sy vasbeslote dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag. Vir die Voëls speel in die laatsewentigs af en is propvol liefde, lag en trane. Die film is gedurende Mei en Junie 2016 in Johannesburg, Krugersdorp, Kragbron, Hartebeespoort en Bela Bela geskiet. Huisgenoot se redakteur Henriëtte Loubser en haar span het dit geniet om te sien hoe ’n fliek aanmekaargesit word – die draaiboekontwikkeling, besonderhede oor kostuums, dekor, kamerawerk, kleure, musiek asook die redigering daarvan.Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig en die rolverdeling sluit in Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Elize Cawood, Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom, Bennie Fourie, Lara Kinnear, Leandry Smith, Liam Bosman, Candice Kruger, Drikus Volschenk en Edrien Erasmus. Die rolprent word op 25 November 2016 uitgereik en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Pieter Cloete het gesels met die akteurs

 

Storie agter die storie ...

As deel van Huisgenoot se eeufeesviering het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama Vir die Voëls vervaardig. Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, vertel hoe dié reis begin het: “Toe ons twee jaar gelede begin dink aan maniere om Huisgenoot se 100ste verjaardag te vier, het ons besluit dit sal lekker wees om ’n romantiese fliek te maak. Dit was ’n logiese keuse om kykNET Films, dié kenners van Afrikaanse rolprente, te betrek. Daarna is voorgestel ons hou ’n wedstryd waarin ons lesers vra om hul eie, ware liefdesverhale in te stuur. Die wenverhaal sou as inspirasie vir die draaiboek dien. Irma de Klerk van Newcastle se vertelling van haar en haar man, Sampie, se hobbelrige liefdespad tot by die kansel het gewen. 

Laai in PDF formaat af