Ons het 'geteta’ (gepraat) - Die ekonomiese waarde van Afrikaans

28 Oktober 2017

 “Om ’n passie vir Afrikaans te hê is geensins ’n teruggryp na die verlede nie ... daar is baie lesse uit die verlede te leer oor hoe Afrikaans mense bemagtig het. Vandag kan Afrikaans ook na ander Afrikatale uitreik om hulle te bemagtig.” Dr. Christa Van Louw.

Die ekonomiese waarde van Afrikaans

Tydens ‘n gesprek oor die ekonomiese waarde van Afrikaans op 14 Oktober, was die rand-en-sentwaarde van Afrikaans op die tafel. Dit is duidelik, Afrikaans staan op stewige monitêre bene. Daaroor is geen twyfel nie ... maar die werklike knelpunte was gou onder die loep en die gesprek het vinnig toekomsgerig gedraai.

Dit is deel van ‘n reeks seminare oor Afrikaans wat Afrikaanse mense wil help om hulself deur middel van Afrikaans te bemagtig. Dit is deur die Afrikaanse Taalraad, Afrikaans.com en die Taalmuseum en -monument aangebied.

Tessa Louw het die gesprek bygewoon. Sy skryf: “Die fondasie vir sukses is reeds gelê, maar uit die gesprekke blyk dit duidelik, die tyd het aangebreek om op kreatiewe wyses voort te bou op die ekonomiese waarde van Afrikaans en om ekonomiese vooruitsigte verder te verbreed.”

Die fokuspunte van die gesprek:

  • Wat is die geldwaarde van Afrikaans?
  • Hoe skep Afrikaans vir my en my kinders toegang tot kwaliteitopvoeding?
  • Hoekom het tweetaliges meer werksgeleenthede as enkeltaliges?
  • Hoekom het meertalige Afrikaanse kinders ook beter internasionale vooruitsigte?
  • Wat is die rand-en-sentwaarde van Afrikaans vir my en my kinders?

Die gehoor

Die gehoor was bymekaar in die Taalmuseum in die hartjie van die Paarl. Dit is die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), maar anders as in 1875, toe net ‘n klein groepie mans hierdie beweging in die huis van Gideon Malherbe in die lewe geroep het, was dié byeenkoms by die Taalmuseum verteenwoordigend van al die land se Afrikaanssprekendes. Die gehoor het uit ewe veel mans en vroue bestaan en het die volle omvang van Afrikaans en sy sprekers ingesluit.

Die paneel

Sakevrou en taalkundige Christa van Louw, Karen Meiring (Direkteur van Afrikaanse kanale by M-Net) en Marius Swart (taalbeplanningskundige by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands) was op die paneel en Jannie Rossouw, bekende ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, was die gespreksleier.

“Die gesprek was nie vreesgedrewe nie, maar wel emosiebelaai. Ons praat diep en reguit vanuit die hart, omdat taal en identiteit bloedbroers is. My oog is my hart, my hart is my tong, my tong is my oor, my oor is die wêreld en die wêreld is waar ek my bevind. Ek kan nooit losstaan van my taal nie.” – Tessa Louw

In ‘n neutedop:

  • Moedertaal moet die basis vorm van meertaligheid. Niks is belangriker as opvoeding nie. Dit is die wegspringplek. Soos dinge tans daar uitsien, is daar te veel sosio-ekonomiese ongelykhede in die klaskamers en word duisende kinders deur ‘n gebrekkige onderwyssisteem benadeel. Hierdie ongelykhede moet dringend aangeroer en reggestel word. Die regering moet tot verantwoording geroep word.
  • Afrikaans het nie ‘n kleur nie. Afrikaans het wel vele tongvalle wat haar interessant, aanloklik en beeldskoon maak. Afrikaans is dinamies; sy groei en vaar die wye wêreld in. Afrikaans bring welvaart as sy vrye teuels gegee word om haarself en die wêreld om haar te ontdek. 
  • Afrikaans is intelligent. Sy weet dat sy sterk langs Engels kan staan. En sy weet ook dat sy ander inheemse tale moet nadertrek om saam met haar langs die Engelse reus te staan. Afrikaans is nou die ouer sussie, soos Christa van Louw dit stel, en die ousus gaan nie haar boeties en sussies agterlaat nie. Nie as sy ‘n verantwoordelike suster is nie.


Michael Jonas

Michael Jonas, direkteur by die ATM, het die verrigtinge afgeskop deur die gehoor, deelnemers en die paneel hartlik te verwelkom en almal uit te nooi om deel te neem aan die interaktiewe gesprek. “Die seminaar het ook ten doel om alle negatiewe narratiewe te weerlê, bv. dat Afrikaans aan die uitsterf is, sodat Afrikaans vorentoe gevat kan word.”
 


Prof. Jannie Rossouw

“Die Goue Driehoek van Vertroue is verbreek – mense glo nie meer in die regering nie, die regering vertrou nie meer die mense nie en mense vertrou mekaar ook nie meer onderling nie.”

Tydens sy inleiding sê prof. Jannie Rossouw dat dit gepas is dat die gesprek in die Paarl plaasvind aangesien die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 ook in die Paarl gestig is. Hy het ‘n emosionele verbintenis met die GRA, omdat sy oupagrootjie, Piet Malherbe, een van die stigterslede was.

  • Afrikaans sou nie gewees het wat dit vandag is as dit nie vir die Anglo-Boere-oorlog was nie. Die Anglo-Boereoorlog het gelei tot die grootste vernietiging van kapitaal van enige volk ter wêreld.
  • Afrikaners is verarm gelaat en dit het tot gevolg gehad dat die land, volk en taal op spesifieke wyses beïnvloed is.
  • Die Helpmekaar Studiefonds word met Afrikanergeld gestig kort na die Rebellie van 1914 en het ten doel gehad om Afrikaanse kinders, waarvan ouers in die skuld gedompel is, toegang tot universiteitsopleiding te gee.
  • Op sakegebied word Nasionale Pers (1915) en Sanlam (1918) in die Wes-Kaap gestig.
  • Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog bring Rembrandt (Anton Rupert) groot welvaart vir baie Afrikaners in Stellenbosch. Dit lei tot grootskaalse mobilisasie van kapitaal vir Afrikaans, hoofsaaklik in die Wes-Kaap.
     

Karen Meiring

“Kunstefeeste wil die taal demonstreer, nie red nie.”


 
Karen gee ‘n kort agtergrond van haar studentedae op Potchefstroom waar sy Drama studeer het (omdat sy wou sing). Sy word later aangestel as verhoogbestuurder by SUKOVS in Bloemfontein. Hierna gaan vryskut sy in Johannesburg en word Cut Glass gestig. Sy vertel dat Afrikaanse mense meer van Cut Glass gehou het as Engelse mense. Sy sien ‘n leemte en begin ‘n agentskap om kunstenaars te help. Pieter Fourie vra dat sy in Oudtshoorn moet kom help. Nadat sy aanvanklik huiwerig was, besluit sy om wel haar suksesvolle agentskap te verruil vir Oudtshoorn. Die KKNK word gebore en sy sou vir 14 jaar betrokke wees by die grootste kunstefees in Suid-Afrika.

“My hele lewe rondom Afrikaans het verander – ons motto was: verryk, vermaak en versoen deur middel van Afrikaans.”

Nadat sy vir ‘n tydperk betrokke was by die Oude Libertas Teater in Stellenbosch, word sy aangestel as Hoof van M-Net se Afrikaanse kanaal, kykNET.

  • Die media het ‘n besonderse krag in die groei van Afrikaans.
  • kykNET is die nommer 1-kanaal op TV en daar is onlangs ook met ‘n tweede kanaal begin.
  • kykNET beeldsaai nou hulle derde Afrikaanse sepie. Met hierdie sepie word daar aan 80 mense permanente werk in die Wes-Kaap verskaf. Dit bring ook besigheid vir die studios in die Kaap. Hulle begin ook ‘n bestuurskool sodat mense bestuurslisensies kan kry en so hulle kanse op werksgeleenthede kan verbeter.
  • Afrikaanse stories inspireer en bring mense bymekaar.
  • Afrikaans moet sigbaar wees. Ons moet stories uit die gemeenskappe gaan haal.
  • Ons uniekheid lê juis in ons diversiteit.
  • Pendoring, as pionier en in pas met die veranderende landskap in Suid-Afrika, het hulle toekennings nou op gelyke voet oopgestel vir alle inheemse tale. Hierdeur word moedertaalreklame geëer en bevorder.
  • Transformasie vind plaas deur intergrasie.

“Ek is ‘n aardsoptimis. Wees soos water – vloei om die klip in jou pad.” - Karen Meiring


Dr. Christa van Louw

“Afrikaans is deel van ‘n diverse meerderheid.”


 
Dr. Christa van Louw (née Hendricks) vertel dat sy van geboorte af Afrikaans is. Sy is in Calvinia, die hart van die Hantam, gebore. Later sou haar ouers Bishop Lavis toe verhuis - die adres, Skyweg 77. Vir haar het die straatadres simboliese betekenis: Reik na die sterre, maar nie ten koste van ander nie en streef na volmaaktheid. Sy beskryf Bishop Lavis as “die mooiste jare”. Omdat sy van Calvinia af kom en anders praat as haar skoolmaats, word sy gespot en “die plaasjapie” genoem. Sy kom op jong ouderdom te staan voor ‘n keuse: gaan sy verander om in te pas of gaan sy trots wees op haar andersheid en dit omarm? Sy besluit om haarself te bly. Omdat sy Afrikaans goed kon beheer en manipuleer kon Christa reeds as jong kind gesaghebbend met die skoolhoof praat.

Later sou haar ouers gedwing word om Vanguard Estate toe te verhuis, omdat Bishop Lavis uitgesit is vir die armstes. Dis hier in Vanguard waar sy vir die eerste keer bewus sou word van klasverskille. Wanneer die straatligte saans aangeskakel is, het die kinders opgehou speel, want dan was dit tyd om te gaan bad. In Bishop Lavis was daar nie straatligte nie en ook nie baddens nie. Dit het Christa ook opgeval dat Afrikaanse kinders beter op skool vaar as Engelse kinders.

In 1994 verwerf Christa haar Meestersgraad in Afrikaans: Taalbeplanning vir veeltaliges in SA. Daar moet erkenning gegee word aan verskeidenheid. Sy ondersoek hoe taal aangewend word om mense te bemagtig of te verkneg. Die vraag ontstaan: Hoekom is Afrikaans so bevoorreg?

Na verdere studie in Nederland en met die terugreis, toe die vliegtuig sak om te land en Bishop Lavis onder haar lê, speel haar hele lewe voor haar af. Sy besef dat sy fisies en psigies bo-oor haar mense se koppe vlieg.

“Ek word die eerste vrou van pigment wat ‘n Doktorsgraad in Afrikaans verwerf.”

  • Die waarde van taal lê daarin dat dit jou as mens bemagtig.
  • Die Ilwimi-sentrum vir veeltaligheid by UWK het ten doel om Afrikaans nuut te posisioneer en uit te reilk na ander Afrikatale.
  • Die Suidoosterfees: die winde van verandering waai deur Afrikaans, maak skoon en bring genesing.
  • Dit is krities noodsaaklik dat welvaart verdeel word.
  • Hoekom wil ons weet wat die ekonomiese waarde van Afrikaans is? Want ja of nee, gaan bepalend wees vir die prosesse wat hierna gaan volg en dit gaan bepaal waar ons wil wees en waar ons ons in historiese konteks gaan bevind.
  • Daar is ‘n wisselwerking tussen die dialektiese posisie van taal en die sosio-ekonomiese posisie van haar sprekers.
  • Taal en politieke beplanning loop hand aan hand:
    1. Status-beplanning (wat is die amptelike status van die taal?)
    2. Corpus-beplanning (kry die taal reg om ‘n funksie te vervul?)
  • Afrikaans is gekaap in die proses van Afrikaner Nasionalisme (1948). Oorwinning van Afrikaner Nasionalisme is ‘n oorwinning vir Afrikaans.
  • Afrikaans se ekonomiese waarde is verhef wat toegang tot magstrukture moontlik maak. Die ekonomiese waarde van Afrikaans is bo-aan die puntelys. Daar is geen twyfel dat Afrikaans baie waarde het nie.
  • In die Nuwe SA (1994) het die Afrikaner se ekonomiese mag bly staan, maar verloor hy sy politieke mag.
  • Afrikaans bly ‘n amptelike taal, maar in praktyk word Engels bo die ander landstale verhef. Afrikaans deel haar posisie met ander inheemse tale.
  • Afrikaans is nie ‘n minderheidstaal nie. Afrikaans is deel van ‘n diverse meerderheid.
  • Ander tale is gewoond aan miskenning, maar vir Afrikaans is dit nou ‘n ander storie – ons voel dit aan ons bas.
  • Ons staan voor ‘n geleentheid. Daar is groot uitdagings.
  • Afrikaans se rol is nie paternalisties nie, sy is eerder die ouer sussie, en daarom juis moet Afrikaans uitreik na ander tale.
  • Afrikaans moet die nuwe stem van die diverse meerderheid word.
  • Posisioneer Afrikaans, haar ekonomiese waarde as taal en die mense wat haar praat, tot voordeel van die generasies hierna.
  • Welvaart is in die hande van Afrikaanse mense en ons moet die waarde daarvan bevestig deur middel van ons taal.
  • Neville Alexander het die Garieprivier as metafoor vir ons diversiteit gebruik. Die Garieprivier bestaan uit ‘n klomp klein stroompies wat almal na die hoofstroom lei. Baie van die systroompies het drooggeloop. Diversiteit is ‘n goeie bate en daarom moet ons die systroompies versterk sodat die hoofstroom kragtig kan vloei.
  • Ons moet innoverend kyk na moedertaalonderrig.
  • Die institusionele kultuur van ons land beïnvloed persepsies.
  • Ons moet die bewussyn regstryk en verskeidenheid moet as ‘n bate gesien word.
  • Ondersoek en hanteer wat verkeerd geloop het.
  • Uitdaging: dat Afrikaanssprekendes (en Afrikaanse organisasies) inderdaad werk aan ‘n institusionele kultuur wat diverse meerderheid benut en bewerkstellig.
  • Afrikaans is die enigste taal wat Afrika in haar naam het – A staan vir Afrika.

Marius Swart

“Ons is geneig om te wag dat goed van bo af vir ons gedoen word.”

Marius is ‘n Taalbeplanningsdeskundige en dosent in Vertaling en Afrikaanse linguistiek aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands.

 

As kind het hy op ‘n plaas in die Overberg grootgeword. Sy wortels lê in Bredasdorp. Dit val hom kleintyd reeds op dat Engelse kinders swakker Afrikaans praat as wat Afrikaanse kinders Engels praat en hy wonder waarom dit so is. Hy neem Engels as huistaal op skool.

Van sy pa het hy geleer hoe traumatiese ervarings mense kan verenig.

Marius behaal sy Meestersgraad in 2008: “Vertalings van die Afrikaanse romans in Engels”. Hy vertel dat hy baie by dr. Neville Alexander geleer het toe Neville as nuwe buitengewone professor by die Universiteit Stellenbosch aangestel is. Hy beskryf Neville Alexander as ‘n man wat met sy voete in twee wêrelde gestaan het - taalpolities.

  • Afrikaans is ‘n taal met bepaalde hulpbronne en ‘n bepaalde infrastruktuur.
  • Afrikaans is ‘n komponent van veeltaligheid. Navorsing toon dat veeltalige mense meer suksesvol is.
  • Afrikaans moet her-besit word.
  • Volgens die Grondwet moet alle tale gelyk behandel word, maar in die praktyk lyk dinge anders.
  • Engels is die taal van sosiale aktiwiteit.
  • Daar is sosio-ekonomiese diversiteit in sy klasse – baie arm en baie ryk studente wat voor hom sit. Dis ‘n tragedie.
  • Ons is geneig om te wag dat goed van bo af vir ons gedoen word. Moenie wag dat rade, stigtings of kommissies dinge vir jou doen nie – jy moet self doen.
  • Afrikaans moet hande vat met ander tale om waarde toe te voeg.
  • ‘n Beginsel van eenheid skep die indruk dat te veel mense hoog opgee oor hoe hulle vir Afrikaans baklei.
  • Mense moet mekaar as gelykes ag.
  • Afrikaans word te veel gekaap as ‘n politieke forum.
  • Begin op skoolvlak.
  • Engels is nuttig.
  • Daar bestaan geen rede waarom ons ons Afrikaanse erfenis hoef prys te gee nie.

Kaptein John Cornelius Witbooi

“Elke mens het ‘n sosiale verantwoordelikheid – 'n leë sak kan nie staan nie”.


Kaptein Witbooi het 10 jaar gelede uit die onderwys getree om as stamhoof van die Namastam in Suid-Afrika na sy mense om te sien en om die Namataal en -kultuur te bevorder. Hy woon in Riebeek-Wes, Riebeekvallei.

  • Suid-Afrikaners het meer geleenthede nodig.
  • Die Namataal is een van die oudste tale in die land en deel van Afrikaans.
  • Gebruik Namataal as ‘n geleentheid om Afrikaans te bevorder.
  • Die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika is bruinmense.
  • Elke mens, arm of ryk, het ‘n sosiale verantwoordelikheid - ’n leë sak kan nie staan nie.
  • Dis saliger om te gee as om te ontvang.

Dan Kotze

“Ons moet streetwise wees.”

Dan is ‘n onderwyser en lid van NAFCOC.

  • Daar is ‘n persepsie dat Afrikaans wit geverf is. Dit is natuurlik nie waar nie.
  • Ons het ‘n nasionale taalbeweging nodig sodat ons taal sterker kan wees.
  • Strategie: ons moet “streetwise” wees. Kinders praat Engelse Afrikaans en ons moet dit nie probeer verander en hulle van Afrikaans vervreem nie.
  • Afrikaans het groot ekonomiese waarde wat gesetel is in die wit minderheid.
  • Verengelsing van die sisteem vind plaas om sosiale impak te maak.
     

Dr. Willem Botha

“Daar is altyd hoop, maar ons moet planne maak en wikkel.”

Willem Botha is sedert 2004 Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur van die WAT.

  • Doel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is om Afrikaans in sy wydste omvang te dokumenteer.
  • Die ongewildste instellings is wit en bevoorreg.
  • Die ZAR, onder Paul Kruger, bewillig 100 pond sterling vir ‘n Afrikaanse woordeboek.
  • Dit neem tussen 100 en 150 jaar om ‘n woordeboek te voltooi.
  • Befondsing vir die WAT: 30% van inkomste is afkomstig van die staat en die orige 70% van die kostes moet self gegenereer word.

Dr. Carel Stander

“Afrikaans kort ‘n gemeenskaplike visie en ‘n strategiese plan.”

Carel Stander is lid van die Paarl Sakekamer, Trustee van die Hugenote Gedenkskool, mentor vir entrepreneurs en ondervoorsitter van die Helpmekaar Studiefonds.

  • Daar is ‘n direkte en indirekte ekonomiese waarde van Afrikaans.
  • Hy doen ‘n beroep dat daar navorsing gedoen moet word om te bepaal wat die direkte en indirekte waarde van Afrikaans is.
  • Daar is ernstige behoefte aan koördinasie.
  • Afrikaans is te gefragmenteer, daar is 40 organisasies wat hulle beywer vir Afrikaans.

Dr. Hendrik Theys

“Demonstreer die diverse karakter van Afrikaans en bevorder Afrikaans binne die diversiteit van tale.”

In 1990 behaal Hendrik Theys sy Doktorsgraad in Algemene Taalwetenskap aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland. Hy beskryf homself as ‘n Noord-Kaapse “kliptjint”. Hendrik is ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), ‘n taal onderwyser en ‘n vurige voorstaander vir die bemagtiging en behoud van Afrikaans.

  • Ons onderwysstelsel is in ‘n gemors. Ons sit met ‘n onderwyskrisis.
  • Moedertaalinisiatief moet sterk bemark word.
  • Ons moet ‘n onderwysstelsel hê wat almal bevoordeel.
  • Mense moet praat soos wat hulle praat. Ons moet gemaklik omgaan in ons moedertaal.
  • Maak seker dat alle tale bevorder word.
  • By die ATR gebruik ons ons kundigheid om ander taalgroepe te bemagtig.
  • Taal laat jou toe om jou drome te verwesenlik.
  • Stellenbosch moet oop bly vir die Afrikaanse gemeenskap.

Dr. Pieter Mulder

“Dis verbasend hoe min die Kabinet weet van Afrikaans – dat Afrikaans nie net ‘n wit taal is nie.”

Dr. Pieter Mulder is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus. Hy was vanaf 2009 tot en met 2014 adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye.

  • Nadat hy gesukkel het om befondsing te kry vir die Taalmonument en -museum, het dr. Mulder ‘n groep parlementslede vir ‘n uitstappie na die Taalmonument geneem. Na afloop, was die reaksie dat die Taalmonument ‘n “very honest monument” is. Rede: Die diverse herkoms van Afrikaans word duidelik weergegee en dit is ooglopend dat Afrikaans nie net ‘n wit taal is nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin. Befondsing is toegestaan na die besoek.
  • Stem saam met Christa: Hierdie debat oor Afrikaans vind plaas in Afrikaans en die krag van Afrikaans lê juis daarin dat dit deel is van die diverse meerderheid.
  • Dis belangrik om vertaaldienste in al die tale te kry. Hy het ses jaar lank in die parlement daarvoor baklei. Nou is daar ‘n vertaaldiens, maar dit word nie optimaal gebruik nie.
  • Suid-Afrika is op ‘n mespunt:
    1. vrugteslaai-oplossing (elkeen behou ‘n eie identiteit en karakter)
    2. omelet-oplossing (ons word ‘n mengelmoes)

Dr. Jerome Dumas

  • Afrikaans by US – moedertaalonderrig word nie in praktyk toegepas nie.
  • Studente kry nie klas in hulle moedertaal nie.
  • Dit bring mee dat baie studente uitval.

Marita Burger

Marita is ‘n voormalige superintendent van Opvoedkunde by die Departement van Onderwys en Kultuur.

  • Ons maak onsself met kettings vas; ons trek onsself af.
  • Engels word gesien as die monstertaal.
  • Ons moet kyk na wat ander lande doen om vrees vir die monstertaal te oorkom.
  • Optimiseer Afrikaans.
  • Skep ‘n netwerk om Afrikaans in die buiteland te versterk.
  • Meer as 60% van studente in die buiteland is tweetalig. Meertaligheid is ‘n groot voordeel.

René Arendse

“Kom ons gee vir Afrikaans.”

René is projekbestuurder van Kunstekaap se Uitreikingsprojek, projekbestuurder van Suidoosterfees se Gemeenskapskorekompetisie, bestuur die Brugbou-mentorskapprojek by die SBA en is projekkoördineerder van afrikaans.com se muurkunsprojek by skole in die Wes-Kaap.

  • Ons moet mooi dink - wat laat ons na vir ons kinders?
  • Neem eienaarskap van Afrikaans: van die Afrikaans wat jy praat, van hoe jou taal klink.
  • Moedertaal vorm identiteit.
  • Ons sal entrepreneurs kan skep wanneer ons taal en identiteit kan saamsit.
  • Gebruik Afrikaans.com as ‘n voertuig om ons kinders te bemagtig.

Ria Olivier

“Daar is ongelooflik baie geleenthede, maar ons moet dit deel met die diverse meerderheid – Afrikaans kan nie laer trek nie.”

In 2015 ontvang Ria die Neville Alexander-toekenning vir bevordering van veeltaligheid. Sy is projekbestuurder van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en lid van die SBA. Ria gee haar indrukke en som die gesprekke op.

  • Glo sterk in die waarde van moedertaalonderrig.
  • Afrikaans moet naas en met ander tale staan.
  • ‘n Meertalige moedertaalinisiatief is nodig.
  • Almal het ‘n begeerte dat hulle tale bevorder moet word.
  • VivA: Virtuele Instituut vir Afrikaans (deur Neville Alexander gestig) is ‘n gratis inligtingsportaal met bruikbare en interessante video’s, blogs, skakels en inligting oor lesplanne, kongresse en seminare.
  • Om uit te reik na ander tale is ‘n proses.
  • Hierdie gesprek plaas ons in die rigting waar ons wil wees.
  • Daar is diep verdeeldheid langs sosio-ekonomiese grense.
  • Opgewonde oor hierdie gesprek: ons het geteta (ons het gepraat).
  • Prof. Jannie se inleiding gee historiese konteks aan Afrikaans as ekonomiese waardetoevoeger.
  • Nuwe planne met welvaartskepping is nodig.
  • Dit hoef nie net by praat te bly nie. Ons moet oorgaan tot aksie. Dit moet ‘n doen-ding word.
  • In die proses van praktykmaking moet ons rekening hou met ons erfenis – ons moet kyk na ons ongelyke erfenisse.
  • Taal gee toegang tot mag en dan eers kan daar ekonomiese bemagtiging wees.
  • Omdat Engels die voorkeurtaal is, beteken dit nie jy moet jou eie identiteit prysgee nie.
  • Veeltaligheid (meertaligheid) is ‘n bate, maar vestig eers jou moedertaal.

Aksiestappe: Wat neem ons vorentoe?

  • Sit saam om ‘n tafel as gelykes.
  • Strategiese- en sakebeplanning is nodig.
  • Daar moet ‘n nasionale beweging wees vir Afrikaans.
  • Alle rolspelers en belanghebbendes moet betrokke wees.
  • Hierdie is die eerste gesprek van ‘n wye reeks gesprekke wat gaan volg.
  • Neem die gesprekke ook na die gemeenskappe toe (Kreefgat, Hanoverpark, ens.)
  • Bemagtig Engels deur Afrikaans.
  • Mede-eienaarskap van Afrikaans is uiters belangrik.
  • Die stroompies moet die hoofstroom voed.
  • Die Afrikaanse Taalraad is geregistreer by die Langnaamkommissie (Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Taalgemeenskappe) en kan daarom ook beskryf word as ‘n artikel 185-organisasie.

Fatima Allie

“Afrikaans is ‘n taal wat ons bymekaarbring.”

  • Afrikaans moet na binne en buite saamloop met inheemse tale.
  • Dis nie wat jy sê nie, maar hoe jy dit sê.
  • Nelson Mandela het gesê as jy met iemand in sy moedertaal praat, praat jy na sy hart (en nie sy brein nie).
  • Afri-Kaaps is die taal van die mense.
  • Kyk maar na iemand soos Marc Lottering – hy verdien geld uit Afri-Kaaps. Afrikaans is dus van ekonomiese waarde vir hom.
     

Lees ook ...