Die Afrikaanse filmbedryf skep werk en welvaart

21 September 2017

"Entrepreneurskap en die rol wat drome in kombinasie met harde werk speel, is die somtotaal van die towerkrag van die Afrikaanse filmbedryf." - Donnalee Roberts en Ivan Botha (akteurs en rolprentmakers)

Die Afrikaanse rolprentbedryf het vanaf 2008 ongekende groei getoon en het tussen 2008 en 2012 R8 miljard tot die ekonomie bygedra.

  • Tussen 1994 en 2007 is daar slegs tien Afrikaanse flieks vrygestel.
  • In die jare 1995, 1996, 1998, 1999, 2001, 2002 en 2005 is daar geen nuwe Afrikaanse flieks in Suid-Afrika vrygestel nie.
  • Vanaf 2008 tot 2016 is daar 84 Afrikaanse rolprente uitgereik.

Sedertdien domineer Afrikaanse films steeds wat betref enige plaaslike vervaardigde rolprente en volgens die 2016 Nasionale Film en Video Stigting (NFVF), ‘n agentskap van die Departement Kuns en Kultuur, word dit keer op keer bewys dat Afrikaanse films ‘n stewige nismark is met lojale ondersteuners wat konsekwent groei. Rene en Corné van Rooyen, vervaardigers van vanjaar se Silwerskermfeeswenner, Vaselinetjie, skryf die sukses van Afrikaanse films toe aan hul skeppingsvernuf in hul moedertaal. Dit is hoe jy die hart en siel van ‘n storie vasvat ... mense soek unieke stories wat met integriteit vertel word ...

Luister hier hoe gesels hulle oor hul sukses:

Feite

  • Volgens die nuutste industrieverslag van die NFVF is daar vanjaar ‘n totaal van 10 plaaslike films vervaardig, waarvan 6 Afrikaans is.
  • In dieselfde tydperk verlede jaar is ‘n totaal van 13 plaaslike films vervaardig, waarvan 9 in Afrikaans was.
  • Vanjaar het die plaaslike films sowat R30 miljoen by die loket verdien in vergelyking met verlede jaar se R43,9 miljoen.

Hoewel die eerste helfte van 2017 se inkomste heelwat laer as 2016 s’n is, word voorspel dat die tweede helfte van die jaar heelwat meer rooskleurig lyk met films soos Vuil Wasgoed, Vaselinetjie, Krotoa, Nul is nie Niks nie, Liewe Kersfeesvader en Raaiselkind waarvan syfers eers aan die einde van die jaar beskikbaar gestel word.

Groot verdieners

2016

  • Vir Altyd (aksie/misdaad) breek rekords en verdien meer as R15 miljoen.
  • Vir die Voëls (romantiese drama) verdien meer as R8 miljoen.
  • Paw Paw vir my Darling, Noem my Skollie, Dis Koue Kos Skat, Jou Romeo, Sy Klink Soos Lente en Modder en Bloed verdien gesamentlik meer as R18 miljoen.

Huidige stand van sake

Op die oomblik word films hoofsaaklik befonds, meestal slegs gedeeltelike bydraes, deur die Industrial Development Corporation (IDC), die Departement van Nywerheid en Ontwikkeling (The Department Of Trade And Industry, DTI) en die Nasionale Film en Video Stigting (South African Film and Video Foundation, NFVF).

Die NFVF is ‘n organisasie wat deur die regering saamgestel is om die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse film- en videobedryf binne ‘n post-apartheidsmilieu te ontwikkel. Hierdie organisasie is die primêre skakel tussen die staat en die gemeenskap en staan sentraal in die koördinering en bevordering van die rolprent- en televisiebedryf.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van AgriSA sê taal speel ‘n groot rol in die skep van werk en welvaart.

“Dalk is produktiwiteit en kreatiwiteit in en deur ons inheemse tale die antwoord op Suid-Afrika se lae groeikoers en die velerlei ekonomiese uitdagings wat ons in die gesig staar.” - Christo van der Rheede

Van der Rheede sê werk en welvaart word geskep deur die vraag na, produksie en ekonomiese waarde van taal- en taalverwante kommoditeite wat verskeie kulturele sektore na die mark bring. Hierdie sektore dien ook as broeikas vir kreatiewe en nuwe idees wat neerslag vind in die kennisekonomie. Volgens hom vereis hierdie prestasie egter hoë vlakke van kennis, kreatiwiteit, oorspronklikheid en vaardighede.

“Meer nog verg dit omvattende investering deur die staat, optimale funksionering van staatsinstellings verantwoordelik vir beleid van toepassing op die kultuurbedryf en ’n ingeligte amptenary wat die potensiaal vir werk en welvaart deur taal en die kunste verstaan.”

Dié potensiaal word duidelik uitgelig in die visie en missie van die nasionale departement van kuns en kultuur. Die visie beklemtoon die belangrikheid van die kulturele bedryf ten opsigte van volhoubare ekonomiese ontwikkeling, terwyl die missie werkskepping ten doel het. ’n Baie ambisieuse teiken van 150 000 werksgeleenthede in die kultuurbedryf word ook deur die departement van kuns en kultuur in die vooruitsig gestel. Volgens hom word daar egter nie veel in taal, die vernaamste boublok van die kultuurbedryf, geïnvesteer nie.

Nog ’n rolspeler wat die potensiaal vir werk en welvaart deur taal en die kunste verstaan, is die departement van handel en nywerheid.

Van die stappe wat reeds deur dié departement gedoen is, behels navorsing in samewerking met die Wêreld- Intellektuele Eiendomsregorganisasie (Wipo) en die subsidiëring van die rolprent- en televisie-, musiek- en kunsvlytbedryf deur die nywerheidsbeleidsaksieplan (Ipap). Lees die volledige artikel hier.

Die Silwerskermfees

“Nes daar in sport vir ‘diepte’ in spanne gesorg word deur hoë-standaard opleidingsgeleenthede aan die opkomende talent van die volgende generasie aan te bied, so bied Silwerskerm die geleentheid aan opkomende talent in die filmbedryf aan – vervaardigers, skrywers, regisseurs en produksiespanne – om hulle vaardighede te slyp ter voorbereiding vir groter, professionele projekte daarna. Dit is vir my ‘n besonderse plesier om as skryfmentor by Silwerskerm betrokke te wees. Dit is my diepste oortuiging dat hierdie projek in die jare vorentoe ‘n wesenlike impak op die standaard van Suid-Afrikaanse film sal hê.” - Deon Opperman

Vanjaar se sewende Silwerskermfees het weer ‘n unieke geleentheid gebied vir draaiboekskrywers en vervaardigers en was die plek waar kreatiwiteit op die grootskerm gevier is. Die program was propvol met 65 films en is daar weer ‘n keur van kortfilms, kort-kortfilms en vollengte films aangebied wat groot trots in plaaslike kwaliteit films en ons Suid-Afrikaanse stories kon skep.

Lees meer ...

Silwerskermfees 2017 – ‘n Fees van films
Silwerskermfees 2017 – ’n Goeie einde
Afrikaans.com - Fliekvlooi
Bioskoop
Vind ‘n argief van Afrikaanse films sedert 1916 hier.
Taalgenoot Somer 2017 – Die grootste Afrikaanse fliek (’n opiniestuk) 

Internasionale erkenning vir plaaslike films

  • •Die film, KROTOA, doen beslis haar indrukwekkende naamgenoot gestand en het uit die staanspoor die harte van kykers en kritici, regoor die wêreld, verower. Dit gebeur selde dat ’n rolprent soveel trefkrag het dat dit, selfs voor die bekendstelling aan die Suid-Afrikaanse publiek, kan spog met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste, soos die Internasionale Rolprentfees vir Omgewing, Gesondheid en Kultuur, Wêreld-filmtoekennings, Artemis Vroue-in-aksie-filmfees en die Nashville-rolprentfees; asook sewe gesogte toekennings, waaronder ’n Toekenning van Uitnemendheid by Die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie, ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die Depth Of Field International Film Festival, ’n Platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings, ’n Diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Filmmakers, ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by The IndieFEST-filmtoekennings, ’n Toekenning van Uitnemendheid met spesiale vermelding vir Vroulike filmmakers by die Accolade Global Film-kompetisie en ’n Wêreld-platinumtoekenning by die World Woman-toekennings.
  • Veelbekroonde plaaslike filmmaker Sallas de Jager se periode-drama Free State het nog ’n internasionale toekenning ingepalm – hierdie keer vir Beste Kinematografie vir Tom Marais by die Garden State Film Festival in New York. Sallas de Jager het ook die toekenning vir Beste Regisseur vir hierdie film by die Luxor African Film Festival gewen.
  • Tussen Hoop en As is onder meer bekroon as die beste buitelandse fliek. André Samuels is as die beste akteur aangewys vir sy rol as Jan en die beste aktrise was Charlene Truter vir haar uitstekende rolspel as Petra by die American Christian Festival.
  • Maar daar is ook geleenthede waar ander talentvolle kunstenaars bekroon word, mense sonder wie daar in die eerste plek nooit ʼn fliek sou wees nie: die kameraman, die rolprentfotograaf (cinematographer), die skrywer. Adam Bentel, ʼn Suid-Afrikaanse rolprentfotograaf wat al op TV-reekse soos Donkerland en Bloedbroers en die fliek Sy Klink Soos Lente gewerk het, is vanjaar vir die gesogte internasionale Camerimage Golden Frog-toekenning benoem vir sy werk in die rolprent Modder en Bloed.
  • The Endless River is die derde film van die SA regisseur Oliver Hermanus. Dié film het golwe gemaak toe dit die eerste SA rolprent in 72 jaar geword het wat vir die Venesiese topfilmtoekenning, ’n Goue Leeu, benoem is. Oliver, wat ook vir die draaiboek van dié film verantwoordelik is, is die eerste SA regisseur wat by hierdie roemryke kompetisie ingesluit is.
  • Skoonheid, het die toekenning vir beste gay-film in Cannes ontvang.

Lees ook ...

””
””