Daar is meer as ’n miljoen woorde in Afrikaans.

21 September 2017

 “Hoeveel woorde is daar in Afrikaans? Soveel woorde soos die sterre aan die hemel ...In Afrikaans kan ons – in beginsel – samestellings op samestellings bou: tiekiedraai, tiekiedraaikoningin, tiekiedraaikoninginsmedalje, tiekiedraaikoninginsmedaljevervaardiger . . .” – Gerhard van Huyssteen

“Woordeboeklikhede”

Afrikaans is in die gelukkige posisie dat daar heelwat vertalende en verklarende woordeboeke daarin bestaan, en dat daar ook ‘n publikasie soos die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) bestaan. Van die bekendste verklarende woordeboeke in Afrikaans is die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

  • Reeds in 1985 was daar ‘n rekenaarwoordeboek en deesdae is daar ‘n kuberwoordeboek met talle nuutskeppinge, soos sleutelprop (dongle), kammalopie (dry run) en blêrkas (jukebox).
  • Die eerste Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) het in 1965 verskyn en was bekend as die Verklarende Handwoordeboek van Afrikaanse Taal. Die naam is later verander na die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.
  • Die HAT is amper 9 cm dik en bestaan uit 1 636 bladsye.
  • Die HAT bevat 2,1 miljoen woorde, d.i. 90 000 woorde, idiome en uitdrukkings; 120 000 betekenisse; 80 000 voorbeeldsinne en -frases; 10 000 etimologieë; 3 000 afkortings.
  • Sedert Augustus 2015 is die HAT ook aanlyn beskikbaar. Intekenaars kry ook toegang tot die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, die Longman-HAT Engels-Afrikaans/Afrikaans-Engelse Skoolwoordeboek en die HAT Taalgids en HAT Feitegids.
  • Die WAT-projek is in 1926 begin. Die opdrag? Om binne drie jaar ’n eentalige, verklarende woordeboek daar te stel.
  • Die WAT beslaan tans uit 14 volumes: van A tot by SKOOI.
  • Daar sal uiteindelik drie volumes van “S” wees – elkeen ongeveer 600 tot 7—bladsye.
  • Daar is ongeveer 210 000 woorde en uitdrukkings in die WAT.
  • Die WAT is nie slegs ’n woordeboek vir sogenaamde Standaardafrikaans nie, maar bevat woordeskat uit geskrewe en gesproke taal, asook uit Afrikaans se verskillende variante.
  • Tans is die WAT op die internet toeganklik vir 300 000 studente aan Suid-Afrikaanse universiteite en word dit as elektroniese hulpmiddel gebruik in die onderrig van Afrikaans op skool. Die WAT lewer ook daagliks ’n gratis telefoniese taaldiens.
  • Die WAT span met die Virtuele Instituur vir Afrikaans (VivA) saam om taalvrae te beantwoord. Gaan kyk hier
  • VivA Woordeboekportaal-app is vir Android en iOS ontwikkel en is gratis beskikbaar vir slimfone en tablette. Hier kan jy vertalings, woordbetekenisse en sinonieme maklik naslaan.
  • PharosAanlyn is ‘n aanlyn woordeboekportaal met algemene, vak- en tegniese woordeboeke en is ‘n omvattende naslaanbron vir enigiemand wat doeltreffend wil kommunikeer in Afrikaans, Engels en ander tale.
  • Vir ‘n lys van gedrukte, *Afrikaans-vreemdtalige woordeboeke, kyk hier. Tale wat gedek word, is o.a. Frans, Duits, Fanakalo, Japannees en Grieks.
  • Vir ‘n lys van *Afrikaanse vakwoordeboeke en terminologielyste, kyk hier. Daar is lyste te kies en te keur, en kry jy woordeboeke en lyste oor onderwerpe wat strek van beton, blommerangskikking, finansies tot die landbou en medies.
  • Op Wikipedia word die langste woord in Afrikaans (volgens die TOTAL Book of SA Records) aangegee as: Hottentottensoldatetentoonstellingstoegangskaartjieknipapparaatbedieningsmeganismehersteller (98 letters).

*Vind uit hoe bereken word hoeveel woorde daar in Afrikaans is. Klik hier.

Streektaal en variante verryk Standaardafrikaans

Praat ... skryf ... spel JOU Afrikaans ... “ Standaardafrikaans (soos in woordeboeke vervat) is vriendelik en behoort aan elkeen wat die taal praat. Standaardafrikaans is nie ‘n dialek nie ... dis ‘n ding wat gemaak word deur sy sprekers. Dit is ‘n vriendelike kommissie wat Standaardafrikaans maak. Hulle kan hom maak soos sy sprekers wil hê dit moet lyk ... maar ons moet die ding doen. Ons moet hulle rede gee om dit anders te maak.” – Prof. Christo van Rensburg.

Die murg van Afrikaans is te vinde in sy variante, dialekte en streektaal waarin die warmte van Afrika en Asië gedy. Die taalskatte wat ons koester, vind oorsprong in hierdie ryk en diverse geskiedenis en deur hierdie geskiedenis te ontsluit, is rolspelers besig om nuwe deelname en meelewing te verseker. Die dikwels gemarginaliseerde en verwaarloosde Afrikaanse dialekvorme en die vooruitsig op die opname daarvan in die uitstalvensters van die taal is van die grootste belang. Vandaar die beroep op variantsprekers om hul woorde neer te skryf sodat dit opgeneem kan word in Afrikaanse woordeboeke.

Die verskuiwing en groei in die opvattinge oor Afrikaans hou diep verband met ‘n beter begrip van die herkoms van die taal.

Praat ... skryf ... spel JOU Afrikaans ... Afrikaans is ’n familie van dialekte. Die Afrikaanse spreektaal lyk anders as Standaardafrikaans. Daarom moet ons sovêr moontlik rekening hou met die tekens van al sy verskillende variante.

Varsgebek – neem deel!

Afrikaanssprekendes skep voortdurend nuwe sêgoed: woorde, terme, uitdrukkings, idiome, vergelykings, maar dit word nie altyd in woordeboeke opgeteken nie. Varsgebek wil ʼn geleentheid skep waar daardie sêgoed voorgestel word vir opname. Wie weet, dalk verskyn jou woord eersdaags in ʼn woordeboek soos die HAT, WAT of AWS!

Registreer by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVA) en neem deel aan die Varsgebek-kompetisie. Deelnemers kan met nuutskeppinge WEN. Registrasie duur ‘n paar sekondes en dit is gratis. Besoek varsgebek.org en volg die instruksies. Deelnemers kry ook sommer dadelik toegang tot VivA se woordeboeke en gratis taaladviesdiens.

Interessant:

  • Die tweede uitgawe van die Oxford English Dictionary (20 volumes) bevat 171,476 woorde wat huidig gebruik word en 47,156 verouderde woorde. Hierby kom nog ongeveer 9,500 afgeleide woorde wat as sub-inskrywings ingesluit is.

Woordeboeke maak nuwe wêrelde oop

“’n Woordeboek moet wys wat in ’n taal gebeur ... dan verseker ons dat dit nie net ’n deurstop word nie, maar inderdaad deure na nuwe wêrelde oopmaak.” - Rufus Gouws, HAT-redakteur in ’n artikel op Maroela Media, 2015.

Afrikaans is ’n byderwetse taal met unieke uitdrukkings en idiome wat die kultuur en taal van Suid-Afrika weerspieël en verdien beslis sy plek in ’n veeltalige Suid-Afrika. So het vanjaar se ATKV Woordwystoekenning vir woordeboeke bewys. Beoordelaars moes kies tussen Ouma Geelmeid gee N|uu, die Afrikaans-Japannese woordeboek en die Woordeboek van Ruimteterminologie. Ouma Geelmeid gee N|uu, het met die louere weggestap en verduidelik die woorde en begrippe in Afrikaans en Engels – ’n waardevolle bydrae tot veeltaligheid.

Bronne en skakels:

Dr. FJ Lombard (eindredakteur, WAT)
Maroela Media se artikel oor die HAT6
Kies Afrikaans op Maroela Media

“Dis my taal” –  deur Hilandi du Toit saam met kletsrymer Linkris (spesiaal geskryf vir die HAT6-projek)
Artikel: Woordeboeke by die dosyne op Sarie.com
Lees ook meer oor die HAT en WAT hier
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA)
Woordeboek vir jou selfoon – VivA-app

Lees ook ...

””
””